Ouerskap = Hernuwing

Argieffoto (Foto: skalekar1992/Pixabay)

Ek is mal oor die hernuwende uitwerking wat ʼn Desembervakansie op mens het – maak nie saak of jy met Jan Tuisbly se karretjie gery, ʼn blaaskans by die see gehad het, die wildtuin se stilte gaan opsoek het of dalk sneeu in Europa gaan soek het nie. Dit maak nie saak hóé moeg en voos mens was aan die einde van die vorige jaar nie, alles voel sommer nuut as die jaar begin.

Dat ʼn paar dae se wegbreek van die normale roetine so ʼn groot invloed op ʼn mens se geestelike gesondheid kan hê, is eintlik skrikwekkend. Ek besef dan eers hoekom dit so belangrik is om gereeld hierdie tipe blaaskanse te vat.

Maar watter hernuwing is dit wat ek nodig het so aan die begin van die nuwe dekade?

As mens met vakansie is, is daar mos ewe skielik soveel meer dinkkans en jou denke raak sommer helder. Dalk ook omdat daar gewoonlik meer hande beskikbaar is om te help met die kinders en mens weer tyd kry om bietjie jou eie denke te hoor sonder kinderstemme wat dit oorheers… Die moegheid het my omtrent oorval tydens die vakansie en al die hulp was baie welkom.

Ek wonder egter: Waarom is ek só pootuit aan die einde van ʼn jaar? Ek werk nie meer voltyds nie, maar ek moet nog steeds tussen my eie onderneming, die lewe en kinders probeer ekwilibrium vind. Ek het ʼn heerlike tyd saam met my kinders en ek kan my afsprake rondom hulle daaglikse aktiwiteite organiseer. Ons kan saam dinge doen en baie kwaliteittyd hê. Waarom is ek aan die einde van elke dag en jaar dan so moeg?

Toe tref dit my: Vandat my kinders gebore is, is ek deurgaans besig om aan myself te werk; heeltyd besig om myself te hernu. Geestelik en emosioneel uit te daag.

Want sien, ek het tot die besef gekom, dit maak nie saak hoe hard ek aan my kinders se maniere, dissipline, (in ons geval) Christenskap en gesondheid werk nie, hulle gaan dit net aanleer as ons dit doen.

Ouerskap is die grootste innerlike makeover wat enigiemand kan ondergaan.

Ek glo dis hoekom dit so uitputtend is vir my en hoekom ek aan die einde van die jaar só pootuit is. Dalk nie altyd fisies nie, alhoewel hierdie twee seuns my ʼn goeie gymsessie gee, maar geestelik is ek tot my uiterste gestrek. Nie omdat ek nie wil “ma” wees nie, maar omdat ek die beste ma wil wees wat ek kan, verg dit konstante bewustelikheid van my.

Dalk is dit my persoonlikheid, want ek het nog altyd 150% in al my verhoudings gesit, en in hierdie geval is dit selfs nog meer intens, want ek besef elke dag dat ek verantwoordelik is vir hierdie twee seuntjies se “eindresultaat” eendag. As ek nie nóú aan hulle maniere, morele-kompas, denke, gedrag en gesondheid buig en snoei nie (in die woorde van Hettie Brittz), gaan hulle nie eendag die manne wees waaroor ek hoop en droom nie.

Dis toe ek egter wil moedeloos word om daaraan te dink hoe ek al hierdie dinge gaan regkry voor dit te laat is, dat ek besef dit is net moontlik met twee goed: gebed en voorbeeld.

Ek het my jongste dopgehou en gesien hoe hy alles nadoen wat sy oudste boetie doen. Alles. Goed of sleg.

En daar is die rede hoekom ek so moeg is aan die einde van die jaar. Ek is besig om myself die beste ek te maak wat ek kan wees, elke liewe oomblik van die dag, want dis wie ek wil hê my kinders moet navolg. Alles waaraan ek elke dag dink en voor hoop hulle innerlik en moreel moet wees, moet ek nou ook doen, want op hierdie ouderdom luister hulle in elk geval nie altyd rêrig na dit wat ek sê nie… Hoe hartseer en moeilik dit ook al vir ʼn ouer is om te aanvaar. Ewe skielik moet ek alles wat ek nog altyd nie wou wees nie, oorkom.

Ek moenie my humeur verloor as ek ongelukkig raak nie; ek moet tot tien tel voor ek reageer op ʼn motor wat voor my inry; ek moet dinge verduidelik wat Google nie eens kan nie; ek moet emosies uitlê wat ek nie geweet het ek kan hê nie; ek moet gesond eet en gereeld probeer oefen (makliker gesê as gedaan as emosionele eetgewoontes jou lewe betree), en ek moet bowenal die geduld van Job hê, om net ʼn paar te noem.

Want as ek nie al hierdie dinge het of doen nie, hoe moet ek van my kinders verwag om dit te hê of selfs te weet wat dit is?

Ek moes aanvaar dat kinders ʼn skoon bladsy is. Alles wat hulle doen het hulle iewers gesien, gehoor of opgetel langs hulle kort lewenspad. Daarom is dit so bitter belangrik wat ons in hulle lewens inspreek en waaraan ons hulle blootstel. Die spreekwoord “klein muisies het groot ore”, het vir my duidelik geword toe ek dinge uit my kinders se monde hoor, wat ek toe moes erken hulle by ons gehoor het. Gelukkig was dit nog nie erge goed nie, en ons kon daaroor lag, maar die realiteit het vir my baie duidelik geword.

Kinders is die beste spieël waarvoor enige ouer kan vra. Hulle laat jou hard en diep kyk na jouself, en ek weet net dat ek nie iets in hulle wil sien waarvan ek nie hou nie, want dit gaan heel moontlik net ʼn terugweerkaatsing wees van dit wie ek is. En op hierdie jong ouderdom kan ek nog ʼn invloed hê, en dit moet ʼn goeie een wees.

Uiteindelik weet ek dat dit gelukkig nie net ek is wat die finale sê het nie. But for the grace of God… Nou rus my hart in die wete dat ek my deel doen tot die beste van my vermoë, al is dit met klein geloof en baie selfhernuwing en -beheersing, en altyd op my knieë bly vir hulle tot die dag wat ek doodgaan. Maar tot dan sal ek aanhou kyk in hierdie spieël en vra: Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, hoe kan ek verander hierdie jaar, van my kant?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Gemaskerde Sopbeen ·

Binnekort hang my drie spieëls in ander lande vêr van hier…….waar hulle hulle heil kan uitwerk aan die hand van die voorbeeld wat ek gestel het, die karakter wat ek gebou het, die dissipline wat ek gehandhaaf het, die talent wat ek ontwikkel het…..en nie onderdruk word as gevolg van die kleur van hulle vel nie. Ten spyte van wie ek is, vat hulle my blykbaar saam………..sodat hulle kan bly kyk in die spieël wie ek vir hulle is!! Is dit nie fantasties nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.