Gr. 9-vakkeuses het verreikende gevolge

 

skool-vakkeuses-loopbaan

Vakkeuses in graad 9 kan maklik wees as ouers en leerders hulle navorsing doen. Foto: YeriLee/Pixabay.com

Gr. 9-leerders in duisende hoërskole van oor die hele land moet jaarliks vakke kies. Dit kan nogal ’n tameletjie wees – vir leerders én ouers.

Annette Taljaard, psigometris en projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum, benadruk dat ouers en leerders nie hierdie belangrike keuse vir later moet bêre nie. Gr. 9’s moet reeds vroeg in die jaar aangemoedig word om die verskillende opsies te ondersoek.

Waarom is die regte vakkeuses so belangrik?

Mandie het verlede jaar matriek geskryf en met ’n gemiddeld van 73% geslaag, maar sonder universiteitstoelating. Marinda, haar ma, vertel: “Sy het baie goed gevaar in Afrikaans, Engels, biologie, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie, maar van gr. 10 af met wiskunde en fisiese wetenskappe gesukkel. Mandie wou die twee vakke los, maar ons het haar aangemoedig om deur te druk. Dit was ’n groot fout gewees.”

Sy vertel verder dat Mandie se matriekjaar ’n nagmerrie was. Sy het die ander vakke afgeskeep in ’n desperate poging om wiskunde en fisiese wetenskappe onder die knie te kry – net om in elk geval sonder universiteitstoelating te slaag.

Menige ouer kan soortgelyke hartseer verhale vertel van die diep teleurstelling wat ’n gr. 12-leerder ervaar wanneer hy of sy besef dat tersiêre studie in die rigting van sy of haar keuse nie meer ’n opsie is nie.

Volgens Graad 10-vakkeuses, die Universiteit van Pretoria (UP) se gids vir gr. 9-leerders en ouers, gebeur dit ten eerste omdat leerders dikwels die verkeerde studierigtings kies. Ten tweede maak hulle nie seker dat hul gr. 10-vakkeuses met die toelatingsvereistes van die gekose studierigtings ooreenstem nie.

Wat is toelatingspuntetelling (TPT oftewel APS in Engels) en waarom is dit so belangrik?

Die TPT vorm deel van die minimum vereistes waaraan voldoen moet word voordat ’n kandidaat in ag geneem word vir toelating tot ’n spesifieke studierigting. Die TPT verskil van kursus tot kursus en van tersiêre instelling tot tersiêre instelling. By die Universiteit van Pretoria (UP), byvoorbeeld, is die vereiste TPT om toelating tot Ingenieurswese 30 punte en by Noordwes-Universiteit (NWU) 31.

Die berekening van ’n TPT is gegrond op ’n kandidaat se prestasie in enige ses vakke wat deur die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) hiervoor erken word. Daar is 20 erkende vakke op die lys. Die punt word bereken volgens die NSS se sewepuntgraderingskaal.

Indien ’n kandidaat dus net vyf erkende vakke neem, tel slegs hierdie vyf vakke by berekening van die TPT. Dit is problematies aangesien die TPT vir sommige vakrigtings baie hoog is. Dit is dus belangrik om reeds in gr. 9 die regte vakke te kies indien tersiêre opleiding oorweeg word.

Klik hier vir NWU se toepassing om ’n TPT te bereken.

Die Skole-ondersteuningsentrum beoog om ook later vanjaar ’n toepassing (toep, algemeen bekend as app) beskikbaar te stel wat ouers en leerders met loopbaanbeplanning sal help. Annette beskryf die app as ’n gratis eenstopdiens waar inligting oor universiteite en ander tersiêre instellings, vakkeuses en beroepskeuses beskikbaar sal wees. Die app sal ook help met die berekening van TPT’s.

Hoe gaan ’n mens te werk om die regte vakke te kies?

Volgens die UP-gids kan die volgende stappe gevolg word om seker te maak dat vakkeuses die leerder later eerder bevoordeel as benadeel:

  1. Versamel inligting oor moontlike beroepsgeleenthede. Die gids verduidelik: “Die doel met hierdie stap moet egter nie noodwendig wees om te besluit oor ’n spesifieke beroep nie, maar eerder oor ’n breë beroepsbelangstellingsveld, byvoorbeeld gesondheidswetenskappe.”
  2. Neem kennis van die struktuur van die NSS en die Onafhanklike Eksamenraad-sertifikaat.
  3. Vergewis jouself van die toelatingsvereistes om aan ’n tersiêre instelling te studeer. Dit sluit die departement van onderwys se statutêre minimum toelatingsvereistes vir graadstudies sowel as die verskillende instellings se spesifieke vereistes vir ’n spesifieke studierigting in.
  4. Kies tussen wiskunde en wiskundige geletterdheid.
  5. Besluit nou op ’n veilige vakkeuse vir gr. 10. Annette sluit hierby aan deur te verduidelik dat aanleg, belangstelling én persoonlikheid oorweeg moet word by vakkeuses.

Wiskunde of wiskundige geletterdheid?

Volgens dr. Carolina Botha, dosent in lewensoriëntering aan die NWU en vroeër hoërskoolonderwyseres in dieselfde vak, word die verskil tussen die twee vakke en die verreikende implikasie wat die keuse vir tersiêre opleiding inhou nie genoeg beklemtoon nie. Wiskunde is immers ’n vereiste vak vir menige tersiêre studierigting.

Tog beklemtoon sy dat ouers en leerders hulle nie teen wiskunde moet blindstaar nie. Almal is nie wiskundig aangelê nie en daar ís vele beroepsmoontlikhede vir leerders wat wiskundige geletterdheid as vak neem – ook op tersiêre vlak. Verder is dit ook ’n feit dat leerders wat met wiskunde sukkel en net-net aan die toelatingsvereistes voldoen ook later op tersiêre vlak met wiskundige vakke sukkel.

Die UP-gids sluit hierby aan: “’n Slaagpunt in wiskundige geletterdheid is vir ’n leerder beter as ’n druippunt in wiskunde … Dit is ook ’n feit dat hierdie leerders net so suksesvol in hul latere beroepe kan wees as hul kollegas wat wiskunde as vak geneem het.”

Botha beveel aan dat ouers en leerders wat onseker is oor die keuse tussen wiskunde en wiskundige geletterdheid hulself bemagtig deur soveel moontlik inligting bymekaar te maak en met kundiges te gesels. Slegs dán kan ’n ingeligte besluit geneem word.

Luister

Kenners het dit eens dat ouers en skole platforms moet skep waar leerders se vrae en bekommernisse rondom vakkeuses en toekomsbeplanning aangespreek word.

Volgens Botha is vakkeuses eerder ’n emosionele as suiwer akademiese ervaring. “Vakkeuses gaan dikwels gepaard met bekommernis en onsekerheid rondom aanleg, akademiese prestasie, universiteitstoelating en toekomsbeplanning,” verduidelik sy. “Dit is gewoonlik vir kinders die eerste tree na die beroepswêreld en kan  intimiderend wees vir leerders sowel as ouers. Hierdie spanning móét verlig word.”

Marinda beklemtoon: “Die grootste fout wat ons gemaak het, was om nie na Mandie te luister nie. Ons het gefokus op die feit dat sy goed presteer in haar ander vakke en nie besef dat sy glad nie wiskundig aangelê is nie. Ons het ook van die begin af ’n onrealistiese verwagting gehad en vas geglo dat sy wiskunde en fisiese wetenskappe móét neem om êrens te kom. Nóú weet ons dat dit nie die waarheid was nie.”

Liezel Lüneburg

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: In diepte, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae