Op Vlerke: ʼn Wildtuin in ons agterplaas

André Christof

Vir ’n hele ent anderkant die Nwatinwambu-rivier, op pad na Onder-Sabieruskamp, is die veld redelik rustig. In ’n stadium gewaar ons ’n klein luiperdskilpadjie wat oor die pad beur, en waar die pad teen die Sabierivier verbyloop, staan ’n klipspringer op  ʼn  groot klip.

Later gewaar ons ’n roofvoël met die kenmerkende gekromde bek in ’n boom regs van pad. Dit lyk na ’n soort valk. Toe ons nader kom, herken ons hom as ʼn Afrikaanse sperwer.

Die Afrikaanse Sperwer. Foto: André Christof

Foto: André Christof

Die mannetjies het rooibruin dwarsstrepe aan die borskant, nes die wyfie, maar ’n blougrys rugkant, in teenstelling met die wyfie se rooibruin. Whit, whit, whit, whit, hoor ons hom roep.

Dit laat my onwillekeurig dink aan een jaar toe die kos vir die saadvretertjies in die veld min was en ons ’n voëltjievoerder aan ’n wasgoedlyn in ’n groot boom in ons agterplaas opgehang het.

Ek het ʼn ronde opvangbak geprakseer en aan die onderkant van die voerder gehang. In ʼn bedding daaronder was ʼn voëltjiebad en dit was daagliks ’n gekwetter soos die frette (bronskleurige, bruinrooi vinke) kom vreet en bad het.

Ons het ʼn keer of wat ʼn paar blink oë van ’n gemmerkat tussen die plante gewaar, maar hulle was te rats en hy het nie ʼn kat se kans gestaan om een vir aandete te vang nie.

Maar ‘n ander vyand het later sy verskyning gemaak: ’n Afrikaanse sperwer het op die frette op die gras onderkant die voerder afgeduik. Sy geduikery was aanvanklik redelik skuins en die voëltjies het hom betyds gewaar en met ʼn whoosh-geluid in alle rigtings weggevlieg.

Ná ʼn paar mislukte pogings het hy sy taktiek verander: Hy sweef reguit op die voerder af, vou sy vlerke toe voor hy tussen die drade aan die onderkant van die voerder deurgaan, stoot die pote vorentoe, gryp na die voëltjies op die opvangbak en kom met ’n fret in ’n poot aan die anderkant tussen die drade uit. Daar sprei hy weer sy vlerke, vlieg tot op ’n tak in die boom langsaan, en vreet.

Ander voëls, asook rooiborsies, het ook gereeld by die voerder ’n draai kom maak, en die ge-ooo-koo-koo-koo, ooo-koo-koo-koo van ʼn hofmakery is dikwels gehoor.

'n Rooiborsie. Foto: André Christof

Foto: André Christof

So ʼn ent van ons erf staan ʼn yslike palmboom van seker so by die 30 meter hoog. Ons gewaar dikwels ʼn kaalwangvalk in die top daarvan en het ook per geleentheid tot soveel as twaalf papegaaiduiwe op die laer takke sien sit.

Die kaalwangvalk skree met ’n hoë fluit en ons het hom al  ʼn  keer of wat aan die voorkant van die huis agter ’n groot bloukopkoggelmander of een van daai kleurvolle akkedisse met die lang sterte sien hop of by ’n opening tussen die bakstene van die  stutmuur langs ons terras, sien pik.

As die voëltjievoerder in die agterplaas hang, oornag heelwat van die frette sommer tussen die droë blare van die wilde dadelpalms langs die een kant van die huis, wat nes yslike groepneste aan die onderkant van die groot krone afhang.

Ons het hom een dag in aksie gesien toe hy, met vlerke na agter soos hy rem en pote eerste tussen die droë blare van die palmboom invlieg en met ʼn fret in een van sy pote uitvlieg.

Een jaar het daar ʼn paar nonnetjiesuile aan die voorkant van dieselfde palmboom  ʼn  nes gehad, maar ná ’n week of twee het hulle weer koers gekies en ons raai dat dit dalk te raserig was daar naby die pad.

Kate haal twee suiglekkers uit die Tupperware-houer, verwyder die papiertjies en stop een in my mond. Ons is nog ’n hele ent van Onder-Sabiekamp en ek ry rustig voort.

Hier en daar sien ons rooibokkies, maar andersins is daar nie ’n beweging nie. Ons gesels verder oor die doenighede van die voëls en blouapies by die huis, terwyl ons die omgewing bespied.

Een vroegoggend het ons ʼn paar grootringduiwe by ons huis gewaar en op ʼn ander keer weer ʼn bloukuifloerie wat met ʼn kok-kok-kok-kok-kok sy pragtige skarlakenrooi ondervlerke vir ons kom wys het toe hy blitsvinnig die takke ophardloop.

By tye kan ons die hadidas hoor skree as hulle saans op pad is na hul slaapplek in die bome. Dan weet ons hulle gaan sommer vroeg die volgende oggend weer raas-raas oor die huis vlieg om kos te soek, of ons nou wakker wil wees al dan nie.

Soms kom sit twee van hulle met ʼn doef-geluid op die ou groot TV-antenna op die dak. Dan skree hulle nie, háá! háá! nie. Nee, hulle gesels so saggies: ha, ha, ha, vir ’n rukkie voor hulle weer wegvlieg.

Die rooikophoutkappers laat ook vroegoggend saam met die grootringduiwe van hulle hoor. Later gesels ’n geelblestinker ’n ent weg, swartoogtiptolle kwetter om die huis, spegte, glasogies en ’n mannetjieskuifkophoutkapper roep, en ons hoor ook soms ’n diederikie en by tye ’n groen geveerde meitjie in die omgewing.

Die suikerbekkies is gereelde besoekers aan ons die tuin, veral die rooikeelsuikerbekkie – die  mannetjie met sy swart lyf en skarlakenrooi bors en die wyfie met haar gryserige olyfkleur rugkant en borskant, swaar gespikkeld.

Ons het hulle al dopgehou as hulle bad, ná die sproeiers in die agterplaas aan was. Dan is dit ʼn gedartel onder die oorhangblare van die plante en struike.

Ons was een jaar gelukkig om ʼn gewone vleiloerie in die pol riete voor die natuurtuin in ons agterplaas te sien.

'n Vleiloerie. Foto: André Christof

Foto: André Christof

Selfs die Afrikaanse paradysvlieëvangers besoek ons agterplaas en sing wiee-tiddlie-whit-whit, wiee-tiddlie-whit-whit. Dis interessant dat die mannetjie sy lang stert buite broeityd verloor.

Wanneer ons die kliee-kliee-kliee, kliee-kliee-kliee, van die bruinkopvisvanger hoor, dan sit hy gewoonlik op die wasgoeddraad van waar hy insekte, wat hy in die gras gewaar, jag. Dan gaan die koppie so op en af nes ʼn knikkende plastiekhond in die agterruit van motor.

Ek glo daar is min mense wat kan spog met blouapies wat hul tuin besoek. Hulle maak sommer enige tyd van die jaar hul opwagting en kuier dan gewoonlik lank.

Natuurlik is daar altyd ’n wyfie, en meestal sommer ’n paar met kleintjies wat onder die ma’s se lywe vasklou.

Ons skrik nie eens meer as die apies uit die boom op die teëldak spring nie, ook nie as dit soos galoppende perde klink as die hele klomp oor die dak na die dadelpalms aan die voorkant van die huis skarrel nie. Selfs nie as hulle agter termiete wat uitgebroei en tot op die dak gevlieg het, aan is nie.

Dis pure sirkus. Hulle klouter in die bome rond en “stap” op die telefoondraad wat agter die huis verbyloop as hulle laatmiddae na hul slaapplek gaan – die sterte gelig en heen en weer swaaiend soos wafferse akrobate wat hulle balans probeer hou. Party vou glad hul stertpunte om ’n dun draad so ’n entjie bokant die telefoondraad waarop hulle stap.

Laat een Saterdagmiddag kyk ek toevallig by ’n venster aan die voorkant van die huis uit en sien die grootmanaap haastig oor die pad draf – drie pote op die grond met ’n stuk beesfilet onder ’n arm vasknyp. Wonder nou nog waar hy dit gesteel het.

Grootmanape. Foto: André Christof

Foto: André Christof

Een jaar het die opgeskotes weer só woes in die agterplaas tekere gegaan dat die twee boomvarings se takke tot op die grond gespeel is, soos hulle uit die boom daarop afspring en ry.

Wat te erg is, is te erg, het Kate besluit en storm by die agterdeur uit. Sy gryp die tuinslang en spuit na die spul in die boom. Nie om raak te spuit nie, net om skrik te maak. Sal een opgeskote mannetjie nie ewe kordaat op ’n dik tak aan die voorkant van die boom regop gaan staan en in Kate se rigting piepie nie! Kate moes koes en ek kon net lag.

’n Tydjie gelede het ons twee hamerkoppies daar gehad. Die een het dikwels om die pomphuis gestap om paddas te soek.

’n Paar jaar gelede het ons die swembad laat opknap. Ná die water uitgetap is, moes die bad ’n tyd lê om droog te word voordat hulle met die werk kon begin. Aan die diep kant was daar nog so ’n bietjie water. Nie lank nie, toe beland die blare van die bome en struike langs die swembad daarin – ideaal vir allerhande goedjies om in te skuil.

Kort daarna hoor ons een vroegoggend die hamerkoppie daar onder in die swembad. Kiep-kiep-kiep-kiep-trrrrrr, kiep-kiep-kiep-kiep-trrrrrr. Te kostelik hoe hy kort-kort gaan staan, dan trap-trap hy weer en woel met sy pote in die blare soos hy paddas soek.

Veral aan die begin van die reënseisoen, ná die eerste reëns laatmiddag geval het, borrel daar gewoonlik hordes termiete by al wat ʼn kraak is uit. Vir die voëls is dit ’n fees. Swartoogtiptolle, suikerbekkies, lysters, noem maar op! Dit dartel en fladder en is iets om te aanskou. Sommige gaan sit by die gleuwe en pik die termiete op soos hulle uitkom. Die paddas laat ook nie op hulle wag nie en hop en spring die lug in agter die prooi aan, in teenstelling met die swaeltjies wat weer kwetterend afduik grond toe.

Die lysters en janfrederike draf graag vroegaand op die gras agter die huis rond of staan hulle in ’n bedding en blare omdop vir kos.

Wanneer mens die kek kék-kék-kék, kek kék-kék-kék, hoor, is dit ’n Natalse fisant wat skemeraand met sy familie op die gras kom skrop.

Die piet-my-vrou laat ook van hom vanuit die bome hoor: weet-weet-weeoo, weet-weet-weeoo, en dit klink kompleet asof hy sing: piet-my-vrou! piet-my-vrou!

Maar in die aande en gedurende die nag is dit rustiger. Ons hoor dikwels ’n bosnagapie in die reusepalm skree. Háá, háá, háá, háá, háá. En so nou en dan raak ons wakker as hy oor die huis se dak beweeg. Ons sien hom nie, maar het al sy voetspoortjies tussen die rotse op die boonste terras agter die huis opgemerk.

'n Uil. Foto: André Christof

Foto: André Christof

Nagtyd is uiltyd. Hooe hoóé hoe-hoe-hoóé, hooe hoóé hoe-hoe-hoóé, hoor ons dikwels as twee gevlekte ooruile in die palms aan die voorkant van die huis met mekaar sit en gesels.

Die bosuile klink weer anders. Die wyfie wheooo op ’n hoë noot en dan antwoord die mannetjie met so ’n lae huoo hoo-hoo-hoo-huoo.

Weer roep die wyfie, wheooo.

En huoo hoo-hoo-hoo-huoo, antwoord die mannetjie.

Ja, dink ek toe ons byna by Onder-Sabie is, mens hoef eintlik nooit ver te ry om die wonder van die natuur te belewe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Boscia ·

Onderskrif by ‘vleiloerie’ is foutief. Dis ‘n ‘Paradys vlieëvanger’. Vleiloere is ‘n yslike voël teenoor pikante vlieëvangertjie en baie uiteenlopende geaardhede.

Suné van Heerden ·

Dagsê Boscia

Ons vra groot om verskoning vir die fout wat ingesluip het. Daar het ‘n fout ingesluip toe die foto’s opgelaai is. Dankie dat jy ons daarop gewys het, die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

herman van niekerk ·

Ek glo nie dit is n Vleiloerie nie . Liewer n Paradys Vlieevanger

Suné van Heerden ·

Dagsê Herman

Ons vra groot om verskoning vir die fout wat ingesluip het. Daar het ‘n fout ingesluip toe die foto’s opgelaai is. Dankie dat jy ons daarop gewys het, die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Conrad ·

Ek glo ook nie dit is n Rooiborsie nie, maar eerder n Kaalwang Valk.

Suné van Heerden ·

Dagsê Conrad

Ons vra groot om verskoning vir die fout wat ingesluip het. Daar het ‘n fout ingesluip toe die foto’s opgelaai is. Dankie dat jy ons daarop gewys het, die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Pierre Brink ·

Wat se ding is ‘n ‘rooiborsie’? Daai is ‘n kaalwangvalk / Gymnogene.

Suné van Heerden ·

Dagsê Pierre

Ons vra groot om verskoning vir die fout wat ingesluip het. Daar het ‘n fout ingesluip toe die foto’s opgelaai is. Dankie dat jy ons daarop gewys het, die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Hanlie ·

Pragtige prentjie wat André skilder met woorde! Dankie! My voëlliefhebber hart is nou baie jaloers. Wens ek kon ook in d paradys bly….

Erich Taljaard ·

Nou skoon jaloers – ons voer hier by ons ook daagliks die geveerde vriende van ons maar ongelukkig het Benoni nie so n groot verskeidenheid nie maar ons geniet die wat wel na die tuin kom.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.