Groote Kerk in Kaapstad vier 350ste bestaansjaar

Binne die Groote Kerk in Kaapstad Foto: Annene van Eeden

Binne die Groote Kerk in Kaapstad Foto: Annene van Eeden

Dit is 363 jaar sedert die eerste permanente Europeërs voet aan wal in die Kaap gesit het.

Groote Kerk in die middestad van Kaapstad vier hierdie jaar hulle 350ste bestaansjaar.

Wanneer mens verby dié kerk in Adderleystraat stap, lyk dit nie eens soos ʼn kerk nie. Net die interessante kloktoring herinner mens aan ʼn kerkgebou en laat jou twee keer kyk. Die oorspronklike vloerplan van die kerkgebou is in die vorm van ʼn kruis ontwerp. Jare later is die kerkgebou vergroot en het dit sy oorspronklike vorm verloor na die huidige eienaardige en onherkenbare blokvorm.

In Europa doen ons so baie moeite om die geskiedenis van al die lande te verken. In ons eie land is die Groote Kerk ʼn gebou met ʼn merkwaardige geskiedenis wat meer besoek kan word.

Kom saam met my op reis op die eeue-oue pad wat hierdie ou dame bewandel het:

  1. Ten spyte van verskeie informele geboue waar kerkdienste in die tyd ná Jan van Riebeeck gehou is, is die Groote Kerk as eerste formele Christelike kerk in die Gereformeerde tradisie, in die Kaap opgerig. Dit was die moederkerk van die huidige N.G. Kerk.
  2. Die oorspronklike kerkgebou se bouwerkbeplanning het in 1678 begin, 26 jaar nadat Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het. Die hoeksteen is op 28 Desember 1700 gelê by die inhuldiging deur goewerneur Willem Adriaan van der Stel. Die bouwerk is voltooi in 1703.
  3. Die huidige kerkgebou is opgerig teen tien maal die oorspronklike kerkgebou se koste. Dit het die ou gebou vervang en is ingewy op 31 Januarie 1841 – 137 jaar ná die inwyding van die oorspronklike gebou. Die bouer, Anton Schuette, se naam kan op ʼn klein steen in die muur aan die agterkant van die gebou gesien word.
  4. Alhoewel die kerkgebou vervang is, het die oorspronklike kloktoring behoue gebly. Dit is gebou in 1703, hoër gehang in 1771 en ʼn slaghorlosie van Amsterdam, is daarop aangebring. Die huidige klok is al in 1773 geïnstalleer.
  5. Die pragtige en uiters indrukwekkende preekstoel is handgekerf deur Anton Anreith en Jacob Graaff en ingehuldig in 1789. Dit het destyds ʼn allemintige R800 gekos. Tydens die bou van die nuwe kerk, is die preekstoel net daar laat staan en is die nuwe gebou rondom die preekstoel gebou sodat dit nog steeds op die oorspronklike plek staan waar dit geplaas is. Dis gemaak van Birmaanse kiaat. Die leeus was aanvanklik kleurvol maar is later ʼn soliede bruin kleur geverf omdat die wit tande en rooi tonge die kinders bang gemaak het.
  6. Die huidige orrel is die derde een wat die kerk al deur die dekades gehad het en was destyds die grootste orrel in die land. Dit is geïnstalleer op 1 Desember 1953. Dit het 5 917 pype wat gemaak is van onder andere koper, tin en hout.
  7. Die standbeeld van die man voor die kerk in Adderleystraat, is Andrew Murray, een van die groot name van die Herlewing in Suid-Afrika.
  8. Ses Nederlandse goewerneurs is uit die kerk begrawe.
  9. Die plafon is een van die grootstes ter wêreld wat op hierdie manier gebou is – sonder ʼn steunpilaar vir die hele lengte. Die gewelf beslaan 1 023m². Die stukadoorwerk (geskulpewerk) is esteties mooi en die gepleisterde plafon verbeter die akoestiek wat werklik ervaar kan word wanneer ʼn musiekuitvoering in die kerk bygewoon word.
  10. Die banke is op ʼn baie interessante manier gebou en ʼn kenmerk van Groote Kerk. Dit is in ʼn boksvorm gebou en elke bank kan met ʼn deur en slotjie afgesluit word. Blykbaar het dit die koue uitgehou en privaatheid verseker. Aan die begin was sitplekke toegeken volgens rang! Die res moes staan of hulle eie stoele bring.

Kom vier gerus hierdie mylpaal wat Groote Kerk bereik het hierdie Paasfees saam met hulle as jy in die Moederstad is. Die Goeie Vrydag-diens vind plaas op 3 April om 09:00. Opstandingsondag word op 5 April om 10:00 gevier.

Esté Meyer Jansen van Maroela Media het vroeër met Peter Veldsman, voorsitter van dié kerk se feeskomitee, uit Klein Kenilworth in Kaapstad gesels oor die Landbou-Sondag se feesdiens op 1 Februarie en wat die res van die jaar se feesprogram behels. Klik hier om na die insetsel te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

B.F.Burger ·

Dankie Here vir U Woord wat al vir die afgelope 350 jaar vanuit hierdie gebou aan U kinders gebring word.Mag dit nog baie jare U huis van aanbidding wees ter uibreiding van U koninkryk en ter verheerliking van U grote naam.Mag hierdie en al die kerkgeboue wat U kosbare woord uitdra,onaangeraak bly tot in lente van dae.

Jan Winter ·

Een prachtige beschrijving van de geschiedenis van een indrukwekkend stuk cultureel erfgoed! Bij mijn eerstvolgend bezoek aan Kaapstad zal ik zeker niet nalaten een bezoek te brengen aan dit bijzondere kerkgebouw. Moge het daar verkondigde woord zegenrijk blijven! (Bloemendaal, Nederland)

K.S. van der Walt ·

Hier kan die geskiedenis aangevoel word. Hou tog net kitare en ander lawaaimaak-insrumente uit die gebou — dit dra niks by tot ‘n gewyde atmosfeer nie!

Attie Eksteen ·

Navraag: Ek en my vrou, wat ‘n parapleeg is wil baie graag die Kerk besoek. Is die gebou daagliks oop. Ons kom van Hermanus af.

Baie dankie.

Attie Eksteen

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.