Studie onthul tienerverhoudings vol manipulasie

Foto ter illustrasie. (Argieffoto.)

Hy is ’n jong, aantreklike krulkopseun. Skraal gebou met donker oë. Sy glimlag is gemoedelik en hy lyk gelukkig en ontspanne. Hy leun agteroor in haar arms. Sy, ’n beeldskone blondekop met wakker oë en ’n atletiese lyfie. Maar die eens mooi jong liefde het uitgeloop op die koshuistragedie wat skokgolwe deur die land gestuur en die mense in drie jongmense se onmiddellike kring uitmekaargeskeur het.

Die jong man glimlag nie meer nie. Hy staar uitdrukkingloos voor hom uit terwyl die hof hoor hoe hy daardie mooi meisie en dié se beste vriendin, sy niggie, brutaal vermoor het.

Dié rillerstorie speel hom egter daagliks in tienerverhoudings af. ’n Studie deur dr. Louisa Stoker-Braun onder jong Afrikaanse tieners toon dat hedendaagse tienerverhoudings vol manipulasie, mishandeling en vernedering is. Die studie is deur die nuwe aanlyn videokanaal, GLOmedia.tv onderneem as inset vir ’n episode oor verhoudingsgeweld in hul tienerreeks genaamd Breinpouse.

Die studie toon dat sarkasme en vernedering algemeen is en in 72% van tienerverhoudings voorkom. In 58% van die verhoudings is beledigings en beskuldigings ’n groot deel van paartjies se daaglikse kommunikasie en 56% van die tieners het erken dat hulle al die slagoffer van een of ander vorm van fisieke mishandeling was. ’n Skokkende 36% het al ’n vorm van seksuele mishandeling beleef.

Dr. Louise Stoker-Braun is ’n pastorale berader en een van die programaanbieders vir GLOmedia.tv. In die video praat sy reguit en prakties oor die sewe eienskappe waaraan manipuleerders uitgeken kan word. Sy waarsku oor die aanvanklike bekoorlike en sjarmante belangstelling wat dan later tot leuens, blaam en beheersugtigheid oorgaan. Dan kom die besitlikheid, isolasie en uiteindelike brutaliteit. Uiteindelik moedig sy tieners aan om hulp te kry as hulle hierdie verhoudingseienskappe in hul eie, of ’n ander verhouding bespeur.

Vyftien jaar gelede was ouers bekommerd oor wat tieners agter toe deure aanvang. Die meerderheid verhoudingsgesprekke vind deesdae op WhatsApp plaas. Dit is dikwels vir ouers skokkend om te ontdek dat die tiener wat met hulle sit en gesels in die sitkamer gelyktydig ’n gesprek van ’n heeltemal ander aard op hul foon kan voer.

“Ek het agtergekom my tiener maak skelm WhatsApp-video-oproepe. Toe ek die gesprekke begin deurgaan, het ek afgekom op stringe boodskappe wat uitgevee is en as ek nie geweet het hierdie is my kind se foon nie, sou ek eenvoudig nie glo dat die boodskappe wat ek lees, deur my kind getik is nie,” het ’n bekommerde ouer, wat anoniem wil bly, gesê.

“My kind op die WhatsApp-boodskappe is vir my ’n vreemdeling. Sy sal nooit ooit  sulke gesprekke hardop voer nie. Sy is gelyk die slagoffer van manipulasie en die manipuleerder. Wanneer die ander party langer as ’n minuut of twee vat om te antwoord op die WMJ (wat maak jy?) waarmee amper elke gesprek begin, is daar ’n rits paniekboodskappe wat wissel van “wil jy nie meer met my praat nie…” “is jy nog lief vir my...” tot “as ek jou vang met iemand anders chat los ek jou. Jy gaan nie op my cheat nie…”

Wat my baie bekommerd gemaak het, is dat dit my oopkopmeisiekind net die twee uur in die bus van die byeenkoms af tot by die skool geneem het om van ’n skaam “Hallo” te vorder tot by “Jy is vrek sexy en ek is lief vir jou my baby”.

“Hoe kan ek ‘toesig’ hou oor hierdie verhoudings wat soos paddastoele opspring en blom voor dit saadgeskiet het?”

Die emosionele wipplank waarop tieners ry, is erg genoeg. Om te leer hoe om op ’n nuwe vlak met lede van die teenoorgestelde geslag te kommunikeer en te funksioneer terwyl jou hormone vinniger as jou bloed in jou lyf pomp, is moeilik genoeg. Om te weet waar om die grense te stel vir liggaamlike kontak is moeilik genoeg. Daarom kies tieners die “veilige afstand” van die foon om te kommunikeer, maar dit is dikwels juis dít wat dit dan ook vir tieners “veilig” laat voel om te sê net wat hulle wil. En dan beland hulle vinnig in die diep kant. Want die skermwêreld is nie die regte wêreld nie. Die grappies op TikTok is dikwels in die werklike lewe glad nie so snaaks nie, want dit maak verhoudingsgeweld en seksuele gesprekke aanvaarbaar, romanties en pret.

Hoe kommunikeer ons dan met tieners as hulle wegskram van interpersoonlike kontak vir diep gesprekke en eerder hul fone verkies?

“Dít is een van die groot redes waarom ek bly is dat ek GLOmedia.tv ontdek het. Ek en my dogter kon saam na die video oor verhoudingsgeweld kyk en toe het ek nuwe reëls gemaak vir selfoongeselsies. Ons het gaan soek vir die sewe B’s in haar WhatsApp-gesprekke. En ja, ons kon al sewe kry! Het sy van ons gesprek gehou? Nee. Was dit vir haar gemaklik? Nee. Wou sy hoor wat ek te sê gehad het? Nee. Maar kon sy die manipulasie herken? Ja. En kon sy die gevare erken? Ja. En moes sy toegee dat sy verstaan waarom haar selfoon nou snags in ons kamer laai sodat ek kan sien waaroor sy gesels? Met ’n dikmond, maar ja.

“Is hierdie die finale en beste oplossing en antwoord? Nee. Maar dit het gehelp om ons gesprek te fasiliteer en dit is ’n goeie begin.”

GLOmedia.tv is ’n nuwe interkerklike videoplatform wat moeilike kwessies vanuit ’n Christelike perspektief probeer pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Dit is hoekom jy vir ‘n kind ‘n selfoon gee wat net spraak oproepe kan maak en moontlik SMS’e. Dit is dit, niks meer. Slimfone is uit vir kinders. As jy ‘n slimfoon vir jou kind gee is jy net so aandadig aan wat gebeur. jammer, dit is die feite.

Chris ·

As ek die insetsel lees dink ek, ek is as jong kind/tiener ook deur dieselfde “emosionele mishandeling”. Ek het ook ‘n “vaste meisie/vriendin” gehad. Ek wil nie ‘n tranerige storie vertel of simpatie soek nie maar al die eienskappe in die artikel maak vir my sin. As ek daaraan dink is ek vir myself vies dat ek dit toegelaat het en ek te dom was om dit agter te kom of identifiseer. Ou storie, sy was uit ‘n “gegoede huis” en ek alleenouer kind. My ma het gewerk om ons (ek en sy) aan die gang te hou. Vriendin was baie krities, foutsoekerig, neerhalend, veeleisend, jaloers en besitlik. Ek is egter vele kere “gewaarsku” deur my intuiësie , vriende en familie. Liefde is blind. Jou vriende nie. Ouers moet bedag wees daarop om die kind oneindiglik baie “smart” te spaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.