Gedagte vir die dag: Bly in Hom geanker

waterstroom-timhill-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: TimHill/pixabay.com

Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken. Julle verhouding met Hom moet so heg en intiem wees soos die band tussen ’n boom en die aarde waaruit dit groei. (Kolossense 2:6-7)         

God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons té lief om ons te los net soos ons is, het Fulton Sheen gesê. Daar is maar één manier om elke dag núút te leef en in jou geloof te groei en dit is om Christus intiem te ken – om soos die wortelstelsel van ’n boom in die grond in Hom vasgeanker te wees.

Nou weet ons almal dat ons met tye dit nogal regkry om werklik naby aan God te leef, net om weer die volgende dag deur die winde van die lewe uit die noue verbintenis met Hom gewaai te word. Die wêreld het mos maar ’n manier om ons wég van God af te trek. Daarom moet ons met jaloesie waak oor ons kosbare Woordlees- en gebedstyd, ons intieme gesprekke met Hom en ons aanbidding saam met medegelowiges.

Bid elke dag dat sy lewende water jou sal vul en dat sy liefde jou geloof sterk sal maak.

Hou my ín U gewortel, Hemel-Vader.

Bron: Moed vir elke môre deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.