Só beskerm die Nasionale Kredietwet jou 

krediet-kredietkaarte-geld-bank

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die Nasionale Kredietwet is in 2007 ingestel om onder meer ʼn wye verskeidenheid verbruikersprobleme te hanteer, soos die voorwaardes wat in kredietooreenkomste mag wees en hoeveel rente kredietverskaffers mag hef. Ina Opperman verduidelik wat verbruikers se regte is in terme van dié wet en hoe ʼn mens kan sorg dat kredietverskaffers jou regte respekteer.

Die Nasionale Kredietwet is ingestel om die ekonomiese en sosiale welvaart van alle Suid-Afrikaners te beskerm, ʼn billike en deursigtige kredietmark te bevorder en verbruikers en hul regte te beskerm. Die regulasie van kredietverskaffers, skuldberaders en kredietburo’s val ook onder dié wet, sowel as die koste van krediet. Verder is dié wet ook daarop gerig om die speelveld gelyk te maak deur die manier waarop krediet verskaf word te standaardiseer, sodat verbruikers die aanbiedings van verskillende kredietverskaffers kan vergelyk.

Die doel van die Nasionale Kredietwet

Die doel van dié wet is om die manier waarop inligting in kredietooreenkomste verskaf word, te standaardiseer. Daarom dui dit duidelik aan watter inligting kredietverskaffers moet verskaf. Die inligting moet in eenvoudige, verstaanbare taal gegee word sodat verbruikers dit maklik kan verstaan en gebruik om vergelykings te tref tussen kredietaanbiedings asook ingeligte keuses te maak.

Dié wet reguleer ook kredietburo’s en die inligting wat hulle oor verbruikers mag versamel, hoe hulle hierdie inligting mag insamel en gebruik en vir hoe lank die inligting op hul rekords mag bly, sodat kredietburo’s net akkurate inligting oor verbruikers aanteken.

Dit is ook dié wet se doel om te verseker dat alle kredietverskaffers kredietprodukte, soos oortrokke geriewe, persoonlike lenings, kredietkaarte en klererekeninge, dieselfde hanteer. Dié wet reguleer ook metodes om verantwoordelike kredietverskaffing te bevorder en te keer dat verbruikers te veel skuld maak en hoe verbruikers wat wel te veel skuld maak, bygestaan kan word.

Die Nasionale Kredietreguleerder

Die Nasionale Kredietwet maak ook voorsiening vir net een liggaam wat die wet toepas, die Nasionale Kredietreguleerder (NKR). Kredietverskaffers, skuldberaders en kredietburo’s moet by die NKR registreer en die NKR hanteer dan verbruikersklagtes oor hierdie entiteite. Indien die NKR nie die klagte kan oplos nie of vind dat kredietverskaffers, skuldberaders of kredietburo’s die wet oortree, kan die aangeleentheid na die Nasionale Verbruikerstribunaal verwys word.

Wie is kredietverskaffers?

Kredietverskaffers is volgens die Nasionale Kredietwet banke, mikroleners en kleinhandelaars waar jy op rekening kan koop en alle ander ondernemings wat handel dryf op krediet, lenings verskaf of rente hef op rekeninge wat nie betyds betaal word nie.

 Wat is ʼn kredietooreenkoms?

Volgens die Nasionale Kredietwet is ʼn kredietooreenkoms ʼn ooreenkoms waarin ʼn kredietverskaffer goedere aan ʼn verbruiker verskaf of geld vir ʼn verbruiker leen. Die ooreenkoms moet inligting bevat oor die afbetalingstydperk, versekering, rente en ander fooie wat gehef word en wat gebeur indien die verbruiker nie die paaiemente betaal nie.

Die wet is van toepassing op huislenings, kredietgeriewe soos winkelkaarte, oortrokke bankrekeninge, kredietkaarte, petrolkaarte, persoonlike lenings, afbetalings, huurkoop, pandtransaksies en afslagtransaksies, sowel as ontwikkelingskredietooreenkomste, insidentele kredietooreenkomste en kredietwaarborge.

Wat is verbruikers se regte?

Jy het die volgende regte volgens die Nasionale Kredietwet:

  • Die reg om aansoek te doen om krediet.
  • Niemand mag teen jou diskrimineer wanneer jy aansoek doen om krediet nie.
  • Jy mag aandring op redes waarom krediet nie toegestaan word nie.
  • Jy moet dokumente kry in ʼn amptelike taal wat jy verstaan, in gewone taal.
  • Jou persoonlike inligting moet as vertroulik hanteer word.
  • Jy mag weet watter inligting die kredietburo oor jou het en dit bevraagteken.
  • Jy moet gereelde rekeningstate kry.

As jy wil kla

Wanneer jy oor ʼn kredietooreenkoms wil kla, moet jy eers by die kredietverskaffer self kla. Indien jou klagte nie opgelos word nie, kan jy kla by die Nasionale Kredietreguleerder. Besoek die reguleerder se webwerf by www.ncr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

D Coetzee ·

Hoe gemaak as n bank jou goedgekeur het vir n krediet kaart en as jy navraag doen tot vervelings toe hoor ek niks van hulle nie. Vele oproepe en emails geen terugvoer? Nedbank

Aj ·

Ek wou Absa by die krediet buro raporteer. Ek het my tyd en geld gemors want die krediet buro is net so onbehulpsaam soos Absa self.

linda botha ·

Die Nasionale Kredietwet is in 2007 ingestel om onder meer ʼn wye verskeidenheid verbruikersprobleme te hanteer, hanteer dit nie en beskerm jou ook ni ! Dis net n foe fie !!! Sodat jy beter moet voel !!!

Danie ·

Ek is af gedank omdat ek “kamstag” iemand gedreig het (kolega wat my geld skuld).
ek het skuld wat maandeliks betaal moet word, kan ek uitstel kry of is daar `n soort van versekering as jy jou werk verloor vir `n tydperk, totdat jy weer werk of inkomste het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.