Nuwe Jakaranda-skou onder nuwe leisels

Mev. Petro Ferreira, nuwe skoubestuurder van die Jakaranda Landbouskou

Petro Ferreira, nuwe skoubestuurder van die Jakaranda Landbouskou. Foto: Verskaf.

Die Jakaranda Landbouskou sal vanjaar ʼn splinternuwe asem onder nuwe leiding kry.

Petro Ferreira is deur Tshwabac, eienaar van die Jakaranda-landbouskou, as die nuwe skoubestuurder aangestel. Die skou word 26–29 Augustus op die Tshwane Events Centre se skouterrein aangebied.

Die skou, alombekend onder sy vorige naam, die Pretoria-skou, word vanjaar as ʼn suiwer landbouskou aangebied. Stoettelers se volgehoue ondersteuning bevestig dat die 75 jaar oue skou as baken op die landboukalender beskou kan word.

Die Tshwane Events Centre se lewendehawe-geriewe word as die beste in die land beskou, en die skou se sentrale ligging verseker deelname van deelnemers en kopers van oor die hele land. Die room van die land se stoetdiere, van kapokkies tot indrukwekkende bulle, sal in verskeie kategorieë meeding.

Ferreira en haar span sal streef om die skou oor die loop van die volgende vyf jaar tot sy volle potensiaal te ontwikkel. Sy bestempel haar einddoel as “’n landbouskou wat ʼn wesenlike verskil maak, alle Suid-Afrikaanse boere insluit, deur alle rolspelers ondersteun word, en die verbetering van landbou oor die hele waardeketting ten toon stel en bevorder”.

Tydens die eerste drie dae van die skou sal op die aanbod van sakegeleenthede en -skakeling in die landbousfeer gefokus word. Die laaste skoudag bied ʼn pret-uitstappie in ʼn plaasatmosfeer aan die hele familie en die algemene publiek.

Die skou spog met allerlei nuwighede, wat onder meer die volgende insluit: ʼn wildboerkonferensie, teoretiese slypskole en praktiese demonstrasies, AgriFem (ʼn vrouesaal), ʼn werkende voorbeeld van ʼn geïntegreerde landboumodel gemik op kleinboere, nuwe uitvindsels en die optimale aanwending van tegnologie in boerderypraktyke.

Wat jy nog op die skouprogram kan verwag:

• Die Obaro Karkaskompetisie
• Die LNR se Nasionale Vleisbees-prestasietoekennings
• Jeugskou Interprovinsiale Kompetisie
• Bees- en bokbeoordelings
• ʼn Stampvol perdeprogram, waaronder ʼn gimkana
• Vark-, skaap- en konynboerderye
• Nasionale veiling van inheemse veldbokke
• Pluimvee, watervoëls en sierduiwe
• Waterboerdery (akwakultuur)
• Werkshonde
• Binnenshuise uitstalling van verskeie diererasse
• Modelle en bruids-, matriekafskeids- en aanddrag
• Suiker- en ander gildes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

THEA SWART ·

ek het soos ‘n slaaf vir ± 40 jaar elke jaar skou toe gegaan maar die laaste 5 jaar was dit absolute gemors en het ek eerder by die huis gebly – dankie tog iemand gaan ons iets gee om na uit te sien! dankie tog sal maar weer my tekkies moet uithaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.