Die skokkende leesvermoë van SA kinders

lees-boek-seun

Foto: Tookapic/Pexels.com

Jy is verskoon as jy moontlik dink daar is iets fout met jou eie leesbegrip indien jy die syfers voor jou sien, maar ja, navorsing het nou gewys 78% van Suid-Afrika se 10-jariges kan nie met begrip lees nie.

Anders gestel: Net 22% van gr.4-leerders verstaan werklik wat hulle lees volgens die jongste Progress in International Reading Literacy Study, oftewel Pirls-navorsing. Vyftig lande het aan die navorsing deelgeneem en 12 810 leerders van 293 skole landswyd is in 2016 plaaslik hiervoor getoets. Suid-Afrika, een van net drie Afrika-lande wat deelgeneem het, het heel laaste gekom.

Van die ander hoofbevindinge uit dié navorsing sluit ondermeer in dat kinders se leesbegrip oor die laaste vyf jaar gestagneer het, nadat dit tussen 2006 en 2011 verbeter het. Terwyl 3% van gr.4-leerders in 2011 darem daarin kon slaag om die hoogste Pirls-maatstaf te behaal, het sleg 2% van leerders dieselfde maatstaf in 2016 behaal. Boonop lyk dit of die leesvermoëns van seuns besig is om agteruit te gaan terwyl dogters se leesbegrip oor die afgelope paar jaar dieselfde gebly het.

Terwyl die onderwysdepartement sedert die bekendmaking van die verslag walgooi en vinnig is om die vordering wat gemaak is uit te wys, is onderwyskenners deur die bank nie juis beïndruk nie.

In ʼn land waar die meeste van die leerders nie kan verstaan wat hulle lees nie, sal hulle kwalik gereed wees vir die vaardigheidseise van die toekoms in wêreld wat toenemend internasionaal mededingend is.

Sipho Maseko, Telkom se uitvoerende groepshoof, het by ʼn konferensie in November gesê Suid-Afrika behoort kodering as ʼn 12de amptelike taal aan te neem. Dit sal noodsaaklik wees om te verstaan hoe om te kodeer in die tegnologiese wêreld van die toekoms. Pieter Geldenhuys, ʼn toekomskundige verbonde aan die Noordwes-Universiteit, beaam die idee: “Maak nie saak watter taal jou kind praat nie, hy of sy moet kan kodeer – dit is die taal van die toekoms.” ʼn Edele idee, maar hoe leer ʼn mens ʼn kind kodeer as hy of sy nie eers kan verstaan wat hulle lees nie?

Verskonings en verduidelikings vir die uiters lae vlakke van kinders se leesvermoëns is ongelukkig nie aanvaarbaar nie, ons besef daar is alle talle planne beraam, programme ingestel en verskeie komitees en kenners kom elke jaar bymekaar om onderwysprobleme deur te trap. Maar in ʼn land waar daar so ʼn beduidende groot gedeelte van die regering se jaarlikse begroting aan onderwys afgestaan word, kan hierdie verskonings en verduidelikings eenvoudig net nie meer geld nie.

Dalk het dit tyd geword vir radikale introspeksie? Duidelik werk die bestaande planne en programme nie, asook die hope geld wat na die onderwysprobleme gegooi word nie.

Gelukkig hoef ons darem nie die wiel heeltemal alleen te herontwerp nie, daar is wêreldwyd talle voorbeelde van geletterdheidsveldtogte wat goeie vrugte afgewerp het. Die geletterdheidskrisis in Suid-Afrika vra egter ʼn dringendheid en fokus.

Ouers kan gerus skole vra hoe hulle kinders geleer word om te lees terwyl kiesers nou tydens die ANC leierskapverkiesing en in die 2019 algemene verkiesing druk op kandidate kan plaas om geletterdheid ʼn nasionale prioriteit te maak. Verder moet landsburgers verseker daar word deurentyd by hierdie prioriteit gehou.

En as jy ʼn geskenk aan iemand hierdie Kersfees wil gee, oorweeg dalk ʼn boek.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Denise ·

Lees is kennis ouers koop te maklik speelgoed inplaas van boeke !!!!!

Hendrik ·

Ek moet se as iemand my in (Graad 4) Std 2 vir my gevra het om in Engels te lees was my vermoe nog swakker as vandag se kinders. Ons het gelees in ons moedertaal. Volgens navorsing om geskool te word in ‘n taalmoet jy minstens ‘n woordeskat het van 2000 woorde. Engels het later gevolg. Kan jy sien hoekom nie moedertaal leerders nie die mas opkom nie? Volgens my is daar eenvoudig net te veel tv kyk die oorsaam dat moedertaal kinders nie lees nie. Kyk is maklik en in ons huis waar daar nie ‘n TV is nie en almal met ‘n boek sit sien jy eenvoudig dat die kinders ook boeke optel en lees. Beperk TV en maak boeklees aande. Ons moet ‘n slag glo wat opvoedkundiges se oor opvoekundigesake, net soos ons dokters glo oor gesondheidsake.

Klipspringer ·

Juis.

Moedertaal onderrig deur korrek-opgeleide en gemotiveerde onderwysers is die antwoord.

Jan Jooste ·

Esté Jansen is reg om die swak leesprestasie in verband te bring met die hoeveelheid belastinggeld wat aan onderwys spandeer word. SA is skynbaar van die lande met die hoogste onderwystoewysings per kind, in die wêreld. Die feit dan ons kinders dan van die swakste vaar in die wêreld, impliseer dat die oorwig van die onderwysinfrastruktuur uit skaamte moet bedank. Inteendeel, probeer hulle via die nuwe skolewet méér beheel in te palm – om ‘n groter gemors te maak!

Eish ·

Vir die massas, lê die probleem in die politieke agenda wat gedryf word. Ek gaan my verstout om te sê dat die resultate dalk wesenlike verskille gaan openbaar tussen skole en dan spesifiek skole wat uitstaan as eersteklas opvoeders.
Laasgenoemde, wat die gebreke in die stelsel kan identifiseer vanweë kundigheid, sal verseker die tekortkominge ondervang.

John ·

?… dus nie die leesvermoe nie maar begrip wat skort. Die inhoud is dus bo die vuurmaakplek van die meeste leerders. Miskien moet ons weer van leer
‘-linge’ begin praat en die hogere ‘-ders’ huistoe stuur. Die Westerse kultuur strek oor duisende jare. 300 jaar is ‘n kort tydjie om Afrika hierdie konsepte aan te leer wat nog in net 12 jaar vir die SA se swart jeug. Sendelinge het na 1652 plaaslike gesproke swart tale te boek gestel en die Bybel is steeds nie ten volle vertaal nie. Nou is Engels die inding om uitlanders wat hier maak en breek, te pas. Emosionele trauma heers in swart huishoudings omdat hul antieke kultuur in ‘n japtrap, soos by die instudeer van rolle vir ‘n opvoering, plek moet maak vir ‘n outentieke aanbieding van nuwe karakters binne ‘n vreemde kultuur. Die grootste probleem is dat Afrika nie besef hulle is in stres oor die skielike veranderinge nie… vandaar dat Jan die skuld kry. Moet die ‘Queen’ nie dalk ‘n slag die houe vat nie; die’ mense wat ‘n ronde huis as ongekultiveerd afgekeur het en Engels as die taal van engele verkondig het en so ‘n erge minderwaardigheidskompleks geskep het. Die gevolge is dat Afrika nou ‘menseregte’ en ‘witkapitaal’ probeer aanwend om ou Afrika-konsepte te laat vervloei met die vreemde Westerse ‘genetika’ in ‘n konkoksie wat ‘n vuurpyl tot by die son en verder sal kan lanseer.

Anoniem ·

Bring terug die beproefde metode om kinders te leer lees deur hulle te leer klank. Hierdie nuwerwetse manier om kinders te leer lees deur woordherkenning WERK NIE.

Reg! ·

My PhD het hieroor gegaan. Dis deur en deur bewys hoe belangrik kennis van die klanksisteem van die taal waarin jy leer lees is. Vroeë taalstimulasie is noodsaaklik; jy kan nooit te vroeg met jou baba (fetus) begin praat nie, lees nie, rympies opsê en liedjies sing nie. Belê tyd in jou kind. Sonder taal gaan hy sukkel. En ja, moedertaal is beste.

Heinrich ·

Moenie worry nie; ou Lesufi werk hard daaraan en het ‘n plan! Dis ongelooflik dat 22% gr 4 leerders dit gemaak het om met begrip te kan lees, en totaal en al onaanvaarbaar! Nou is daar nog steeds mense wat staatskapingsboeke kan lees en self besluit of wat hulle hoor die waarheid is; dit kan tog net nie, want dit pas nie in by die ANC se planne vir ‘n ongeletterde samelewing nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.