Speel jou kind genoeg?

(Foto: Annie Spratt/Unsplash.)

In Suid-Afrika begin die leesproses reeds in gr. R, maar plaas dit nie onnodige druk op ons kinders nie? As hulle so jonk moet begin met formele leer, steel ons nie van hulle speeltyd nie? Speel maak juis deel uit van ’n kind se ontwikkeling.

Die skrywer en spraakterapeut Christien Neser skryf in haar boek Help! My kind is anders dat kinders in Finland eers op sewe jaar aan formele lees blootgestel word. Tog word Finland se opvoedingstelsel as een van die beste ter wêreld beskou. Is ons hier in Suid-Afrika en ook ander lande dan op ’n dwaalspoor?

Afrikaans.com het by Neser gaan kers opsteek.

 Dit lyk asof die Finne die resep vir leer amper vervolmaak het en die aanvang van formele leer tot later uitstel. Kan jy meer hieroor sê?

CN: In die woorde van ’n Finse kleuterskoolhoof, Tiina Marjoniemi: “Ons [die Finse skoolstelsel] glo dat kinders onder sewe nog nie skoolgereed is nie. Hulle het tyd nodig om te speel en om fisiek aktief te wees. Dit is ’n tyd vir kreatiwiteit.” Die eerste sewe jaar van ’n kind se lewe is die laaste kans wat hulle kry om vry te speel en om hul kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. In Brittanje begin formele lees reeds op vier. In Finland eers op sewe. En tog lyk dit nie of die Finse kinders enigsins daardeur teruggehou word nie. Inteendeel, met die 2016‑Pirls-studie, waarin die graad 4’s van 50 lande vir geletterdheid getoets is, het Finland in die top‑5 presteer, saam met lande soos Ierland en Rusland. Die Britte was in 8ste posisie, wat aandui dat die drie jaar wat hulle vroeër met formele onderrig begin, nie ʼn beduidende verskil maak nie. Suid-Afrika was ongelukkig heel laaste.

Hoekom is speel, veral op voorskoolse vlak, so belangrik?

CN: Dit is ’n vraag wat ’n hele dik boek as antwoord verg. Maar kortliks: Kinders leer deur te beweeg. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne sê dat kinders onder vyf nie langer as ’n uur per dag in ’n stoeltjie moet wees nie, nie meer as 60 minute skermtyd moet hê nie en vir ten minste 180 minute aktiewe beweging en spel moet hê in ’n 24‑uur‑periode. Daarvan moet ten minste 60 minute kardiovaskulêre oefening wees, dus hardloop, spring en buitespel. Slaaptyd moet ten minste 8 tot 10 uur per 24 uur beloop.

Arbeidsterapeute en fisioterapeute kan nie genoeg predik dat kinders moet speel nie. Buitespel leer hulle waag. Vaardighede soos balans, koördinasie, beplanning, probleemoplossing, groot- en fyn-motoriese ontwikkeling, asook sensoriese ontwikkeling vind so speel-speel plaas. Eers as hulle kernspiere (core muscles) en hul balans en propriosepsie voldoende ontwikkel het, kan ons verwag dat hulle by ʼn tafeltjie moet sit en met papier‑en‑pen‑aktiwiteite moet slaag. As ʼn kind nog nie gereed is vir die formele leerproses nie, dus nog nie genoeg gespeel het nie, lei dit dikwels tot angs. Hierdie outjies kry die goed nie reg soos hul maatjies nie. Hulle kan nie so mooi verf of so lank stilsit nie.

Skielik is die leerproses sommer in sy peetjie in, want ʼn angstige kind se brein word oorspoel met adrenalien, wat weer die amigdala stimuleer (die oerbrein) en dadelik ’n veg- of vlugreaksie aan die gang sit. Die angstige outjie kan veg (opstandige gedrag, weiering, woedebuie) of vlug (onttrekking, huil, skaamte), maar van formele leer gaan daar nie veel kom nie. Te veel kinders wat té vroeg formeel begin leer, word gespanne onderpresteerders, wat dikwels eers in hul tienerjare die gaping oorbrug.

Foto: Ashton Bingham/Unsplash.com

Wat is die verskil tussen gestruktureerde spel en ongestruktureerde spel?

CN: Gestruktureerde spel is dit wat deur ’n volwassene gelei word. Daar is apparaat en daar is voorskrifte. Reëls moet gevolg word sodat ’n doel bereik kan word. Dit kan aktiwiteite wees soos ’n legkaart wat saam gebou word, ’n model wat saam aanmekaar gesit word, ’n hindernisbaan of selfs ’n sportsoort, soos sokker of netbal. Spesifieke vaardighede word so gebou.

Ongestruktureerde spel is sonder ’n spesifieke doel en is suiwer kreatief en vir die lekkerte. Dink aan boomklim, fietsry, popspeel, karretjies, huis-huis. Dit stimuleer kreatiewe denke, om buite die boks te dink.

By ’n goeie kleuterskool sorg die program dat kinders aan albei soorte spel blootgestel word.

Met die tegnologie wat al hoe meer deel raak van die leeromgewing en natuurlik sy voordele ook het, is ons kinders van kleins af blootgestel aan selfone, tablette, rekenaars en die TV. Skermtyd oorheers dus dikwels hul lewens. Het jy riglyne vir ouers oor hoe om dit beter te bestuur?

CN: Met die WGO se riglyn van slegs een uur per dag skermtyd vir voorskoolse kinders, sal die meeste ouers sukkel. Skermtyd sluit ma se slimfoon, die televisie, die rekenaar en rekenaarspeletjies in. Oor naweke kan ouers die reëls aanpas, veral as hulle saam met die kinders ’n lekker fliek of interessante programme op TV wil kyk. Om saam met ’n kind TV te kyk, het groot waarde. ʼn Mens kan dan nog dae ná die tyd oor die storie gesels. Dit is hoe woordeskat en logiese redenasie gebou word. Morele waardes word ook gebou as ʼn mens saamgesels oor die reg en die verkeerd in die storie.

Wat van rekenaarspeletjies of iets soos ʼn Xbox? Wel, ouers moet saamspeel. Dit gee hulle ’n kykie in hul kind se geheime speletjiewêreld. En ’n dom ma of pa moet mooi verduidelik word hoe dinge werk: dit is uitstekend vir ’n kind se taalontwikkeling om die reëls aan hulle te verduidelik.

As skermtyd ingeperk word, moet ouers regstaan met iets om daardie gaping te vul. Saam lees, saam buite speel, saam bak en brou, legkaart bou of kaart speel is alles heerlik en opvoedkundig, al kos dit ’n ouer se duurste kommoditeit. Tyd.

Maak ’n gelukkige kind groot

Neser gee nog raad: Moedig jou kinders aan om buite te speel. Klouter, swaai, met ’n bal speel, modderkoekies bak, trouens enige iets wat die kind se verbeelding vrye teuels gee, is goed vir jou kind se ontwikkeling. Speel bied kinders die geleentheid om hulle omgewing en die wêreld op ’n kreatiewe manier te verken. Terselfdertyd ontwikkel aktiewe spel gesonde en aktiewe liggame en leer kinders vaardighede aan wat bydra tot hulle selfvertroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae