Orania-vroue gesels saam oor vooruitgang op vasteland

orania-vrou-by-awid-2018-11-01

V.l.n.r. is Annemie Becker, Hester van Zyl, Anje Boshoff, Lianda Krige en Ester le Roux wat vanjaar se AWID-kongres bygewoon het. Foto: Verskaf.

Die afgelope week – 19 tot 23 November – het vyf vroue uit Orania die African Woman In Dialogue (AWID) -kongres in Johannesburg bygewoon op uitnodiging van Zanele Mbeki, voormalige staatspresidentsvrou en stigter van die Zanele Mbeki Ontwikkelings Trust (ZMDT). Hulle was Anje Boshoff, Hester van Zyl, Annemie Becker, Lianda Krige en Ester le Roux.

AWID is ’n platform van dialoog wat gerig is op sake van kontinentale belang en spesifiek om vroue toe te rus met die nodige kennis en inspirasie om uitdagings wat op hulle betrekking het, die hoof te bied. Dit is geïnspireer deur die South African Woman in Dialogue (SAWID), ’n platform wat in 2003 gestig is vir Suid-Afrikaanse vroue om op ’n neutrale basis oor sake van gemeenskaplike belang te praat wat goeie verhoudinge bevorder en vrede en vooruitgang nastreef. Die geleentheid is deur meer as duisend vroue uit vyftien verskillende lande van Afrika bygewoon.

Die tema vir hierdie jaar was gerig daarop om vroue in Afrika te bemagtig met kennis oor die Vierde Industriële Revolusie (4IR). Die 4IR is die vierde hoof industriële era sedert die aanvanklike Industriële Revolusie van die 18de eeu. Dit word gekenmerk deur ’n samesmelting van tegnologieë wat die grense tussen die fisieke, digitale en biologiese sfere vervaag waarna gesamentlik verwys word as die kuberfisieke stelsels. Die doelwit is om hulle te inspireer tot integrale deelname aan 4IR, sodat Afrika – wat nie deel was van eerste drie Industriële Revolusies nie – die voordele daarvan kan geniet en vroue dit as instrument kan aanwend om op voetsoolvlak hul lewensomstandighede te verbeter. Ook het dit ten doel dat ons Afrika-kontinent – en spesifiek, Afrika-vroue – wêreldwyd hul plek kan vol staan in hierdie verband.

Verskeie sprekers het opgetree en die tema vanuit verskillende hoeke toegelig. Van hulle is proff. Tshilidzi Marwala, visiekanselier van die Universiteit van Johannesburg, Catherine Hoppers, opvoedkundige verbonde aan Unesco en Unisa, dr. Mamphela Ramphele, sosiale antropoloog en trustee van die Nelson Mandela Stigting en Lerato Mbele topjoernalis en internasionale politieke kenner – ’n Suid-Afrikaner, tans verbonde aan BBC World News.

Besprekingsessies is in groepsverband gehou waar vroue vanaf voetsoolvlak hul insette kon lewer en waarvandaan AWID weer taakgerigte doelwitte kon bepaal om te help dat vroue die 4IR ten volle benut vir bevordering van hul lewensomstandighede en om ’n volhoubare ekosisteem daar te stel. Hier het Oraniërs veral aansluiting gevind by die gedagte daarvan om vroue in gesins-, gemeenskaps- en kultuurverband, op voetsoolvlak in staat te stel om hul roeping as vrou en moeder te vervul. Dit is, onder meer, daarop gerig om hul kinders met die regte waardesisteem groot te maak, wat hulle as volwasse burgers in staat sal stel om deugdelike gemeenskappe, volke en nasies te wees wat ’n medemenslike en volhoubare samelewing daarstel. Hier is ook verwys na voorgeslagte en die ouer vrouens se wysheid wat ’n onontbeerlike bron van raadgewings is.

Vir die Orania-vroue was dit belangrik om na hierdie beraad uitgenooi te word omdat hulle nie net hulself nie, maar hul gemeenskap en volk verteenwoordig het. Afrika word deur talle minderheidsvolke bewoon en hierdie soort erkenning open die deur vir groter selfstandigheid én skakeling. Dit vloei ook voort uit suksesvolle ontmoetings tussen die Orania Beweging en instellings soos die Thabo Mbeki Stigting. Mev. Mbeki, wat Orania ook by ’n vorige beraad betrek het, het deurgaans persoonlike aandag aan die Orania-vroue geskenk. Sy het hulle ook gevra om op plegtige wyse die afsluitingsgeleentheid te hanteer. Oraniërs het ander afgevaardigdes vanuit die Noord-Kaap genooi het om saam met hulle op te tree en groter blootstelling aan Afrikaans te gee.

Daar was uitstekende skakeling met gesaghebbende vroue en verskeie ontmoetings en besoeke word in die vooruitsig gestel, wat nie net die vroue van Orania nie, maar die vroue van Suid-Afrika en Afrika, se welsyn ten doel het. Oraniavrouens is lotsgebonde aan die idee van Orania, begrond in die unieke Afrikaneridentiteit wat binne die Afrika kontinent gebore is. Dit is hierdie identiteit wat hulle erken, koester en met trots aanbied met die oog op erkenning en steun. Die mededeling van die idee het die oortuiging van die Afrikaner en die hoop wat Orania kan bied ten doel, maar ook die erkenning en goeie buurmanskap wat binne ’n land soos Suid-Afrika onontbeerlik is vir ’n vrye en vreedsame voorbestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Disselboom ·

Dis ‘n kopkrapper om te sien op watter vlak Europa en sy uitvloeisels soos Australië en die VSA funksioneer in teenstelling met Afrika; en dat Suid-Afrika tot op ‘n punt ook ‘n voorbeeld van ‘n goedbestuurde beskaafde land in die voorgenoemde lysie was. Disselboom weet nie so lekker of hy lotsgebondenheid met die Afrika-mense van Afrika voel nie – Afrika is oor die algemeen ‘n mishoop sonder hoop, behalwe waar die Europese invloed dinge opgebou het. Maar nou is Disselboom nie polities-korrek nie, en maar so aanmekaargesit om dinge eenvoudig te sien soos dit is.

KanekVra? ·

Uitstekende idee. My vraag? Wat van die Afrikaans sprekendes wat nie in Oranie bly nie. En word almal wat Afrikaans praat, ook ingesluit, ongeag hulle agtergrond of velkleur?

Dirk Breytenbach ·

Dis nou sommer ‘n moedswillige vraag. Moet ons elke keer eers sommetjies maak wanneer daar ‘n uitnodiging opdaag om te verseker dat die kwotastelsel toegepas is. Dit gaan oor die onderwerp van bespreking nie wie verteenwoordig vir wie nie. As iemand oorgeslaan is kan dit dalk per abuis wees of die gashere moes prioritiseer of iets. Gun mekaar spasie om saam te groei. Ons moet ophou op om met ‘n ideologiese bril na alles te kyk sodat ons samelewing kan normaliseer en almal kan deelneem aan ‘n verenigde en regverdige SA .

Karebel ·

Vroue is oor die algemeen meer ingestel op vrede maak en om hulle kinders in ‘n veilige omgewing groot te maak waar gesonde waardes vir hulle en hulle kinders beskerming bied. Vrouens se bymekaarkom op ‘n AWID-manier kan, myns insiens, lei tot netwerke van positiewe versterking van onderlinge vredesbande – in gesinne, gemeenskappe en kulture. Meer begrip en respek tussen gesinne, gemeenskappe en kulture strek die hele samelewing ten goede. Soms moet mens maar op ‘n harde manier met die werklikheid getref word: ons is uit Afrika – hier gebore en volk geword. Vir die Afrikaner, om die gras anderkant die draad as groener te bly sien – na amper ‘n halwe millenium – is soms ‘n onvredige manier om koning op jou eie mishoop te kraai, soos, aan die ander kant, die retoriek om Apartheid, kolonialisme of ‘witwees’ die skuld te gee vir alles wat verkeerdloop. Viva vroue uit Orania – wat die bakermat van die Afrikanerkultuur geword het! Op ander plekke is ons te versprei om ons kultuur op ‘n konkrete wyse uit te leef, te versterk of te behou. Dankie ook aan die Orania en die Orania Beweging vir die goeie verhoudinge met Mev Mbeki en AWID, wat tot die uitnodiging aanleiding gegee het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.