Gebrek aan kennis ’n ernstige bedreiging ten opsigte van kinderkanker

kinderkanker-kennis

Prof. David Stones en dr. Jan du Plessis van die
Universiteit van die Vrystaat se pediatriese
onkologiesaal help jong pasiënte, een
op ’n slag. Foto: Nonsindiso Qwabe

Volgens die Vrystaat se enigste twee pediatriese onkologiespesialiste is die gebrek aan insig en bewustheid van kinderkanker ’n groot probleem in die bestryding van dié siekte.

“Dit is frustrerend. Ouers en familielede weet niks daarvan nie. Verpleegsters en dokters is nie altyd klinies opgelei om die vroeë waarskuwingstekens raak te sien nie. Teen die tyd dat ’n diagnose gemaak word, is die kanse op lewe of dood 50%,” sê prof. David Stones, een van dié spesialiste.

Van die 23 pediatriese onkologiespesialiste in die land is Stones en dr. Jan du Plessis van die Universiteit van die Vrystaat die enigste twee in die provinsie.

Dié twee dokters, wat verbind is tot holistiese versorging van hul pasiënte, spesialiseer in alle soorte kinderkanker, waarvan leukemie, breinkanker en nefroblastoom die algemeenste is.

Hulle beskryf kinderkanker as ’n dodelike siekte met onvoorspelbaarheid as sy wreedste eienskap. “Met kanker weet jy nooit regtig nie. Dit presipiteer en vermeerder en lei tot die versaking van ander organe. ’n Mens kan maar net hoop en aanhou probeer,” sê Du Plessis.

Hulle eenheid, die pediatriese onkologie-eenheid van die Universitas- kkademiese hospitaal, is die besigste vloer in die hele gebou. Dit is ook die derde besigste eenheid in Suid-Afrika en bedien ’n bevolking wat strek oor die Vrystaat en Noord-Kaap, asook dele van Noordwes, Oos-Kaap en Lesotho.

Die eenheid kry elke jaar meer as 100 nuwe kinderkanker-pasiënte by. Die eenheid het in 2015 113 nuutgediagnoseerde pasiënte gehad, ’n toename van 93 in 2014.

Armoede, ’n gebrek aan hulpbronne, oorbevolking en ’n verskeidenheid gesondheidskwessies is ander faktore wat ’n diepgaande uitwerking op die diagnose en behandeling van die siekte het.

Om ’n bydrae te maak wat sal hou
Met die begeerte om ’n verbetering in die lewensresultaat van die gesondheidsektor te sien fokus die span daarop om die land se toekomstige dokters op te lei. Hulle eenheid is die enigste in die land wat mediese studente aktief by ’n onkologie-eenheid betrek en aan hulle praktiese ervaring en blootstelling gee in die individuele gevalle wat elke pasiënt bied. Hulle het ook ’n noemenswaardige hoeveelheid navorsingsliteratuur oor kinderkanker in Suid-Afrika as ’n ontwikkelende land geproduseer.

Gedryf deur passie vir ’n beter Suid-Afrika
Die dokters is passievol oor hulle werk en bly steeds hoopvol dat daar ’n verandering in die voorkoms van kinderkanker sal wees – nie net in verminderde vlakke van die siekte nie, maar ook in die algemene welstand van jong Suid-Afrikaners.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Gesondheid, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Ken ·

Ek is bly om te hoor daar is darm nog goeie nuus wat uit daardie Universiteit kom. Hou aan met julle goeie dade.

Jeanne ·

Kanker kry te min aandag en HIV te veel. Hoeveel geld stort die regering in kankernavorsing, voorkoming en behandeling van kanker teenoor HIV?

Elretha ·

Ons is so bly iemand begin nou die jong dokters betrek in die kinderkankersaal..Ons ondervinding was dat niemand geweet het hoe om die ouers te benader of om nie oor kinders se koppe te praat nie..Hulle verstaan alte goed.. Ouers het informasie nodig en dis beter om te weet wat aangaan. In die duister laat is swaarder. Dankie dr,s ons waardeer julle ondenemingsgees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.