Nasionale onderwysersdag

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Maandag, 5 Oktober, was nasionale onderwysersdag.  Ek hoor eers aan die einde van dié dag daar was so ʼn dag.   Ek het dit heeltemaal gemis.

Die viering van so ʼn dag is nie vir my juis belangrik nie.  Ek weet nie eintlik wat nasionale onderwysdag beteken nie, maar ek weet wel goeie onderwys is geweldig belangrik. Elke dag, elke jaar en vir elke geslag.  Daarom juis dink ons met heimwee terug aan onderwysers wat ons lewens verander het, in ons geglo het en vir ons geleer het hoe om ʼn onbekende toekoms binne te gaan.  Die meeste van ons onthou ook daardie onderwyser wat jou geleer het hoe jy nooit wou wees nie.

Die voorwaarde vir goeie onderwys is goeie onderwysers.  Roepingsgedrewe, getroue onderwysers.   Ek aanvaar nasionale onderwysersdag se bedoeling is om so ʼn bietjie te  fokus op die harde werk van onderwysers en die profesie van onderwys in die algemeen.

Hier naby die herdenking van Paul Kruger dag (10 Oktober) maak dit sin om die harde en getroue werk van onderwysers in gedagte te hou.  Oom Paul het immers vir goeie onderwys selfs in die buiteland gaan soek (veral vanuit Nederland), onderwysers na Suid-Afrika laat kom en aan hulle die besondere opdrag gegee om die nageslag akademies op te voed.

ʼn Samelewing kan na hierdie kant stoei en na daardie kant met dinge besig wees, maar as jy goeie onderwys mis, dan mis jy die nageslag.  Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar.  Goeie onderwys skuif ʼn samelewing.  En goeie onderwys is net moontlik as daar goeie onderwysers is.

Vader Dirk Postma  het  in 1871 reeds gewaarsku:  “… want verkeerd onderwijs en slechte voorbeelden zij voor de zielen uwer kinderen meer te schuwen dan vergiftige slangen voor hunne lichamen.”

Vir die gelowige ouer is Skrifgefundeerde onderwys wesentlik.  Om Skrifgefundeerde onderwys te laat gebeur, moet daar natuurlik in die klas ook Skrifgefundeerde onderwysers wees.  Juis daar mis ons dikwels die doel in die onderwys.  Dit is ongelukkig nie so dat enigeen met vakkennis ons kinders net kan grootmaak nie.

In die tyd van die reformasie was dit juis Philip Melanchton (1497-1560) wat gepleit het  vir die Skrif in die onderwys en by die onderwyser.  Hierdie praeceptro Germaniae (leraar van Duitsland) het gepleit vir die beginsel van Sola Scriptura – OOK in die ONDERWYS.  Veral in die onderwys. Juis daarom maak baie van die strooihalms wat almal deesdae gryp in die onderwys nie sin nie.

Goeie onderwys is Skrifgefundeerde onderwys deur Skrifgefundeerde onderwysers.  Calvyn het gewaarsku die verrotting van die skool word die verrotting van die kerk.  As ons verrotting wil keer, moet ons fokus op onderwysers wat die onderwys tot reg laat kom.

JG Meijer skryf juis:  “Christelike onderwysers werk saam en roep ook die hulp van gelowige kundiges buite hulle beroep in.  Hulle vorm ʼn span om ‘saam met al die heiliges…’ te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte  van Skrifgefundeerde pedagogiek en didaktiek is.”

In ons eie landsgeskiedenis was ouers nog nooit onkundig oor hulle eie rol as leermeesters van hul kinders nie.  Ons weet uit die trekgeskiedenis ʼn skoolmeester het hier en daar met ʼn groep trekkers saamgegaan, maar in baie gevalle (lees die meeste gevalle)  is die ABC onderwys deur die ouers self gegee.  Ouers het nie geskroom om hulle verantwoordelikheid van Srifgefundeerde onderwys na te kom nie.

Ons weet “sonder ʼn georganiseerde stelsel van onderwys, sonder hulpmiddele, sonder geboue of meubels het die Voortrekker sy kind bewaar vir verstandelike of sedelike degenerasie, het hy hom opgevoed in gehoorsaamheid, in eerbied vir gesag, in liefde vir volk en vaderland; kortom:  in die vrees van God.”

Vanuit die belangrike beskouing van onderwys was dit dus ook nie vreemd dat in dieselfde jaar wat die Zuid-Afrikaanse Republiek tot stand gekom het, daar ook  onmiddelik ʼn Kommissie vir Onderwys in die lewe geroep is nie.  Ons sien dit ook ná die Anglo-boereoorlog.  Die saak van  onderwys wat onmiddelik deur kerke, ouerhuise en gemeenskapregerings aandag geniet.

In Suid-Afrika het ons werk wat wag in die onderwys.  Harde werk.  Daarom is ons dankbaar vir elke roepingsgedrewe onderwyser.  Daarom moet ons erken daar is te min van hulle.  Juis daarom moet ons as deel van ʼn toekomsplan in Suid-Afrika, baie geld en baie tyd en baie aandag aan onderwys en onderwysers bestee.  Wie wys is weet immers non scolae sed vitae dicimus – ons leer nie vir die skool nie, maar vir die lewe.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Ds. Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van die Gereformeerde Gekombineerde Skool Dirk Postma in Pretoria se Moot-omgewing. Hy is ook die skrywer van die boek, Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Disselboom ·

Dis seker waar dat onderwysers en onderwys ‘n groot invloed op die samelewing kan hê, maar op ‘n manier is dit ‘n taamlik sosialistiese gedagte. Miskien moet mens dit maar as ‘n hartseer realiteit sien dat die gesinstruktuur in die samelewing nie voldoende funksioneer nie, en dit dus nie die gesin is wat die samelewing vorm nie, maar die openbare funksie van onderwys, wat te dikwels te ver gedryf word om en met opvoeding verwar word.

Die gedagterigting van onderwys as opvoeding het die gevaar om die gedagte dat die staat die opvoeder is, stukrag te gee, en met ons huidige situasie waar Umalusi ons herder is (die uwe het hom laat vertel dat Umalusi ‘n Zoeloe-woord vir “herder” is) gee ons op ‘n manier toe daaraan en lewer die volk se kinders maar aan die staat en sy laagste-gemenedeler en veel gekritiseerde maar alomgehoorsaamde matriekeksamen uit. So asof ons te vrot of te lui is om ons eie kinders hulle eie vlak van onderwys te gee.

Mooi oproep vir roepingsbewuste, en christelike onderwysers van gehalte, maar die arme goed word telkens ook maar weer net in die staatsbeheerde onderwys ingestuur om te kyk wat hulle daar kan uitrig. So in die aanloop na die Solidariteit-beraad die komende naweek, wonder mens of vryheid en akademiese eie beheer oor onderwys regtig verstaan word dat dit moet losbreek van die Umalusi-herder.

‘n Naskriffie: Dit verbaas Disselboom dat die CVO-mense so stil is in hierdie forums, synde dat dit op die oog af die een organisasie in Afrikaneronderwys is wat darem ‘n mate van eie struktuur toon en met die 30 of wat skole so iets van verspreiding en grootte het; dis net asof die BCVO (Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys) ook net nie ‘n plek het in die gedagtes van die Solidariteit-geledere nie. AROS en so aan word deesdae omtrent as deel van Solidariteit genoem, maar hoekom geen vermelding van die BCVO nie? Lyk of Solidariteit en die Hollanders van Dirk Postma heelwat gemakliker met mekaar is.

Leendert van Oostrum ·

Ds Noeth, jou logika is besig om net so verdag te word as die warkoppige aansprake waaraan mens al gewoond geraak het in die “Opvoedkunde”:

Enersyds verklaar jy: “En goeie onderwys is net mooontlik as daar goeie onderwysers is”.

‘n Paar paragrawe verder bring jy hulde aan Voortrekkerouers wat hul kinders bekwaam onderwys het sonder “onderwysers”.

Ek wil jou en Aros uitdaag om te bewys dat kinders wat onderwys ontvang van onderwysers wat by Aros gekwalifiseer het, gemiddeld beter presteer in staandaardtoetse (bv ANA) as kinders wat hul onderwys kry van mense wat nie by Aros (of enige ander onderwyseropleidingsinstelling) gekwalifiseer het nie, en geen kwalifikasies in “die onderwys” het nie.

(Tussen hakies: My Grootoupa was een van Paul Kruger se ingevoerde Hollandse onderwysers na wie jy hierbo verwys, my oupa en albei my oumas was professionele onderwysers en ek het self ‘n M.Ed verwerf. My uitdaging is dus nie beuselagtig nie. Ek dink die antwoord is baie belangrik, gegee die enorme bedrae wat die belastingbetaler en die res van ons – insluitende Solidariteit – aan onderwyseropleiding bestee. )

Hannes ·

More oom, onthou ons het al so bietjie daaroor gesels, ek werk vanaf die vertrekpunt dat elke ouer is reeds n onderwyser (lees leermeester) en as ek se ons het goeie onderwysers nodig is die pleidooi vanselfsprekend vir roepingsbewuste ouers. Daaroor het my vorige rubriek gehandel – dankie vir saamdink oom.

Leonard van der Dussen ·

Gesamentlike onderrig van kinders in groepe, m a w skole is normaliteit en logies. Hoe die skole funksioneer, wie voor in die klas staan en wie bepaal watter onderwys inhoudelik en met watter metode daar beoefen word, is sinvolle debat.

Tuisskool is maar ‘n randverskynsel, wat soms weens omstandighede ‘n plek het, maar is nie sinvolle hooftema vir debat oor onderwys nie. Die vraagstukke gaan oor hoe om goeie skole as gelowiges daar te stel en te bedryf.

Leendert van Oostrum ·

Mnr Van der Dussen,

Jy is die enigste een wat van “tuisskool” gepraat het (behalwe Ds Noeth in sy hoofrubriek).

My vraag is: watter bewyse is daar dat kinders wat IN SKOLE onderwys ontvang van mense met onderwyskwalifikasies enigsins beter presteer (of enigiets meer leer) as kinders wat onderwys ontvang van mense wat NIE onderwyskwalifikasies het nie.

Jy en DS Noeth ontwyk albei die vraag.

Hannes ·

Oom Leendert
So sal ek nooit kan sê nie, daarvoor ag ek die verskeidenheid van onderwysvorme te hoog. Immers het ek vriende in al die vorme van onderwys. Ek het wel probeer sê daar is ‘n groot onderskeid tussen Skrifgefundeerde onderwys (en onderwysers, lees ook ouers) en nie-Skrifgefundeerde onderwys (en onderwysers, lees ook ouers). (Terloops ek raak al meer geinteresseerd in die onderwysers wat oom Paul laat invoer het, veelseggende stukkie geskiedenis daardie.)

Leendert van Oostrum ·

Beste Ds Noeth,

Ja, daar is geweldige verskeidenheid in die onderwys – wat ons owerheid natuurlik probeer uitwis. Almal moet op dieselfde matriks gebring word.

Maar dit gaan nie vir my oor verskillende vorme van onderwys nie. Dit gaan vir my oor die fortuine wat ons uitgee aan die opleiding van onderwysers, sonder ENIGE bewys (skrifgefundeerd of andersinds) dat die kinders baat by a) die geweldige uitgawe aan die opleiding of by b) die verbod op “ongekwalifiseerdes” om onderwys te gee.

As jy belangstel in die ingevoerde Hollandse onderwysers kan jy my grootoupa se outobiografie kom leen (of dit kry in die Africanaversameling van die Merenskybiblioteek by Tuks – as hulle nog so-iets het :-). Dit gee mens ‘n kykie daarin. En, tussen hakies, hy het onderwysers opgelei – afgetree as onderhoof van die Normaalkollege in Pretoria. Miskien draai hy in sy graf om, maar ek bevraagteken vandag die nut van onderwyseropleiding. En niemand het my nog enige gronde gegee om te glo dat dit waarde het vir kinders nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.