Oom Herrie se kerrie: Inkbessiebos en Wolf se gedagtes

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Die Herries se oudste is nou al ’n paar jaar uit die huis uit, en woon op ’n plaas buite Bothaville. Hy is plaasbestuurder by ’n landbouskool.

Toe kry oudste vir Sheba, ’n kwaaierige hond van taamlik onseker herkoms, en Wolf wat nog ’n klein wit poolhond was. Die twee het groot maters geword, maar ’n paar maande later het hulle al soveel keer uit al wat versperring was, gebreek dat hulle by oupa en ouma in die stad moes kom bly.

Sheba is nie meer nie, maar Wolf woon saam met Nala, sy beste vriendin heerlik bederf by oupa en ouma.

Maar ná drie jaar slaan die Arktiese wolf nog in Wolf deur, soos dat hy net een tropleier het, en dis oudste. Maak nie saak hoeveel maande oudste nie kan kom kuier nie, as oudste grondvat loop Wolf, en sommer Nala ook, se beker oor. Wolf maak dit dan baie duidelik wie se hond hy is.

Die afgelope week was Wolf iets ysliks soos hy ongewoon baie kom aandag soek, gereeld wolwegeluide maak en duidelik in groot afwagting is. Oom Herrie het afgelei hy verwag sy kleinbasie die langnaweek, maar oudste het van geen sulke planne laat weet nie.

Die Vrydagaand bel oudste. Hy het ’n geleentheid gekry en sou ons die langnaweek kom verras het, maar toe het iets onvoorsiens voorgeval. Die plaasbestuurder van die boerdery waarop oudste woon, is deur ’n doring van die inkbessiebos gesteek, en hy was bitterlik siek en sy arm yslik groot opgeswel. Die man se vrou het nie ’n rybewys nie, en oudste het gevoel hy moet naby bly, ingeval dit nodig sou wees om weer hospitaal of dokter toe te jaag.

Tuis was Wolf vreeslik afgehaal toe hy agterkom oudste kom regtig nie. ’n Mens kan dit ten beste as treurig en afgehaal beskryf, maar die een oomblik wil hy vreeslik baie aandag hê, en dan gaan lê hy buite in die koue en dit lyk of iemand sy biltong afgevat het.

Dis net soggens wanneer ons ’n klein entjie met hulle gaan stap dat Wolf so energiek soos gewoonlik is, met bokspronge en ’n vreeslike lawaai.

In die verlede as ’n mens die indruk gehad het Wolf het hond se gedagtes oor oudste se kuier, dan het oom Herrie maar gedink hy tel iets van die Herries op wat weet van die komende kuier. Maar dié keer het die Herries self van g’n sout of water geweet nie.

Natuurlik is oom Herrie se gesindheid teenoor inkbessiebosse nou nie te waffers nie. Jaarliks eis dié Suid-Amerikaanse indringer die lewe van baie beeste, skape en selfs volstruise. Dis ’n verbode plant, maar dis gewild onder stadsjapies wat dit in erwe plant van waar dit na plase en hoewes versprei. Daar is nie ’n teengif nie.

As iemand ’n inkbessiebos in sy erf het, en ook kinders het, moet hy maar net kennis neem van hoe siek oudste se buurman was. Roei uit daai ding!

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae