Wat ouers moet weet oor ‘tough love’

Argieffoto

Hierdie rubriek is deel van ʼn reeks rubrieke wat Gielie Hoffmann publiseer oor “Wat ouers moet weet…” Lees gerus alle rubrieke deur Gielie Hoffmann op Maroela Media. – Red

Iets wat gereeld opduik in gesprekke met vriende en familie is wie die ouer was wat kleintyd vir ons ʼn pakslae gegee het. Sonder uitsondering het almal pakslae gekry. Nie noodwendig baie nie. En definitief van so aard dat dit nie as fisiese mishandeling sou deurgaan nie. Maar êrens langs die pad is ons boude afgestof.

Dit duik op in ons gesprekke omdat baie vriende nou klein kinders het en groot besluite moet neem oor die toepassing van dissipline. Dis interessant om te sien hoe verskil egpare onderling en met mekaar hieroor. Die ma’s is baie keer strenger, hulle moet orde handhaaf en is in beheer van baie kwelpunte waar dissipline opduik, soos huiswerk, badtyd en netjiese kamers. Die pa’s kom baie keer van buite af in en probeer of outoritêr voorkom (sonder sukses want die primêre verhouding is nog met die ma) of hulle is vredeliewend en wil net liefde uitdeel. Daarmee saam worstel almal met die vraag: pakslae of nie? Nuwe wetgewing hier rondom is ook pas bekendgestel en die interpretasie daarvan gaan ʼn daadwerklike invloed op ouers hê. Waar dit al vir jare ʼn taboe by skole was, is dit heel moontlik nou ook die voorland vir huise.

Die groter vraagstuk is egter: hoe streng of tegemoetkomend moet ek wees? Die Engelse gesegde, “tough love”, som dit die beste op. Hoeveel tough, hoeveel love? Wanneer is watter een van toepassing?

Jou eie ervaring hiermee gaan ʼn groot rol speel in hoe jy hieroor dink. Jou natuurlike aanslag gaan óf soortgelyk wees aan dit wat jy kleintyd ervaar het, óf die direkte teenoorgestelde tot ʼn seker mate. Ons wil of heeltemal soos ons ouers wees of glad nie. Tough love het jou of gehelp of êrens langs die pad seergemaak. Wat belangrik is om te weet van die begin af is dat dit nie die een of die ander is nie; albei is nodig.

So kom ons begin dan by tough.

Die sentrale fokus hier is dissipline, gehoorsaamheid, samewerking en kontrole. Die ouer wie se vertrekpunt tough is, trek ʼn duidelike streep in die sand en is onwrikbaar in hul oortuigings. Dis nie ʼn onderhandelingsproses nie en die kind is nie ʼn aktiewe deelnemer nie. Baie keer is hierdie aanslag suksesvol. Dit word egter gedryf deur vrees vir verkeerdwees, raaskry of mislukking. ʼn Kind wat net hieraan blootgestel word kan gedrewe en suksesvol wees. Of glad nie. Die geheim kom in by hoe dit uitgebalanseer word.

So waar kom love in?

Ouers wat ʼn sagter aanslag het, fokus op die love. Dis baie ondersteunend, liefdevol, buigsaam en sonder druk. Die fokus is meer dat die kind doelbewus gelukkig is en geliefd voel. Dit klink natuurlik ideaal. Maar daar is ook slaggate hier. Kinders leer baie keer hier nie van gevolge, of hoe om vas te byt of om te verstaan dat hulle verkeerd kan wees nie.

Die toets is om te besluit: wanneer gaan ek tough wees, en wanneer gaan ek love wees. Albei is nodig. Daar moet eise gestel word maar ook ondersteuning gebied word. As daar net eise gestel word, sonder ondersteuning, kan die verhouding tussen ouer en kind langs die pad verbrokkel. As daar net ondersteuning gebied word en geen eise, loop jy die gevaar dat die kind nie voorbereid gaan wees vir wêreld daarbuite nie. Geen ondersteuning en geen eise kom natuurlik neer op roekelose en nalatige ouerskap.

Dis duidelik dat ouers voor en tydens ʼn kind se grootwordjare gereeld hierdie gesprek met mekaar moet voer. Onderliggend hieraan is die respek wat die kind vir jou gaan hê asook die liefde wat hy gaan voel deurentyd. Dit beïnvloed hoe hy elke keer die boodskap gaan ontvang. Onthou, daai verhouding le die grondslag vir elke belewenis.

ʼn Paar gesonde riglyne:

  • Moet nie ʼn kind prys net om hom te prys nie. Moedig aan en lê die klem op die poging en toewyding. Maar as jy wel ʼn kind prys moet dit werklikwaar vir hulle iets beteken.
  • Stel hoë verwagtinge. Bedoelende, moenie jou kind onderskat nie. Niemand weet wat iemand se potensiaal is nie. Maar moenie onrealisties wees nie.
  • Gee hulle altyd iets om voor te werk. Help hulle om daarby uit te kom. Moenie te groot klem lê op mislukking nie.
  • Besluit duidelik waaroor jy tegemoetkomend gaan wees en wat nie. Wees konsekwent waar moontlik hiermee.
  • Jou kind moet nooit twyfel oor jou liefde vir hom nie.

*Die “Wat ouers moet weet”-reeks word moontlik gemaak met die vriendelike samewerking van Akademia–  eersteklas hoër opleiding en opvoeding in Afrikaans.

Gielie Hoffmann

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Poplap ·

Jou opinie oor lyfstraf is nou maar irrelevant dis onwettig. Net soos steel, moor en roof onwettig is en eintlik nie oop is vir “onderhandeling” nie want dis onwettig so ook is lyfstraf in jou huis nou ook onwettig. Al gooi jy ‘n tantrum oor hoe onregverdig dit is feit bly staan dis die law of the land. Slaan jou kind ek jy loop die risiko om krimineel te word

Werner ·

Nee wat, die ANC gaan nie verantwoording vir my kind doen nie, en daarom het hulle ook geen seggenskap oor die grootmaak van my kind nie. Die staat se rol is om in te gryp waar die ouers sleg is, sodat die kind se welstand in gedrang is. Dis al. Net omdat dit die “law of the land” is, maak geen verskil aan my nie. Ek het ‘n Hoër Gesag aan wie ek verantwoording doen. Daar is tans nogal baie wette waaraan ek eenvoudig nie deelneem nie, soos BEE wetgewing ens. Wanneer die staat sy mag oor my kunsmatig verhoog, speel ek eenvoudig nie saam nie.

ps: Hierdie wet is al meer as ‘n dekade van krag in Nieu-Seeland, en meeste mense daar steur hulle glad nie daaraan nie. Wees lief vir jou kinders, hulle is ‘n geskenk.

LindieLee ·

Lyfstraf…… My kinders is onderskeidelik 21 en 23 en het hulle fair share van pakslae gekry! Liefde en wedersydse respek was in plek. Nou is hulle uitstekende aangepasde volwassenes wat eie besluite in die werks wêreld neem. Wonder hoe sou hulle wees as pakslae taboe was vroeër??

koos ·

hoe gaan die ouers mag nie kinders slaan nie “wet” toegepas word? onwettig beteken immers dat n bestaande wet oortree is. daar is nog nie so n wet nie. die parlement sal dus daaroor moet sit.

Valerie ·

Wat is dit met so baie Suid-Afrikaners wat hulle kinders kamtig reg wil slaan? Is dit die Calvinistiese streek in julle? Die Gereformeerde weg? Mm, tot ‘n kamtige Gereformeerde “pastoor” in my stad slaan sy kinders, sommer so in die publiek. Wat ‘n man . . .NOT.

SL ·

Ag nee man. Dit gaan oor wat die HERE in Sy Woord vir ons sê die beste sal werk, aangesien Hy die mens gemaak het.
Mens moet nie jou kinders slaan as jy kwaad is en omdat hulle ‘nou teenoor jou’ oortree het nie. Jy moet hul slaan as jy dit met liefde in jou hart vir jou kind kan doen en hom iets wil leer oor gehoorsaamheid of so. Daar is ander mense wat dit uit verband ruk en dan gebeur wat met arme klein Poppie gebeur het. Dt was mishandeling en uiteindelik moord, en nie dissipline nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.