Op Vlerke: Van Wolhuter se uitspanplek tot anderkant die Sandrivier

Papegaaiduif

Papegaaiduif. Foto: Verskaf.

André Christof

Ná ons die oggend daar by die Nyamundwadam weg is, sien ons drie kameelperde wat ʼn ent weg langs die Doispanepad aan doringstruike se blare staan en vreet met hul koppe bo tussen die takkies ingedruk.

By die afdraai van die grondpad na Wolhuter se uitspanplek kom ons weer ʼn groot trop rooibokke teë wat aan die bossies weerskante van die pad staan en vreet.

Daar gewaar ons ook sewe blouwildebeeste wat ʼn ent weg die veld in staan, met koppe wat knik en sterte wat swaai. Een vlieg met die kop om, staar vir ʼn wyle na die agterent, stamp met ʼn agterpoot op die grond, draai dan terug, waarna dit weer skuins regs van hom oor die veld uit kyk.

By die aansluiting met die Krugerhekpad hou ons vir ʼn oomblik by ʼn familie van ses vlakvarke stil wat ʼn entjie die veld in met die snoete in die grond skoffel.

Die vier klein varkies met sulke dun boudjies stap stadig, so treetjie vir treetjie op ʼn ry langs die sog en vreet, terwyl die stertjies opgewonde waai.

Pas na ons daar stilgehou het, lig die sog die kop, kyk vir ʼn wyle met sulke kraalogies in ons rigting, voordat sy afbuk om verder te vreet.

Die beer, met sulke groot tande wat bo die snoet omgekrul is, groot vratte onder die oë en die wit baarde langs die kant van die kop, staan ʼn ent weg van hulle en kyk na agter oor die veld uit. Na ʼn rukkie draai hy om, stap nader, dan gaan staan hy daar by die sog en kleintjies waar hy ook die snoet in die grond druk om die wortels uit te skoffel.

ʼn Tydjie later koop ons by Skukuza vrugtesap in die winkel voordat ons verby die restaurant stap, waar werkers besig is om verbouings aan te bring, na die geplaveide looparea en uitsig oor die Sabierivier.

Daar maak ons ons op ʼn bankie onder ʼn yslike gewone trosvy tuis om die sappie te geniet terwyl ons die omgewing bekyk.

ʼn Stroom water kom van ʼn ent weg, daar uit die Krugerhek se rigting voor die uitsig verby en vloei na regs tussen ʼn paar rotse deur na die treinbrug se kant.

Aan die anderkant van die water, waar daar so ʼn plaat fluitjiesriet in die rivierbedding staan, gewaar ons op ʼn plek twee buffels se rûe tussen die riete.

Dan bemerk ons ook op ʼn sandbank naby die rotse regs van ons in die rivier af, ʼn krokodil wat met die stert in die vlak water lê.

Ooo-kook-kook-koo-koo ooo-kook-kook-koo-koo, hoor ons ʼn lemoenduifie aanmekaar erns in ʼn boom agter ons gesels.

Tjeloop tjriep tjoop, tjeloop tjriep tjoop, laat ook ʼn swartoogtiptol van hom hoor, dan nog ene, ʼn entjie weg, tjeloop tjriep tjoop, tjeloop tjriep tjoop.

Die volgende oomblik trek ʼn hele paar gelyktydig weg met ʼn harde, weet-weet weet weet-weet weet weet, wat mens tot wie weet waar kan hoor.

Op ʼn stadium raak ons bewus van ʼn, twieleee-tlieleeeo krrr krrr krrr krrr, roep erns in die boom bokant ons. Nie lank nie, hoor ons weer, twieleee-tlieleeeo krrr krrr krrr krrr.

Na ʼn wyle se soek, het ek ook ʼn keer opgestaan om daar hoër op tussen die dik takke te loer, voordat ons drie papegaaiduifies sien wat daar by ʼn tros vruggies sit.

Pragtig is hulle met die groen-en-geel verekleed, helder rooi bekke en pote en met die geel vere onder die lyf om die bene.

Nog een vlieg nader, dan trap hy so suutjies, vervat met die pootjies soos hy stadig teen die tak op beweeg. Die papegaaiduifie gaan sit by ʼn trossie, dan leun hy vooroor om aan ʼn vruggie te vreet.

Later klouter hy af, dan hang hy so onderstebo aan die tros om by ʼn vruggie uit te kom.

Na ons die sappie genuttig het, sit ons die rit na Satara voort.

Net buite Skukuzakamp se hek hou ons by ʼn trop olifante, wat weerskante van die pad aan bome se blare staan en vreet, stil.

In ʼn stadium loop ʼn paar grotes ʼn entjie voor ons oor na die anderkant, nie ver agter hulle nie, volg ʼn kleintjie met sulke kort tandjies.

Die volgende oomblik kom ʼn kar van agter af langs ons verby, gaan rakelings voor die kleintjie, wat vervaard in die pad vas steek, verby. Toe gee die olifantjie so ʼn skop met ʼn voorpoot na die kar, wat nou al ʼn paar treë weg is, daarna vlieg die kalfie om, draf met so ʼn stywe stertjie terug na die veld, waarna dit by ander olifante in die bos gaan staan en die oortjies flap.

Later draai ons by die T-aansluiting met die Onder Sabiepad links af na Tshokwane, wat so veertig kilometer verder is.

So ʼn kilometer op die pad uit sien ons ʼn paar bosbokooitjies wat links van ons in die veld aan blaartjies van struike staan en vreet. Ons hou daar stil en beloer hulle so tussen die ruigtes deur waar een nou en dan na ʼn volgende struik toe beweeg. Dan lig dit die pootjies hoog oor van die droë takkies wat daar lê.

Die ooitjies is grys-vaalgeel tot kastaiing bruin. Pragtig is hulle met die bleek vlekke voor die oë, ʼn enkele wit dwarsstreep oor die keel aan die basis van die nek, wit kolle op die flanke en vier tot agt strepe oor die rug.

Dan is daar wit merktekens aan die gesig, ook wit aan die bene en stertkwas. Toe ons mooi met die verkyker kyk, sien ons hulle het wit klossies hare aan die binnekante van ore.

Bosbokooitjie

Bosbokooitjie. Foto: Verskaf.

Doo-doo-doo-doo, doo-doo-doo-doo, hoor ons ʼn paar maal die bekende borrelende roep van ʼn gewone vleiloerie. Ons soek, kyk ʼn entjie vorentoe langs die pad waar sulke lang grasse weerskante van ʼn dun stroompie water, wat daar al teen die kant af vloei, staan.

Toe gewaar ons die loerie wat daar in die veld aan die onderkant van opgeskote struike rond klouter. In ʼn stadium wip dit die stert so ʼn paar keer terwyl dit op ʼn tak sit, dan sien ʼn mens net die donker boonste helfte van die kop, die wit lyf, bruin ondervlerke en lang stert soos hy laag oor die grond agter die grasse verby na ʼn bossie toe vlieg.

By die laagwaterbrug oor die Sabierivier is dit heel rustig. Daar sien ons ʼn paar kolganse wat met die bekke langs ʼn sandbank in die vlak water woel. Dan draf daar ook drie bontkiewiete agter insekte langs die kant aan.

Tienk tienk tienk, tienk tienk tienk, roep dit nou en dan.

Ongeveer ses kilometer verder ry ons oor die laagwaterbrug oor die Sandrivier van seker so by die honderd meter breed. Aan die eenkant is daar links van die pad ʼn yslike poel water omring deur fluitjiesriet, waar ons ʼn paar seekoeie se ore en oë sien uitsteek.

Verder aan, weerskante van die brug, sien ʼn mens net ʼn paar rotse en sand in die rivierbedding af.

Anderkant die brug loop die pad vir ʼn kilometer of twee die veld in, voor dit terug draai en ʼn mens aan die bokant al langs die rivier af ry.

Ons kyk regs van ons so tussen die stamme van die bome en struike deur op die yslike rivierbedding af. Dit is net sand waar jy kyk. Voetpaadjies en spoortjies is oral te sien, meeste loop van die wal onderkant ons na die oorkant waar daar sulke lang stroke water teen die kant af lê.

Later draai die Sandrivier weg van die pad om daar, ʼn ent suid-wes van ons, by die brug voor die T-aansluiting met die Skukuza-Onder Sabiepad by die Sabierivier aan te sluit.

Redelik laat die oggend, om en by agtien kilometer voor Tshokwane, aan die anderkant van die pad waar die Mantimahledam geleë is, beloer ons ʼn trop buffels tussen die ruigtes deur.

Van hulle lê agter in die veld onder die bome op die voorlywe en herkou, terwyl die meeste daar rond staan en lyk asof hulle van plan is om een of ander tyd aanstaltes na die water toe te maak.

Die helfte van die pad na Satara, waar ons vir twee nagte se oorbly moet gaan aanmeld, lê nog voor, dus vertoef ons nie daar by die buffels nie, maar sit die rit in die rigting van Tshokwane se uitspanplek voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.