Korrekte spelling ‘n belangrike vaardigheid

spelling

Argieffoto.

Hallo Susan,

My dogter is 11 jaar oud en sukkel met spelling. Alhoewel sy goed lees, spel sy woorde soos hulle klink: “terwyl” as “terwyel”, “koningin” as “konenhun”, ensovoorts. Ek is bekommerd dat hoërskool vir haar moeilik gaan wees. Het jy enige voorstelle?

Celeste

Hallo Celeste,

Die vermoë om korrek te spel is dwarsdeur ʼn mens se lewe ʼn baie belangrike basiese vaardigheid. Wanneer mens sukkel met spelling, is dit nie net jou skoolwerk wat daaronder ly nie, maar dit benadeel ook later jou kanse in die werkplek.

ʼn Opname deur “Office Angels”, toonaangewende sekretariële en kantoorpersoneel-konsultante in die Verenigde Koninkryk, onder 1500 werknemers en werkgewers, het weereens die belangrikheid van spelling en grammatika beklemtoon.

Volgens hierdie opname het 84% van die werkgewers bevestig selfs die beste werk is waardeloos weens verkeerde spelling en foutiewe grammatika. Dit het ook gewys 77% van die werkgewers beskou ʼn hoë mate van lettergeleerdheid as ʼn onontbeerlike vaardigheid en dat werknemers wat ʼn oog vir detail het, eerder in ag geneem word vir bevordering.

Werk wat swak spelling en grammatika bevat, het 20% van die werkgewers gewoon kwaad gemaak, terwyl 53% sulke werknemers as lui en onprofessioneel beskou. Dieselfde persentasie bestuurders — 53% — het erken hulle lees eenvoudig nie eens verder wanneer hulle spel- en taalfoute opmerk nie.

Dit is dus wys om seker te maak ʼn kind se spelvermoë is op standaard.

Net één volgorde is reg

Wanneer dit kom by spelling, is daar nie ruimte vir kreatiwiteit nie. Slegs een volgorde of lettergroepering kan as korrek aanvaar word. Daar word nie toegewings gemaak nie.

Die feit dat daar “moeilike” woorde in Afrikaans is, wat veral te make het met dubbel- teenoor enkelkonsonante (soos plassie/plasie), vokaalverwarring (soos waardeur/waardeer), skryftekens (soos essensieel/essensiële), verkleining (soos kringetjie/kettinkie) en los of vas (soos op pad/huis toe), maak dit nog moeiliker.

Leer is ʼn stap-vir-stap proses

Wanneer ons onderrig gee, moet ons deurentyd daarvan bewus bly dat leer stap-vir-stap geskied. Sekere vaardighede moet eers aangeleer word voordat dit moontlik is om daaropvolgende vaardighede te bemeester.

Alhoewel die meeste kinders dit moeilik vind om te leer spel, is dit veral moeilik en somtyds selfs onmoontlik as die kind ʼn onderliggende vaardigheidsprobleem het. Daar is ʼn klomp grondvaardighede wat in plek moet wees voordat ons kan leer spel. Die grondvaardighede wat veral van belang is, is:

1.) die vermoë om te analiseer, om die afsonderlike dele van die geheel raak te sien,
2.) ouditiewe prosessering van klanke sowel as ouditiewe geheue,
3.) dekoderingsvaardighede, en
4.) visuele reeksgeheue.

Leemtes in een of meer van hierdie grondvaardighede kan ʼn negatiewe effek op ʼn persoon se vermoë uitoefen om te leer spel.

Die eerste stap is dus om te bepaal wat die onderliggende tekortkominge is en dan daardie leemtes deur onderrig aan te spreek. Indien jy my laat weet waar julle woon, kan ek iemand aanbeveel wat julle hiermee kan help.

Terwyl mens besig is om die grondvaardighede te verbeter, kan jy tuis baie doen aan die vaardigheid om te spel, soos om die vier spel-speletjies hieronder te speel.

Spel-speletjie 1: Bordspeletjies

Gebruik ʼn bordspel soos Monopoly of enige spel waarin dobbelstene gebruik word. Die ouer en kind speel die spel, maar terwyl die ouer gewoon haar speelstuk aanbeweeg nadat sy die dobbelsteen gegooi het, moet die kind ʼn woord hardop spel voordat sy kan aanbeweeg.

Soek woorde wat die kind gewoonlik verkeerd spel uit haar skoolwerk en maak woordkaartjies van hierdie woorde. Ek stel tussen 20 en 30 woordkaartjies voor. Gebruik hierdie woordkaartjies wanneer die bordspel gespeel word. Wanneer die kind hierdie woorde vlot kan spel, kan die ouer ander woorde gebruik. Die ouer moet die woordkaarte behoorlik skommel en hulle in ʼn hoop onderstebo op die tafel neersit.

Wanneer dit die kind se beurt is om te speel, neem die ouer die boonste kaartjie en spreek die woord daarop hardop uit. Die kind moet dan die woord spel. Indien sy dit korrek spel, beweeg sy haar speelstuk soveel plekke vorentoe as die aantal letters in die woord. Met ander woorde, indien die woord sewe letters het en sy spel dit reg, kan sy haar speelstuk sewe spasies vorentoe beweeg. Daarna word die woordkaart eenkant gesit.

Indien sy egter die woord verkeerd spel, wys die ouer die woord vir haar en die kind moet dit dan drie keer hardop spel terwyl sy die woord sien en daarna drie keer sonder om na die woord te kyk. Daardie kaartjies (waar die kind die woorde aanvanklik verkeerd gespel het) word onder in die pakkie geplaas, sodat hulle weer later sal voorkom. Indien sy ʼn woord verkeerd spel, bly haar speelstuk op dieselfde plek vir daardie rondte.

Spel-speletjie 2: Woordbou

Gebruik die letters van ʼn spesifieke woord en bou nuwe woorde daarmee. Sou jy byvoorbeeld die woord “uitsondering” gebruik, skryf dit op ʼn stuk papier en sit dit voor die kind neer.

Die doel van die spel is dat die kind ʼn lys maak van al die woorde waaraan sy kan dink deur slegs gebruik te maak van die letters in die woord op die papier voor haar. Mens kan ook ʼn kompetisie van die speletjie maak: die ouer kan saam met die kind woorde maak en die wenner is dan die een wat die meeste woorde reg gespel het.

Daar is gewoonlik baie woorde wat op hierdie manier gebou kan word en op ʼn indirekte manier word die oorspronklike woord geoefen, terwyl baie ander woorde se spelwyse getoets word. ʼn Paar voorbeelde van woorde wat gebou kan word uit die letters van “uitsondering” is: ringe, tong, deur en ding.

Elke letter mag slegs eenkeer in ʼn woord gebruik word. Die letter “n” kom twee maal in die woord “uitsondering” voor en daarom is die woord “sonne” aanvaarbaar. “Stuur” is egter nie aanvaarbaar nie, want “u” word net eenkeer in die woord gebruik.

Voorbeelde van woorde wat gebruik kan word is alfabeties; misverstand; geloofwaardigheid; opvoedkunde; vriendskap; deursettingsvermoë; vrygewigheid.

Spel-speletjie 3: Skommel letters

ʼn Interessante manier om spelling te oefen is om letters te skommel. Die kind moet dan woorde wat hy reeds ken, uit die warboel letters bou.

Kies woorde uit die kind se skoolwerk. Skryf die letters deurmekaar op ʼn stuk papier. As die geskommelde letters bv. “behrger” is, moet die kind die letters herrangskik om “herberg” te lees.

Spel-speletjie 4: Naam, van, dier en dorp

Beide spelers (ouer en kind) het papier en potlood hiervoor nodig. Skryf die 26 letters van die alfabet op die papier en kies lukraak enige letter. Die ouer en kind moet dan, so vinnig as moontlik, ʼn naam, ʼn van, ʼn dier en ʼn dorp wat begin met die letter, neerskryf. Die een wat eerste klaar is, gee die ander slegs 5 sekondes en sê dan, “Stop”. Alle potlode word dan neergesit.

Elke woord wat korrek gespel is, verdien tien punte. Indien beide ouer en kind presies dieselfde woord onder een van die opskrifte het, soos dieselfde dier, word slegs 5 punte toegeken indien die woord reg gespel is.

Voorbeeld: Veronderstel die letter “d” is gekies:

Name: Danie, Dorothea, Dawid

Vanne: Dippenaar, Deysel

Diere: Donkie, dassie, duiker

Dorpe: Dullstroom, Durban

Celeste, ek vertrou hierdie inligting gaan daartoe bydra dat jou dogter se spelling sommer vinnig verbeter.

Alles van die beste.

Susan oor Skoolkwessies

Vra vir Susan oor Skoolkwessies:

Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan [email protected] Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ʼn skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.

Meer oor Susan:

Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 470 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Hennie ·

Swak spelling kan seker 90% terug verwys word na die swak curriculum wat by skole toegepas word.

Zbc ·

Ek dink die swak spelling is ook deels die ouers se skuld en spesifiek dié wat sosiale netwerke gebruik en nie omgee hoe hulle woorde gebruik nie. Ek gebruik graag die sosiale platforms as voorbeeld (Facebook, Twitter, Mxit ens). Woorde word verkort (let wel nie afgekort nie) op so wyse dat geen mens kan verstaan wat die persoon eintlik probeer sê nie, maar as dié einste persoon wel woorde volledig spel, dan word dié woord ook verkeerd gespel. Maklike voorbeelde – “reen” instede van reun (verwysend na die manlike geslag van ‘n hond); “waardeur” as waardeer; “breuk” of “gebreuk” instede breek of gebreek; “hartloop” instede van hardloop en “borsluis” instede van bosluis. Dis nou die voorbeeld wat vir die kinders gestel word en hulle word nie reggehelp nie.

Maar, mens moet ook verstaan dat daar werklik mense is wat probleme het en wat daartoe bydra dat daardie mense werklik nie kan spel nie soos disleksie byvoorbeeld, alhoewel disleksie eintlik meer gaan oor die omruil van letters wat veral algemeen is met “d” en “b”.

Ons moet net almal harder probeer om goeie voorbeelde vir ons kinders daar te stel sodat hulle op hul beurt dit weer aan hulle kinders kan oordra EN elke outjie ‘n plekkie onder die son gun.

Elizabeth ·

Ek hoop Susan Lombard (“‘n Brief aan die tannie* wat so kla) lees veral die eerste deel van hierdie artikel …

Christo ·

Kan die rubriek skrywers van die Afrikaanse dagblaaie nie baat vind by speltoets op ‘n weeklikse basis nie? Die algemene spel foute wat begaan word is ‘n skreiende skande. Dit wil voorkom asof swak spelling die norm word met sekere woorde. Dieselfde persoon gebruik die dieselfde verkeerde spelling in verskeie artikels. Is daar nie iemand wat dit raaksien en die skuldiges aanspreek nie?
Ek vra maar net

Elizabeth ·

Christo, jy durf die rubriekskrywers nie aanvat nie, want dan word jy summier gereduseer tot en afgemaak as ‘n “oom” of ‘n”tannie” …

Henry ·

Elizabeth
Afgesien van die ‘oom’ en ‘antie’ plakkaat. (Jis, amper het ek ‘newwirmaaind’ gesê!!!)
Sommige ‘skryfsters’ vee sommer enige plaksel uit wat dit durf waag om op tong in die kies wyse te verskil van die ‘hoog-edeles’ se koddige standpunte.

Gert ·

Christo, ek kom agter dat rubriekskrywers deel is van ‘n kleiner wordende groep wat net nie meer subredakteurs van gehalte kan voortbring nie. Maar jy kan ook iets daaraan doen, want ek sien jy sukkel ook maar. Jou woorde “rubriek skrywers” en “spel foute” is samestellings wat dus as een woord geskryf behoort te word. My taalkunde-vader, prof Benediktus Kok (later UOVS-rektor), het hierdie eenvoudige reël gegee: In Afrikaans word opeenvolgende selfstandige naamwoorde in 95% vd gevalle as een woord geskryf.” Hoop jy kan dit toepas.

Wicus ·

Foutiewe spelling kan nogal baie pla, maar mens moenie die boodskap daaroor afskiet nie. Foutiewe spelling kan ook die betekenis van ‘n sin nogal omkrap.

Ek kom agter by myself tree daar spel verwarring in omdat ek meer Engels as Afrikaans lees en dan help die tablet ook nie juis nie.

Penellope Jones ·

Ons het elke liewe Maandagoggend in die laerskool speltoetse geskryf! Ek was absoluut gek daaroor dwarsdeur my skoolloopbaan en kon nooit wag vir speltoetse nie!

Paplepel ·

Ek sal graag will weet wat die mense met al die tyd doen wat hulle spaar wanneer hulle nie hulle getikte werk nagaan voor hulle pos nie. Dit moet waarskynlik ure wees wat hulle spaar as hulle woorde afkap tot waar niemand kan verstaan wat die betekenis was nie. Ek hoop hulle gebruik daardie tyd vrugbaar.

charlene ·

Spelling, aai ek wens so mense kan reg spel! Julle sal nogal verbaas wees oor hoeveel groot mense nie kan spel nie, maar as ek aan spelling dink, dink ek an Juffrou Rita Smit. Daai juffrou kon spel – en langer as 10+jare later onthou ek dit alles – waardEEr alles juffrou.

Christo ·

Elizabeth
Ek en seker heelwat van die gesprek voerders op hierdie forum, is nie opgelei om openbare artikels te publiseer nie. Daarom glo ek is dit ons seker veroorloof om ‘n tikfout of twee te begaan.
Maar diegene wie se beroep dit is om te skryf en te publiseer, kan waaragtig die moeite doen om op hul spelling te let.
Dit kan vergelyk word met ‘n fout wat proffesionele persone in die mediese veld of selfs in die lugvaart bedryf maak.
Indien opleiding verskaf word, sorg dat die eind resultaat jou kliente waardig is.
Ek wil graag glo dat in die drukkers bedryf is korrekte spelling van kardinale belang.
Swak spelling deur hierdie groep persone is net so oneties soos swak dienste gelewer deur ‘n dokter.

Theresa ·

Ja! Kom ons bly speltrots.
Help dat ons nooit afwater tot die belaglike voorbeelde van die mooie Engels wat verwring word van super na supa; quicker na quicka; short na shot, ens., ens. nie.

Taaltrots (in enige taal) is werklik belangrik. Dit hou die koppe hoog.

Ina Smith ·

Ek tik elke dag ( CV’s) vir persone en dit is skrikwekkend om te sien hoe die persone spel. Afrikaans sowel as Engels . Op die sosiale media ( FB)is dit nog erger en ek aanvaar nie die verskoning dat dit ‘ SMS/ Cell foon taal is nie . My taal is my trots maak nie saak watter medium ek gebruik om mee te kommunikeer nie.Mense het lui geword agv tegnologie . Onderwysers mag ook nie foutiewe spelling korrigeer nie en ouers stel nie belang nie. Dit is nogal ‘n jammerte .

Oom Boer ·

@ Ina Smith, verneem graag van jou asb aangaande CV samestelling. Dit is sekerlik van kardinale belang om die regte spellings formaat en sin gebruike toe te pas, maar asb mense verskoon dan ook ons ou gardes “Omies en Tannies” van die Ossewa en Donkie tydperk as ons ‘n ou menslike foutjie begaan, want ons was darem nou nie in daardie tyd so begaafd met alle tegnologieë van deesdae nie. “Afrikaans is my erfenis”

Pendoring ·

Wanneer iemand vir my ‘n SMS of ‘n WhatsApp stuur met geradbraakte taal daarin, vra ek gewoonlik hulle moet dit weer stuur want “ek sien daar is iets met jou foon se sleutelbord fout”. Party kry die boodskap. Ek sien dit as ‘n vorm van disrespek teenoor my as leser.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.