Kort nadat die jonge Herrie se karretjie die eerste keer die skuinstes berg uit gevat het na Erfenis se opstal om die latere mev. Herrie die hof te gaan maak, het die eerste nuus oor plaasaanvalle uit die omgewing gekom. Meestal het die Koevoete sommer gou daarmee klaargespeel.
Maar tog het die jonge Herrie baie van die boerepret beleef wat deesdae met die baie plaasmoorde net ondenkbaar geword het. Soos om ander boere wat Oujaarsaand gaan dans het se hekke met draad vas te draai.
Maar toe begin die yskoue oostewinde oor die Oos-Vrystaat waai. Skoonpa Nic se broer, oom Wimmie, is aangeval, en later skoonma Engela self.
Plaasaanvallers was ook nie noodwendig altyd die enigste gevaar op plase nie. By geleentheid – nadat oom Herrie wyd rondgeloop het – het dit geblyk dat daar ’n leeu ook los rondgeloop het. Erfenis se skippertjies sou nie van veel hulp gewees het as oom Herrie vir Vuilbaard raakgeloop het nie. Hopelik sou oom Herrie darem beter as Herman Charles Bosman se oom Schalk Lourens gevaar het toe hy die Ontvanger gesien het voor die Ontvanger hom gesien het. Oom Schalk het die kluts so kwytgeraak dat hy “kortpad” teen die krans af is en hom disnis geval het.
Want sien, Erfenis se holkranse is so hoog dat dit nie net vir disnis val is nie.
So tussenin het ’n oorlamse bobbejaan hom by oom Wimmie as skaapwagter kom aanmeld. Vreeslik getrou, maar lomp sodat hy meer skade as goed aangerig het en die trekpas gekry het.
Maar terug by plaasaanvalle. Dit is opmerklik hoeveel plaasaanvalle bedags plaasvind as die boer en gesin van die oggenddiens af by die huis aankom. Aanddienste, so lyk dit, begin nou ’n groot risiko raak, ook vir stads- en dorpsjapies. Natuurlik is enige tuiskoms ná donker nou gevaarlik – selfs wanneer ’n geliefde in die hospitaal besoek is.
Dit is lank nie meer enige geheim dat die land nou ’n groot uitskud van bo tot onder nodig het nie. Die (politieke) leiers stel net eenvoudig nie die skoon leierskap ten toon wat nodig is om enigeen te oortuig om self eerlik te leef nie. Om die geweldskultuur aan te spreek gaan ook groot werk behels.
Misdadigers mag eenvoudig nie toegelaat word om wetsgehoorsame burgers te teister en te vermoor nie. Want omdat oom Herrie twee linkervoete het en net amok by ’n Oujaarsdans sal maak, sal oom Herrie graag weer ’n hek of twee wil vasdraai.