Pretoria se natuurreservate só nodig

Studente

Jeannie saam met die studente. Foto: Verskaf

Wanneer die stad net te besig raak en mens voel dit is nodig om bietjie weg te breek, is Pretoria se natuurreservate ʼn goeie plek om kop skoon te maak. Dié reservate is egter nie net daarvoor belangrik nie, maar dien ook ʼn ander doel om studente op te lei.

Jeannie du Plessis, ʼn direkteur van Vriende van Moreletakloof, is tans besig om saam met 20 Unisa-Studente te werk wat ekologie studeer.

“Hulle het per toeval by my uitgekom. Ons het met klein groepe begin, maar leiers het vinnig te voorskyn gekom, wat die hele groep saamgebind het.” Volgens Jeannie doen hierdie studente baie moeite om by die reservate uit te kom en reis selfs van plekke soos Soweto om opleiding te ontvang.

“Ek is vreeslik beïndruk met hulle. Dis baie bevredigend om te sien hoe passievol dié jong mense oor die natuur is. Ek leer net so hard soos hulle, maar hulle voel my passie aan. Ek sien wat ek vir hulle beteken – al help ek nou maar op my klein manier.”

Studente

Foto: Verskaf

Dié studente moet ʼn sekere aantal ure opleiding kry en moet ook projekte indien vir punte. “Hulle moet watertoetsing doen, bome uitken, indringerplante beheer en alles se name ook ken.” Jeannie sê sy spesialiseer nie in ekologie nie, maar gee leiding waar sy kan en werk baie nou saam met die studente. “Ek werk in die reservate uit die liefde van die saak, maar ek werk net so hard saam met hulle,” skerts sy.

Hoewel dié natuurskoon soveel bydra tot Pretoria, meen Jeannie reservate in Pretoria verkeer onder geweldige druk omdat mense nie besef hoe belangrik die reservate is nie. “Hierdie reservate is ons asem en sommige van hierdie reservate is juis só verklaar om ons drinkwater te beskerm.” Reservate is nie net in finansiële moeilikheid nie, maar veiligheid is ook nou ʼn probleem. Jeannie sê betrokkenheid van die gemeenskap is broodnodig om hierdie stukkies natuurskoon te behou.

Stuur gerus vir Jeannie ʼn e-pos by [email protected] vir meer besonderhede oor die Moreleta-natuurreservaat en hoe jy betrokke kan raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarah ·

‘n Mens vergeet hoeveel van ons drinkwater kom uit Groenkloof, die Apiesrivier en die Moreletaspruit. Die reservate is op grond gelee wat ‘n direkte impak het op grondwater wat in ons krane opeindig. Wat bo-op die grond aangaan is net so belangrik – ek wonder wat die grondwater-impak sal wees van die beoogde ontwikkeling by Groenkloof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.