‘n Vrou en haar geloof

Hettie Brittz, Facebook

Hettie Brittz, Facebook

Deur Hettie Brittz

Terwyl ek verlede naweek saam met my dogter by ‘n skoenestalletjie staan, hoor ek ewe entoesiastiese vroue om my “oe” en “aaa” oor juwele, handgeverfde sleutelrakkies, skilderytjies, handsakke… en een van hulle vat ons almal se sentiment perfek saam: “Ai, vrouens hou nou maar eenmaal van mooi goed, en klaar!”

Hoe sou “mooi” geloof lyk, wonder ek? Vroulike geloof?

Die afgelope vier jaar is vrouebediening een van my grootste voorregte. Maar dit was ook vier hartseer, ontnugterende jare. Ek het baie “mooi” geloof gesien wat vroue totaal verward en verwilderd gelaat het. Want miskien is ware geloof ‘n morsige besigheid – vol gras en modder en selfs bloed…

Die geloofstierlantyntjies en godsdiensversiering wat my so ontstel, het eintlik maar een gedeelde eienskap: Die kunstige rol wat ons eie begeertes in die mooimaak van ons geloof speel. Ons begeer tog so om te kan weet wat God sal doen, ons begeer om te kan voorspel wat die toekoms hou, ons begeer om te kan beheer hoe die volgende seisoen in ons lewe sal verloop en ons begeer om ons mans, kinders, vriende en familie se gesondheid en veiligheid te kan waarborg.

Diegene met hierdie begeerte vind ongelukkig deesdae by vrouedae en in vrouetydskrifte volop versiersels en reseppies om al die behoeftes hierbo te se vervulling te waarborg. En as ‘n vrou nie waaksaam is en dieper kyk nie, raak sy opgewonde oor die nuutste “how to” van geloof, “print” dit uit, plak dit iewers op, versier dit, Instagram en Facebook dit en voor ons weet, bou ‘n string van ons ons kosbare geloof op iets wat dikwels nie die gewig van die werklikheid kan dra nie.

Ek hoor hierdie soort ontnugterings daarom al te gereeld:

Maar ek het dan my kind gesalf en oor hom uitgeroep dat hy rein sal bly. Hoe kan dit wees dat hy dan rondslaap?

My dogter se naam beteken “vrolikheid” so ek weet verseker sy kan nie depressie hê nie. Ek weier om haar te laat behandel! As haar juffrou net wil ophou om dood oor haar te spreek deur aan te hou vra of sy nie dalk depressief voel nie! Dis die juffrou wat dit veroorsaak.

Ek bid nou al so lank vir nuwe werk en toe sien ek gister by die plek waar ek vir ‘n onderhoud was die nommers 737 op die hek. Dis asof 3, wat vir God se drie-eenheid staan omring was met 7’s wat volmaaktheid beteken. Toe weet ek hierdie werk is vir my. Maar vanoggend het hulle laat weet ek is nie aangestel nie.

Hoe verwarrend is al hierdie dinge nie! Ons word verseker dat ons geloof “mooi” sal word deur hierdie versierings by te voeg – aksies, woorde, olies, simbole. Dit werk nie, en ons beweeg na die volgende stalletjie… Dalk moet ons selfs meer Joods wees en Jesus eerder Jashua noem, want dit werk dalk beter resultate in die hand – ‘n nader verhouding, meer gebedsverhoring, dalk? En soms “werk dit” oënskynlik, en word vir ons ‘n valse hoop! Ons glo nie meer in Jesus nie, maar in ons eie handeling en woorde. Ons beland op ‘n lang ompad, want dit wat vandag werk, werk oor ‘n maand of ‘n jaar nie meer nie. Na baie trane, plons ons voor Jesus se voete neer, want niks anders is ons verlossing nie…

Ek vra my af hoe vroulike geloof in die Bybel gelyk het. Dan kyk ek na Maria wat in die stof sit en net na Jesus kyk en luister, na vroue wat by sy kruis staan en waak en huil terwyl hulle nadink oor wat sy dood beteken, wat net bring wat hulle klaar het om sy liggaam mee te balsem, en wat halsoorkop hardloop om almal te vertel dat Hy lewe. Onversierd, onbeskaafd, amper, so sonder reseppies.

En dan moet ek wonder of geloof ooit “mooier” as dit hoef te wees. Kan ons nie maar net sit en luister nie? En die volle implikasies van sy dood en opstanding oordink en in ons harte inmasseer (wat meer as ‘n leeftyd sal neem!) en dit wat ons reeds het of is dienswillig uitgiet oor sy liggaam, die Kerk, en dan halsoorkop hardloop na almal wat nog nie weet nie terwyl ons onbeskaamd uitroep: “Jesus lewe!” En as die lewe bloederig raak, dan mop ons dit nie met mooi dingetjies op nie, maar hardloop na die Goeie Herder toe en dan bloei ons daar in sy arms, nie met ons eie bloed nie, maar met syne.

Die Groot FM 90.5 Vrouedag op 9 Augustus gaan nie “mooi geloofsgoedjies by stalletjies verkwansel” nie, maar eerder vir elke vrou weer die gestroopte, mooiste geloofssleutel wys – die Kruis van Jesus. Elvis Blue sing vir ons (o.a. die pragtige lied “Rede om te glo”), Louis Brittz en sy band lei die lofprysing. Hettie Brittz en Suria Scholtz gesels oor die uitdagende tema: Vrygemaak om heel te maak! Die dag se wins gaan aan die Freedom Climb – ‘n inisiatief van Operasie Mobilisasie teen mensehandel en slawerny.
Plek: 3C Ouditorium, Jan Smutslaan 8, Irene, Centurion
Datum: 9 Augustus 2014
Tyd: 09:00 – 15:00
Prys: R85-00 per persoon
Klik hier om kaartjies te bekom

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nellie mey ·

Amen! Ons geloof is in Jesus Christus wat vir ons aan n wrede kruishout gesterf het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.