Gedagte vir die dag: Aktief en lewend

Bybel_boek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop. (Hebreërs 4:12)

Die Bybel bevat nie die woorde van mense nie, maar die woorde van God, en daarom mag ons nie die krag daarvan in ons lewens onderskat nie. Dit vertroos ons wanneer ons benoud is, lei ons wanneer ons nie weet wat ons moet doen nie en veg vir ons wanneer ons aangeval word. Dit konfronteer ons wanneer ons met sonde flankeer, herstel ons wanneer ons lewens in puin lê en verryk ons wanneer ons emosioneel bankrot is. Dit spel genade, bring vrede voort en straal liefde uit in die Persoon van Jesus Christus. As die lewende woorde van God het dit die krag om ons lewens te transformeer, ons gedagtes te vernuwe en ons terug te bring na God se oorspronklike ontwerp vir ons lewens.

Dit is ’n vlymskerp geestelike wapen sonder gelyke, want dit word nooit stomp nie. Elke stukkie geskiedenis, elke profesie, elke lied, elke spreekwoord, elke brief, elke openbaring is kragtig en raak ons diep, want dit het nie ’n vervaldatum nie.

Om die woorde van God te verwerp, is om die Outeur self te verwerp. Daarom, laat ons ons nie teen sy ewige waarheid verset nie, maar ons bekeer, want die Woord is naby ons – in ons mond en in ons hart.

Here, om met u Woord besig te wees, is om in u teenwoordigheid te wees. U Woord is kragtig en lewend, en dit is ’n voorreg om dit te lees, te bestudeer, te memoriseer, te oordink en te bid. Help my ook om dit daagliks met wysheid, insig en oordeel akkuraat toe te pas. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir elke dag se genade…dat ek n Bybel het dat ek kan lees en by U voete my dors kan les…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.