[Foto’s] Laaste been van ʼn onbeplande reis

n-Tipiese-Karoo-middagete-roosterkoek-1

‘n Tipiese middagete in die Karoo bestaan uit roosterkoek. Foto: Verskaf.

Die soeke na myself spoeg my weer uit op ʼn grondpad. Dié keer tussen Springbok en die hoogste punt van die Weskus, net so duskant die Namibiese grens.

Van Springbok af op pad kus toe is daar ʼn verskeidenheid van roetes om te kies. Sommige van die roetes gaan Namibië toe, en ander borde vat jou see toe; Port Nolloth toe of Alexanderbaai toe, of Koingnaas. Ek besluit om Koingnaas toe te draai, bloot omdat die naam my nuuskierig het.

Koingnaas is ʼn klein dorpie met sowat ʼn duisend inwoners en een teerpad. ʼn Bord met ʼn pyl op toon aan dat daar net een roete deur die dorp is. So neem die pad my deur die klein sanddorpie met sy blommetjies en sandstrate vol kinders. Voor ek my motor in vierde rat het, is ek die dorp uit en land ek op ʼn rooigrondpad met dik sand. Ek kan nie omdraai nie, want die mense op die dorp het my vertel die pad sal uiteindelik by die see uitkom, en as ek omdraai gaan ek moet terugry Springbok toe om weer die roete van voor af te beplan.

Ek ry deur ʼn paradys van immergroen bome, gras en bosse, tussen rooi duine, deur ʼn tuin wat lyk soos Eden, ʼn tuin wat lyk soos God se speelplek, alleen vir kilometer ná kilometer op ʼn grondpad ná die reën. As ʼn mens so aspris in die uitgestrekte Afrika-landskap verdwaal, vergeet ʼn mens van die eie ek en word jou fokus dié van oorlewing.

Soos die laaste druppels van ʼn storm die rooi dik sand onder my wiele laat insak, begin die vrees verdiep van hoe ʼn mens aan die ander kant sal uitkom. Geen bord, geen aanwysing, geen aanduiding, geen teken van waarheen mens moet draai nie, van waarheen die volgende pad lei of die volgende bestemming sy opwagting maak nie. En dan, nadat jy ter goeder trou gedraai het in ʼn rigting wat lyk of hy see toe lei, verskyn Hondeklipbaai soos ʼn wit kol in die mis op die horison.

Die bevolking is nie meer as 2 000 nie, die klein opslaanhuisies staan in rye langs die see gepak en ʼn groot bord heet jou welkom by die Kamiesberg-distrik. Die naam Hondeklip is verkry van ʼn plat klip in die vorm van ʼn hond, wat die dorp se besienswaardigheid is. By Hondehokke, wat teen ʼn helling in die klein dorpie lê, gaan ek drie dae tuis al neem dit my slegs ʼn halfuur om die dorp te verken en myself as die enigste klant van die plaaslike restaurant, “Die dop en kreef’’, tuis te maak.

Die see in hierdie deel van Namakwaland lyk dieper en kouer as by die meer gekommersialiseerde Weskus-strande nader aan die Kaap. Ek volg die Namakwa-roete verby Garies en Clanwilliam na Vanrhynsdorp waar die blommetjies aan die begin van Augustus al hoog staan en spog met hulle kleure in die son.

Ná ʼn paar draaie op die Swartland se wynplase vind ek die pad Kaapstad toe, die natuurlike eindbestemming vir so ʼn roete, maar allermins nie die bestemming vir my nie. Terug deur Calvinia, ʼn dorpie met ʼn groot posbus, ʼn klein redaksiekantoor vir die omgewingskoerant en huisies wat honderde jare terug gebou is. Van Calvinia af, Kalahari om, verby die Augrabieswaterval met die maanklippe en skerpioene.

Die Augrabies laat my op die laaste been van hierdie onbeplande reis besef, met die borrelende galonne water wat bruis uit dorre klip, dat daar mooi is, dat daar wonderwerke is binne alles wat rondom ons gebeur. Dat daar onontdekte skatte is op plekke waar ʼn mens die minste daarna soek. En dat daar mag onder en binne die oppervlak van die aarde onder ons voete bruis en beweeg; dat ons ʼn reg het om uit ons grond te put wat ook al die gate in ons siel sal vol maak, wat ook al ons sal laat lééf. En wanneer ons onsself op ʼn vreemde spoor verloor, sonder aanwysing of kaart, sal suster Angeline se God weet waar ons wandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Denise ·

Baie mooi fotos en ja dit kan net heerlik wees om al die mooi klein dorpies te kan sien en die natuurskoonheid fantasties!!!

Jaco Grobler ·

Daai stukkie ‘bos’ lê my ook baie na aan die hart. Dis Kameeldoringbome. Asof ‘n stukkie van die Kalahari met sy bome en sand reg in die Namakwaland ‘ge-copy en paste’ is. Pragtige stukkie pad.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.