SA’ners in die buiteland: Só vier ons Kersfees in Kanada (deel 3)

IMG_0175In Suid-Afrika het ons ons eie, eg Suid-Afrikaanse Kersfees-kultuur: sonskyn, swem, tafels wat kreun onder die kos, Kerssangdienste met Kersfeesliedjies, bedrywige winkelsentrums vol Kersversierings en veral gehaltetyd saam met ons geliefdes. Maar vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland het Kersfees ʼn heel ander gedaante. Maroela Media het in samewerking met Wêreldwyd gaan kers opsteek by Suid-Afrikaners wat in ander lande woon om te hoor hoe hulle Kersfees vier, en watter van die Suid-Afrikaanse tradisies en gebruike hulle steeds in die buiteland deel van hul Kersfees maak. Klik hier vir vorige berigte.

Cathy Kotzé en haar man bly al 13 jaar in Kanada. Sy skryf oor ‘n “anderste Kersfees”:

“Ons het in 2001 na Kanada toe verhuis. Ons dogter, ʼn mediese dokter, het my en my man geborg. Haar aansoek om ʼn klein dogtertjie aan te neem is goedgekeur op die dag van ons aankoms en ons het almal saam ons nuwe lewe in die vreemde begin. Die aanvanklike moeilike aanpassings is gelukkig nou verby en ons begin half gewoond raak aan die manier waarop Kersfees hier in die vreemde gevier word.

“Kersfees begin vroeg in Kanada. Die eerste tekens is reeds in Oktober in stokperdjiewinkels te sien. Die meeste goed op daardie rakke moet nog gebou, gestik, geverf, geborduur, of op ander maniere gemaak word. Ons dogter het vir een hele November elke aand aan klein Kerskousversierings vir die Kersboom geborduur – altesaam 48 kousies. Elkeen spog met ʼn Kersmotief in fyn kruissteek. Hierdie is een van die mooi Kanadese tradisies wat ons aangeneem het. Baie Kersgeskenke en Kersversierings is handgemaak en die meeste word kosbare erfstukke.

“Soos ander Christene regoor die wêreld, herdenk ons Christus se geboorte op Kersdag, al besef ons dat dit nie regtig Sy verjaarsdag is nie. Ons aanvaar dat dit lankal nie meer net ʼn godsdienstige fees nie. Die huis van ons Sikh Indiër bure spog gewoonlik met van die mooiste Kersversierings in die straat. Gelukkig is die gees van “gee” en “omgee” steeds met ons, al is Kersfees ongelukkig ook deesdae ʼn fees van uitspattighede. Maar dis ʼn storie vir ʼn ander tyd.

“Vir die meeste kinders is Kersfees hopelik ʼn tyd van wonderwerke, met magiese figure en kammalande wat vir ʼn klein rukkie werklikheid word. Kinderlike onskuld gaan so gou verby; dis goed om dit vir ʼn rukkie te koester. Ons gesin geniet hierdie gedeelte van Kersfeesvieringe; Kersvader woon nie verniet in die noorde van Kanada nie!

“‘Tis the season for giving word ernstig opgeneem. Teen November word Kanadese daaraan herinner dat dit haas tyd is om skoendose vol geskenke by die naaste Samaritan’s Purse depot in te handig. Hierdie projek sorg daarvoor dat geskenkies aan behoeftige kinders regoor die wêreld afgelewer word – ook in Suid-Afrika. Duisende mense vul skoendose met sorgvuldig uitgesoekte geskenke: speelgoed, skoolbenodigdhede, lekkergoed, sepies, tandeborsels, waslappies, ens. Ek plaas gewoonlik ook ʼn paar pakkies groentesaad onder in myne.

“Feitlik almal neem deel: koerante, skole, kerke, besighede. Selfs inwoners van ouetehuise vul skoendose vir die mees weerlose kinders van die wêreld. Besighede lewer sommer self die skoendose wat hulle werkers gevul het, by die depots af. Lugrederye vervoer gewoonlik die vraghouers geskenke gratis na hulle eindbestemmings.

“In die begin van Desember raak dit al deksels koud en op baie plekke lê die sneeu reeds dik. Gelukkig is die klimaat in ons kontrei meer gematig, maar ek is nogtans baie bly oor sentrale verhitting! Kanadese huise is altyd knus en snoesig.

“Feesliggies buite aan huise is ʼn ou tradisie, selfs op plekke waar die kwik tot minus 30°C kan daal. Dis ʼn groot operasie. Ons haal die swaar houers vol Kersversierings van die boonste rak in die tuinhut af en sukkel daarmee aan huis toe. Die dosyne stringe liggies word ontrafel en gegroepeer: dakligte eenkant, netligte vir die struike op ʼn ander hoop. Alle huise het buite kragproppe, spesiaal vir Kersversierings.

“Dis altyd vrek koud wanneer ons die tuin en die buitekant van die huis versier. Ons dogter haak die liggies teen die geut vas. Sy’s op en af met die leer, en haar hande is naderhand blou van die koue, ten spyte van die handskoene. Hierdie was eers Pierre se jop, maar ʼn knievervanging en rugprobleme het hom buite aksie gestel.

“Ek gooi veelkleurige netligte oor die kleiner struike in die voortuin en vleg stringe ligte deur die groter bome se takke. Die holly se doringerige blare veg verwoed terug en steek selfs deur my handskoene. Al die stringe liggies moet natuurlik met elektriese verlengingskoorde aanmekaar geheg word – ʼn hele operasie.

“Ons maak die twee spiraal Kersbome met die flitsende ligte op die grasperk staan en verlig die paadjie voorstoep toe met ʼn ry regop, verligte versierings wat soos candy canes lyk. ʼn Versierde, nagemaakte Kersboom word by die voordeur staan gemaak. ʼn Paar denne en blomkranse word opgehang en die voorkant van die huis se ligte word vervang met groenes en rooies. Ons is yskoud as ons heelwat later dankbaar ons hande rondom die warm bekers Milo vou.

“Volgende op die lys is Ruby, ons kleindogter, se besoek aan die mall se Kersvader vir haar amptelike Kersfoto. Die winkels is vol pragtige Kersuitrustings vir die kleingoed, spesiaal vir hierdie doel. Daardie Kersrokkie moet perfek wees. Ruby en hierdie spesifieke mall Kersvader is al ou vriende. Hulle eerste foto saam is geneem toe sy maar net nege maande oud was. Die nuutste foto word in ʼn raam geplaas en saam met al die voriges by die kaggel uitgestal.

“Voedselbanke en sopkombuise plaas gewoonlik groot dromme voor in al die supermarkte vir donasies van kos en lekkernye. Mense is vrygewig en die dromme word ʼn hele paar keer per dag leeggemaak. By die plek waar Kersfoto’s saam met Kersvader geneem word, vorm (nuwe) speelgoed wat vir behoeftige kinders geskenk word, ʼn yslike piramide. Elkeen koop ʼn ietsie ekstra.

“Ons kies ons vars afgekapte Kersbooom by ʼn plaaslike supermark en dit word met groot gesukkel met die trap opgedra. Die boomstaander het ʼn spesiale reservoir vir water, want die boom moet deurgaans natgehou word. Die hele gesin help om die boom en die binnekant van die huis te versier. ʼn Speelgoedtreintjie se spoor word versigtig rondom die boom opgestel en ons speelgoedtreintjie doen sy eerste oefenlopie. Dis nog ʼn Kanadese tradisie wat ons ons eie gemaak het.

“Groot potte vol poinsettia plante bring die natuur binnenshuis. Daar’s ʼn Advent-kalender vir elkeen en ons seun se skets van Kersvader op ʼn donkiekar in die Karoo, word bokant die kaggel opgehang. My man het vir my een jaar ʼn pragtige hout Bethlehemstal gemaak en dit kry ʼn ereplekkie op die ou sederkis. Die klein Kersbeeldjies pas perfek daarin.

“Die hele huis word gevul met ʼn salige dennegeur.

“Ons kleindogter skryf ʼn lang brief aan Kersvader. Dit moet netjies en net reg wees. Selfs die koevert word versier met prentjies. Die brief word versigtig op die hoek van die buffet geplaas. Dis waar Kersvader se elwe dit oornag sal kom afhaal.

“Die volgende oggend is die brief weg, maar die elf het blykbaar ʼn klomp feetjiestof verloor, want sy klein voetspoortjies is oral in die fyn goue glinsterstof sigbaar. Kersvader se brief aan Ruby word die volgende nag afgelewer, en weereens is daar tekens dat die elfies wel daar was. Hierdie keer is die glinsterstof groen.

“Toe ons eie kinders klein was, het my man gewoonlik Kersvader se brief geskryf, met baie spesifieke opdragte, onder andere hierdie een aan ons seun: “Onthou om elke dag die hond se dinges op die grasperk op te tel.” Hy het baie moeite gemaak. Selfs die seël op die koevert is versigtig geteken. Deesdae doen ons dogter dit sommer op die rekenaar, en dis ʼn kunswerk op sy eie. Ek weet Ruby sal haar briewe vanaf Kersvader – net soos haar ma en oom voor haar – vir altyd bewaar.

“Vir my is die voorbereidings vir Kersfees amper net so lekker soos Kersdag self. Daar word vir dae lank koekies gebak. Dogter Charlene en kleindogter Ruby bou ʼn gemmerkoekhuisie wat net so mooi is soos die nare heks se lekkergoed-huis in die Hansie en Grietjie-storie.

“Ons, vriende en die bure deel geskenke uit en die vrag geskenke onder die Kersboom word elke dag groter.Uiteindelik is dit die 24ste Desember.

“NORAD (North American Aerospace Defence Command) rapporteer regdeur die dag hoe Kersvader se reis deur die lugruim vorder. Kinders kan ter enige tyd op hulle webwerf kliek of op TV gaan kyk waar hy was, en waarheen hy volgende op pad is: Nieu-Seeland, Australië, Asië, Afrika, Europa… en dan uiteindelik! Noord Amerika. Hier word sy sleë gedeeltelik deur vegvliegtuie vergesel en daar is selfs onderhoude met die vegvlieëniers. Almal speel saam!

“Oukersaand is rustig in die Kotzé-huishouding. Al die voorbereidings vir die groot dag is afgehandel. Ons spandeer die aand gewoonlik gesellig voor die televisie. “The Nativity Story” met Keisha Castle-Hughes as die jong Maria, is ʼn gunstelingfliek. Die Kersverhaal is gewoonlik Ruby se slaaptydstorie, maar ons almal geniet om saam te luister terwyl Charlene dit voorlees..

“In Kanada is die meeste kerkdienste op Oukersaand. Dis ook gewoonlik wanneer Kanadese hulle hoof Kersmaal geniet. Ons verkies steeds ʼn Kersdagete.

“Net voordat sy gaan slaap, hang Ruby die towersleutel vir Kersvader aan die buitenste voordeurknop. Hy is die enigste een wat die deur daarmee kan oopsluit. Sy koekies en melk word op die koffietafel geplaas, saam met ʼn bakkie hawermout vir sy bokke.

“Ek word in die middel van die nag wakker. Buite skyn ʼn helder goue glans wat die hele omgewing verlig. Dis doodstil. Ek staan op en loer deur die venster. Sneeu sif saggies neer en alles is reeds deur ʼn digte wit laag bedek. Dit gaan ʼn wit Kersfees wees…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Carla Venter ·

So pragtig Tannie Cathy! Hierdie is ons eerste Kersfees as Kanadese en ons voel bevoorreg om deel van hierdie groot en stil land se mense te wees. Tog lekker om ook te weet dat die wonder van ‘n somer kersfees altyd deel van ons mooi herinneringe sal wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.