Aanlyn reisdag: Besoek die vervolgde kerk

Piramides in Egipte (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Sluit op Saterdag, 27 Maart 2021, van 10:00 tot 11:30 by Geopende Deure Suider-Afrika aan vir ʼn virtuele reisdag. Die aanlyn Geopende Deure Reisdag vier 50 jaar se diens aan die vervolgde kerk deur hul internasionale teenwoordigheidsbediening (reisbediening).

By dié geleentheid sal jy eerstehandse getuienisse aanhoor van Geopende Deure se veldwerkers en van Jan Gouws, voorsitter en uitvoerende direkteur, oor die impak wat Geopende Deure Suider-Afrika het op die lewens van Christene wat weens hul geloof in Christus vervolging ervaar. Enigiemand wat dié geleentheid bywoon, kan uitsien na die getuienisse en sal geïnspireer word om saam met Geopende Deure te reis om hul vervolgde familie te ontmoet.

Twee reispakkette ter waarde van R5 000 elk sal weggegee word om mense aan te moedig om by Geopende Deure aan te sluit op ʼn reis na die vervolgde kerk (bepalings en voorwaardes geld).

Toeriste op ʼn geheime sending

Enigeen kan ʼn toeris op ʼn geheime sending wees deur by Geopende Deure aan te sluit vir ʼn reis na die vervolgde kerk.

Met Geopende Deure se reisbediening kan jy letterlik grense oorsteek om vervolgde Christene se hande vas te hou om hulle aan te moedig en saam met hulle te bid. Reisigers kan ook hulpbronne aflewer by ʼn kerk wat gebid en God vertrou het vir die middele om meer oor Hom te leer.

Broer Andrew, die stigter van Geopende Deure Internasionaal, het meer as 65 jaar gelede die eerste tree geneem om die vervolgde kerk te besoek – dit het gevolge gehad wat hy hom destyds nooit sou kon indink nie. Nou het sy bediening na talle lande reg oor die wêreld uitgebrei.

ʼn Hartsverandering

Peter*, ʼn ondersteuner van Geopende Deure wat onlangs ʼn reis na Suidoos-Asië meegemaak het, sê: “Voor die reis het ek ver van God af gevoel. Die reis het egter my hele lewe verander en my verhouding met God regtig versterk. Ek sal nooit weer dieselfde wees nie, want my hart

is vir altyd verander.

“Ek het Andrew* ontmoet – ʼn sewejarige seuntjie wat tydens ʼn bomaanval op ʼn kerk beseer is. Hy het ernstige brandwonde oor meer as 40% van sy liggaam opgedoen en het sedert die bomaanval 39 operasies ondergaan. Ondanks sy ontberinge het hy getuig dat Jesus al is wat hy nodig het. Ek het die liefde van Jesus in sy oë gesien.

“Ek sal alles in my vermoë doen om in Hom te bly. Ek wil baie vrug dra en tot eer van die Vader Sy dissipel wees. As dit ook jou begeerte is, moedig ek jou aan om uit te vind waar God besig is om te werk en daar by Hom aan te sluit. Jy hoef nie te bid of jy dit moet doen nie, Hy wil hê dat jy Hom moet volg,” sê Peter.

Verskillende opsies vir reisigers

Viëtnam (Foto: woong hoe/Pixabay)

Belangstellendes kan op bemoedigingsreise gaan, waar hulle die geleentheid kry om vervolgde gelowiges te ontmoet, saam met hulle te bid en moontlik ʼn kerkdiens by te woon. Hulle kan ook kies tussen gebedsreise om vir ons familie in Christus in hul eie land in te tree, koerierreise om broodnodige hulpbronne na lande te neem waar daar ʼn groot behoefte daaraan is, jeugreise om jongmense in die vervolgde kerk te ontmoet en aan te moedig, en spesiale reise om vervolgde Christene op ʼn praktiese manier by te staan.

Basisreise vanaf Suid-Afrika in 2021:

  • Sentraal-Asië in Julie (twee afsonderlike reise)
  • Egipte in Oktober
  • Viëtnam in November

Internasionale reise:

  • China in Junie en September (twee afsonderlike reise).
  • Noord-Asië in Mei en Julie
  • Colombië in April, Junie en November (drie afsonderlike reise).
  • Suidoos-Asië in September
  • Bangladesj in November

Enige reis wat jy kies, sal beslis vervolgde Christene aanmoedig en jou lewe vir altyd verander.

Hoe om te registreer

Vir meer inligting oor die virtuele Geopende Deure Reisdag of om vooraf vir die geleentheid te registreer, besoek www.opendoors.org.za of stuur ʼn e-pos aan Samantha by [email protected]. ʼn Skakel om aanlyn via Microsoft Teams by die Geopende Deure Reisdag aan te sluit, sal per e-pos gestuur word aan almal wat registreer.

*Naam verander vir veiligheidsdoeleindes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.