Nataniël ná 30 jaar: Van rebel tot verhoogliefling

Nataniël (Foto: Facebook)

Vir die tweede keer in die bestek van net minder as een vol ronde om die horlosie staan ek verbluf: Eers was dit die majestueuse laning wat lyk soos die werklikheidsbeeld van ʼn gesogte Leonid Afremov-prent en nou vir ʼn tweede maal is dit die gewoonheid van die stil buurt en die groot wit huis waar Nataniël saans sy kop neerlê.

Dalk is dit die grootheid wat met sy aura gepaardgaan wat ʼn mens onder die indruk plaas dat hy à la die koninklikes ook saans yslike paleisdeure agter homself toetrek en dat daar op enige gegewe oomblik ook ʼn gepantserde man ʼn armlengte ver van hom af is om hom teen die gepeupel te beskerm.

Maar in dié buurt is daar gewis gewone mense; en ook ander gewone dinge soos keffende vierpotiges en kop-na-onder-jonges op selfone – alles vir die buitestaander in kontras met die kleurryke persoonlikheid wat hy op die verhoog vergestalt.

“Het jy al koffie,” eggo ʼn hees manstem deur die kombuis en onderbreek my gedagtegang. Die klik-klak van hakke op die teëlvloer word eers harder voordat die ritme van sy afgemete treë met ʼn skuurgeluid beëindig word, byna asof hy homself tot stilstand kry.

Hy plaas ʼn album op die kombuisblad – gee ʼn vinnige, opsommende kykie in die oë.

“Hallo,” groet Nataniël, weer in die einste hees stem wat sekerlik een van dié kenmerkendste mansstemme in Suid-Afrika geword het. Sy oë beweeg soekend oor die vertrek, hy huiwer vir ʼn stonde en haal dan bekers uit die kas.

Dié keer praat hy oë op die ketel. “Ek mag glad nie koffie drink nie – ek is vreeslik allergies daarvoor,” sê hy terwyl hy koffie skink. “Maar ek was nog nooit iemand wat by die reëls hou nie.”

Ons kuier in sy kantoor – ʼn “vertoonkas” van 30 jaar se kostuums in die suide van Pretoria omring met hemelhoë bome.

Sy huis – ʼn spierwit ultramoderne tydskrifhuis – is maar ʼn klipgooi ver; om die waarheid te sê, hy is sy eie buurman.

In dié huis wat nou sy kantoor is, het eers ʼn vrou met ʼn blaffende hond gebly, verduidelik hy toe ons gaan sit. Sy kop rus in die bak van sy hand, ontmoedig. “ʼn Blaffende hond is nié oulik nie. En ek is nóg minder oulik ná ʼn blafsessie van drie dekades lank.”

Nou is dié huis in ʼn tuiste omskep vir nagenoeg 79 konserte se uitrustings – elkeen met sy eie verhaal. Buiten die kostuums is die kantoor ook stampvol met rekwisiete en ander Nataniël-produkte.

Sy vingers voel-voel na die ritssluiter van sy swart hemp toe ons gaan sit. Hy is verder geklee in ʼn swart formele baadjie, ʼn noupassende swart broek en skerppuntskoene.

Nataniël op die verhoog (Foto: Facebook)

“Ek het 5 000 van dié uitrustings,” spot hy. “Charl [du Plessis, sy begeleier] wil altyd weet hoekom ek so baie swart hemde besit as hulle almal dieselfde lyk. Dit maak nie vir my saak nie – ek dra mos nie elke dag dieselfde klere nie, en dis waarvan ek hou.”

Sy ouma – Maria – het nét so aangetrek, verduidelik hy. Sy het sierlikheid vergestalt, maar het meeste van haar lewe net een patroon gedra.

Ouma Maria verskyn gereeld as ʼn karakter in sy gewilde stories. Sy ís immers een van die grootste invloede in sy lewe én sy loopbaan. Hy was maar ʼn bloedjong seuntjie van vyf toe hy sy eerste konsert gehou het. Sy het ʼn string pêrels om sy nek gehang en hy was “ge-move” toe hy na homself in die spieël kyk.

“Daarna het ek al haar ander krale om my nek gehang, haar klere aangetrek en myself gegrimeer. Ek wou altyd nes sy wees.

“Wanneer ek aan daardie tyd dink, wonder ek altyd waar ek aan konserte gekom het – in daardie tyd het ek nog nooit so iets in my lewe gesien nie. Dit was in my gene, deel van wie ek is; iets wat wou uit en gestalte kry. Ouma Maria was altyd die middelaar tussen my en my ouers – altyd die een wat gesê het: ‘Los die kind, laat hy doen wat hy wil.’ Toe ek op 20-jarige ouderdom die nuus kry dat sy dood is, het ek gedink ek gaan doodgaan. Ek kon nie asem kry nie.”

Nataniël (Foto: Facebook)

Meer as vier dekades is verby nadat hy vir die eerste keer ʼn konsert vir sy gesin gehou het. Intussen was Nataniël al meer as 6 000 keer op die verhoog, het hy 79 oorspronklike konserte geskryf en aangebied, 17 albums uitgereik, 17 boeke geskryf, ses DVD’s uitgereik en drie hoogsgewilde televisieprogramme verfilm. Hy is ook die stigter en uitvoerende hoof van Nataniël House of Music en het sy eie leefstyl- en kosproduktereeks wat hy bedryf as deel van sy Kaalkop-maatskappy.

Dié prestasies is as’t ware die room van sy loopbaan – iets wat jare geneem het om op te bou.

“Ek het van ʼn jong ouderdom af gewoonheid gehaat, vandag steeds. My hele lewe lank was ek anders. Dit is dié andersheid wat my konstant in die moeilikheid laat beland het. As my pa vir my ʼn rugbybal gekoop het, het my ouma vir my ʼn pop gekoop en dan het ek liewer met die pop gespeel. Ek was heeltyd gespanne, want ek het geweet my outfit gaan moeilikheid veroorsaak by die skool of my ma gaan haar kop verloor as ek met henna op my hande by die huis opdaag.

“My ma en pa moes cope daarmee dat ek soveel moeilikheid op die dorp veroorsaak het, en dit was régtig moeilik vir hulle. Maar ten spyte van al die drama, was ek unstoppable – daar was nooit ʼn Plan B nie, ek wou een ding doen, en tot vandag toe is ek steeds op die verhoog.”

Sy skanse sak wanneer hy oor sy familie praat. Byna asof hy bang is om té veel te sê of deur sy eie emosies meegevoer te raak, hou hy vir ʼn oomblik op praat. Hy beduie na ʼn kostuum aan ʼn mannekyn in die hoek – ʼn wit rok met lang moue, ʼn Floris Louw-skepping vir sy Cathedral-konsert.

“Toe ek net begin konsert hou het, het ek beddegoed opgeknip en kostuums daarvan gemaak. Ek het by verassings die orrel gespeel, en elke sent daarvan in my loopbaan ingeploeg. Ek is nie sommer aanvaar nie – inteendeel, ek was talle kere byna dood. Omdat ek reeds as kind ʼn rebel was en my hele lewe lank moeilike omstandighede moes oorleef, was dit nie vir my nié normaal dat ek nie aanvaar was nie. Ek het destyds nie besef alle kunstenaars kry nie doodsdreigemente nie.

Nataniël en Armand Aucamp in Almon, Henry (Foto: Facebook)

“Dáárvan was daar talle. Iemand het een keer skote deur die vensters van my motor geskiet. Daar was ook ʼn petrolbom in my dressing room ingegooi en tydens my eerste uitverkoopte konsert moes ek in ʼn g-string saam met die hele gehoor die plek verlaat ná ʼn bomdreigement. Maar ek het dit nooit bevraagteken nie, want ek het nie geweet dit moet nié so wees nie. Dit was ʼn ‘onnatuurlike’ tyd, en dis nie asof shows toe reeds uitverkoop het nie.”

Hy praat nie sommer oor die negatiewe dinge uit die verlede nie, sê hy streng, en skuif rond op die donkerhoutstoel. “As onnosele mense my lewe moeilik gemaak het, het ek dit vergeet. Juis daarom het ek meeste van dié negatiewe ervarings vergeet.

“Maar daar wás baie moeilike jare. Ek moes lank vir die weermag vlug omdat ek geweet het ek sal dit nie oorleef nie. Die weermag het my talle kere opgeroep, dan sê my ma: ‘Kom ons kyk net waarheen jy geroep is.’ Maar ek kon nooit nie. Later is ek in hegtenis geneem en die hof het my beveel om drie dae sielkundig ondersoek te word. Die dag toe ek voor die regter moes verskyn om die sielkundige se uitspraak te hoor, het ek presies soos Marlene Dietrich in Witness for the Prosecution aangetrek. Ek is mal verklaar – selfs in oorlogtye kon die weermag nie van my diens gebruik maak nie.”

Nataniël op die verhoog (Foto: Facebook)

In baie opsigte was dit “fantastiese jare met baie opwinding”, vertel hy. “Ons [kunstenaars] het geprotesteer teen die Nasionale Party – in daardie jare was protes nodig. En baie mense in dié bedryf het mekaar probeer help; nie noodwendig die platemaatskappye nie, maar dié op grondvlak. Ek kon altyd ʼn verhoog kry in die destydse Nico Malan-teater, vandag Kunstekaap, en talle ander platforms was vir my beskikbaar gestel. ‘n Vrou, wat ‘n ete by Peter Veldsman [bekende kosskrywer en restaurateur] se huis bygewoon het, het destyds nog vir my die geld gegee om my eerste album te vervaardig. Dit was ʼn wonderlike tyd van saamstaan.”

In daardie tyd was hy meer “onbeskof”, soos hy daarna verwys. Sy uitrustings op die verhoog was meer gewaagd en sy liedjies het die hare laat rys. Lirieke soos dié van “My Priest” het groot opspraak verwek.

“Ek het een aand na Mynie Grové in ʼn nagklub gaan luister en sy het só hard rock gesing, ek het begin huil. Dalk was dit ʼn 1980’s-ding – die rebellie van baie kunstenaars.

“Ek was vir baie jare ʼn angry rebel. Ek het onbeskofte klere op die verhoog gedra en ek het in gekruide taal gesing. Maar ʼn mens kan nie jou hele lewe lank teen alles battle nie. Vandag het ek peetkinders en ek verteenwoordig maatskappye, ek het ook in my loopbaan groot geword. As jy ʼn onbeskofte liedjie sing, moet jy in elk geval ʼn onbeskofte uitrusting ook dra – en ek kan dit nie meer afpull nie,” terg hy.Daar ís egter een iets waaroor hy nooit sal mak raak nie, verduidelik hy en skuif vorentoe in die stoel.

“Ek sal tot die dag wat ek dood is baklei teen selfone in my show; ek is baie ferm daaroor. Ander kunstenaars wil seker nie die aanhangers ontstel nie of hulle het nie guts nie, maar ek jaag só oortreder uit die show. Wat verstaan mense nie as jy voor die tyd ordentlik vra om die ding net te bêre nie? Hoekom is mense so geplak aan die goed? Dit voel byna asof mense nie meer nugter iets kan geniet nie, deesdae is ʼn live show ʼn geveg teen selfone.

Nataniël (Foto: Facebook)

“Ek is lief vir die land en ek is gelukkig hier, maar as ek ooit die land sou moes verlaat, sal dit as gevolg van die wetteloosheid wees. Selfone in ʼn teater is maar die begin. Ek moes nou die dag ʼn bakkie met ʼn klip gooi omdat hy oor ʼn rooi lig gery het. Mense verstaan nie wette en reëls vorm ʼn legkaart nie – dis nie daar vir sommer nie, dit dien ʼn groter doel.”

Nataniël het onlangs sy eerste ateljee-album in sewe jaar, One Day in a Castle, uitgereik. Die album bevat 11 snitte geskryf deur die sanger en vervaardig Juan Oosthuizen. Nagenoeg vyf van die snitte, soos “On the Way to the zoo” en “Uniform” was ook deel van  sy After Animals-konsert in 2016. Die album bevat een Afrikaanse liedjie.

“My musiekloopbaan het nog my hele lewe lank anders as dié van ander kunstenaars gewerk. Ek skryf en neem ʼn liedjie op, en dan is dit verby. Ek gaan nooit op toer daarmee nie, die liedjie is in een konsert en dan is hy op die rak. Ek het nog nooit familiariteit met my musiek geskep nie. In my hele loopbaan van 30 jaar het ek nie een hit gehad nie. Maar ek meet myself nie aan ander kunstenaars of kommersiële sukses nie. Ek is dankbaar oor die langlewendheid van my loopbaan.”

Met vanjaar se groot konsert wat ook by Emperors Palace op die planke te sien gaan wees, 30 Years, 90 Minutes, vier hy sy drie dekades as verhoogkunstenaar.

Nataniël se jongste album (Foto: Facebook)

“Dit is die eerste show waarin ek nog elke liewe aand met ʼn staande applous toegejuig is. Dit is ook die eerste keer wat ek die Emperors-show landwyd vat, dit was reeds in Kaapstad. Dit is ʼn viering van my loopbaan, maar nie vol stokou goed nie – helfte van die materiaal is weer nuut, ek kon myself nie keer nie.”

Hoe lyk die toekoms? Hy skuif rond, maar antwoord dadelik. “Ek worrie niks oor politiek nie. Dis nie wat my onder kry nie. Maar mense en hul houdings het verander; meer dikwels as nié voel meeste mense leeg. Hoewel ek egter dikwels oorweeg om rustiger te raak, bly ek steeds unstoppable en dink ek gereeld nuwe dinge uit. Ek is tevrede. Ek wil my roetine en die manier wat ek dinge doen opskud en verandering in my lewe teweegbring.”

Hy wys weer na kostuums op die mannekyne in die hoek van die vertrek en hy sê in sy bedaarde stemtoon: “Ek en Nicolaas [Swart, sy vriend en verteenwoordiger wat in meeste konserte optree] het nou die dag vir ʼn koffietafelboek wat ons binnekort gaan uitreik, deur jare se foto’s gewerk. Die kostuums slaan my asem weg. Dís waarvoor ek gewerk het, dís waarvoor al die jare se bloed, sweet, trane en rebellie was. En dis ook hoe my toekoms lyk tot die dag wat ek nie meer kan nie – nice, groot en blink.”

Kaartjies vir Nataniël se 30 Years, 90 Minutes is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Nix ·

Ag ek like hom baie….. ‘n droom om nog eendag een van sy shows te gaan kyk…. Bucket List item nommer 4. My opperste boerseun man het uit die hoek van sy oog na die TV gekyk as ek na iets van hom kyk en my snaaks aangekyk….. nou roep hy my as Nataniel op die TV is. Ag ek like hom baie!!

Anoniem ·

Ek is mal oor Nataniël se stories. Het myself al tot by miltsteek gelag by sy shows.

Sonja ·

Nataniel wat kan ek se, die beste jy is my rolmodel, ek is verslaaf aan Naraniel net jammer ek sukkel altyd om kaartjies vir sy shows te kry hy is so awesome voor jy weet daar is n show is dit klaar uitverkoop. Nataniel wens meer mense was soos jy maak nie vsn jou hart n moordkuil nie. Baie dankie dat ek so geeerd was om een van jou shows te sien. Ek dink as iemand nog nie vir Nataniel sien optree het nie, weet hul nie wat is n ordenlike show nie. Ek lief jou segoed en jou uitrustings en maak nie saak wat wie se nie jy het klas baie kan van jou leer.

Logan ·

So hy het hom mal gehou om die army te ontduik en toe vat hy die hele spektakel verhoog toe om die malhuis te ontduik. Briljant.

Rikku ·

Was en is nog altyd Lief vir Nataniel. Daar is iets so Onskuldig aan hom. Jy kan dit sien wanneer jy in sy oe kyk. Mag hy nog baie opvoerings, musiek en skrywe vir ons bring.

M ·

Dink net hoe lekker sou die lewe gewees het as dit nie nodig was om te worry oor wat ander mense van jou dink nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.