As ’n ma haar dogters leer

 susters-vriendinne-pixabay-andinavoicu.jpg

(Foto: pixabay.com/andinavoicu)

“ʼn Vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.” Spreuke 31:30

Elke moederhart wens dat haar dogters gelukkig sal wees. As ouers is ons dikwels oorbeskermend en hard teenoor ons kinders as hulle foute maak of nie presteer soos ons graag wil hê hulle moet nie. Die Skrif gee op verskeie plekke praktiese wenke en wonderlike voorbeelde om ons te help in hierdie opvoedingsproses. Om egter altyd reg op te tree en altyd die regte antwoord te ken is nie so maklik nie. In ʼn huis met vier dogters kan dinge soms, wel, interessant raak.

Daarom is dit nie net belangrik om die regte “kurrikulum”, naamlik die Bybel, te gebruik nie, maar veral die regte voorbeeld te stel. Ons kinders leer deur voorbeelde. Dalk moes jy ook al jou kinders help om nie te doen wat jy doen nie, maar om te doen wat jy sê … Hierdie “voorbeeld wees” word ook beskryf in die Tien Gebooie onder die tweede gebod waar dit gaan oor afbeelding, in die sondes van ouers wat besoek word aan die kinders. Dit bedoel nie jou kinders word gestraf vir jou sondes nie, maar wel dat jou sondes herhaal word deur die voorbeeld, die afbeelding en inbeelding van jou optrede. Jou optrede het gevolge.

 ma-dogter-shine-photos-unsplash.jpg

(Foto: unsplash.com/shine-photos)

Aan die ander kant bring jou voorbeeld van Godsvrees en aanbidding ʼn voorbeeld wat 1 000 geslagte strek, deur die Here lief te hê om Hom te dien. Daarin lê die prysenswaardigste optrede, in ʼn vrou wat die Here vrees.

Hierdie wysheid leer ons uit die bekendste beskrywing oor wat dit beteken om ʼn deugsame vrou te wees. Dit is in die woorde van Lemuel, die koning, se moeder van Spreuke 31. In hierdie onderrig is daar ʼn paar praktiese oorwegings van wat ʼn deugsame vrou is, oor hoe ʼn moeder haar dogter leer om ʼn waardige vrou te wees.

Sy is meer werd as waardevolle klippies. Kosbare edelgesteentes was baie skaars. Dink aan die gelykenis van die kosbare pêrel waarvan Jesus vertel. Om so ʼn skaars edelgesteente te hê het groot waarde gehad. Maar ‘n deugsame vrou kan nie daarmee vergelyk word nie. Sy word nie gemeet aan die “markwaarde” van wat sy alles kan doen nie. Ons sou dit verder kon toepas deur te sê dat sy haar nie laat omkoop met waardevolle geskenke nie. Of anders gestel, sy trou nie net omdat die ring ʼn groot diamant het nie …

Sy wek vertroue en doen goed. Hierdie eienskappe wys op die sekerheid van geloof en haar betroubaarheid. Sy is geen praatjiesmaker wat haar binnekamer bespreek oor ʼn koppie tee nie. Haar ware skoonheid is nie in die vleg van hare en die omhang van juwele nie, soos in Petrus beskryf, maar in die stille sagmoedige gees wat baie kosbaar is vir God. Haar lewe is daarop gerig om op te bou en nie af te breek nie.

Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy laat haar nie afskrik deur werkverpligtinge nie, en nog minder huiwer sy om hard te werk en om te sorg. Haar lamp brand voor die son op is en in die nag gaan dit nie dood nie.

Haar hart is vol omgee en sterkte. Sy sorg vir die behoeftiges, en woeker met haar gawes en talente. Sy sit nie en wag vir die lewe om te gebeur nie, sy gaan die dag tegemoet. Sy tree op in sterkte, sonder vrees of huiwering.

 ma-dogters-leah-hetteberg-unsplash.jpg

(Foto: unsplash.com/leah-hetteberg)

Sy sorg vir haar huis. Sy is nie besorgd oor die koue of die hitte nie, want sy maak seker dat haar huis ʼn warm tuiste is. Haar kinders se klere is netjies en heel. Sy is nie so besig met haar loopbaan dat haar huisgesin daaronder ly nie. Sy lag oor die dag wat kom. Sy is nie bekommerd en bevrees nie.

Sy is ʼn eer vir haar huisgesin met wysheid op haar lippe. Sy bring nie haar gesin in die skande nie, inteendeel, sy is ʼn eer vir haar huisgesin. Haar man prys haar en haar seuns noem haar gelukkig. Die innerlike liefde wat sy uitleef, word sigbaar in alles wat sy doen. Haar woorde is fyn gekies, en in die poorte weet almal wie sy is.

Haar skoonheid is nie uiterlik nie. Sy is nie altyd gesteld daarop om rooi lippe te hê en ʼn kort rokkie nie. Want skoonheid word nie net uiterlik bepaal nie. Dit is juis die innerlike skoonheid wat ʼn vrou deugsaam maak, dat sy haar Verlosser ken en Hom dien met haar hele hart.

Dink aan Rut, die Moabitiese meisie, wat alles verloor het en tog saam met haar skoonma, Naomi, teruggegaan het na die beloofde land. Want in Naomi se huis het sy die ware God leer ken. “U God is my God”, het sy gesê. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie, al moes sy in iemand anders se landerye agter die snyers aanloop en are optel.

Almal het Rut raakgesien, nie omdat sy so mooi was nie, maar omdat sy toegewyd was en met wysheid opgetree het. Sy het nie agter die jongmanne aangeloop en hul aandag gesoek nie, maar haar huis versorg. So kon Naomi, wat so verbitter was, ook vir Rut leer om die beloftes van God vas te hou, en deur haar optrede het sy Boas aangespoor om as losser op te tree. So het sy deur die geloof die grootmoeder geword van koning Dawid, die een uit wie Christus gebore sou word.

Moeders, leer jul dogters deur die voorbeeld wat julle stel. Wees ʼn bruid van Christus, wat met liefde en omgee en nederigheid ander se belange op die hart dra. Laat jou hande vir niks verkeerd staan nie, doen wat goed is, en wees betroubaar. Want skoonheid is maar bedrog, en uiterlike vertoon gaan verby. Maar ʼn vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word.

  • Geskryf deur ds. Lourens Venter van Begrond Instituut
 ma-dogters-pixabay-shelleywiart.jpg

(Foto: pixabay.com/shelleywiart)

Die Vroue in Beweging inisiatief fokus Februarie maand op die HelpHetta-projek van Solidariteit Helpende Hand. Hierdie projek help elke maand 3 500 behoeftige jong dames met sanitêre ware. Besoek www.helphetta.co.za om vandag nog ‘n jong meisie te help. vir meer inligting oor die vroue in beweging inisiatief besoek www.vroueinbeweging.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.