Gedagte vir die dag: Die Bose se huis is geplunder

breek-vry_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer. (Kolossense 2:15)

Die duiwel is ’n “celebrity” in baie geloofskringe. Loop iets verkeerd, staan mense reg met verklarings van sataniese aanslae. Die hartseer is dat die duiwel soms meer aandag in die kerk geniet as wat hy in die ganse Ou Testament kry. (Terloops, daar’s tegnies net vier Ou-Testamentiese gedeeltes wat met Satan as ’n figuur uit eie reg te make het.) Die Nuwe Testament skets die duiwel as ’n versoeker en ’n verleier. Ook as die een wat vals godsdienste inisieer en gelowiges probeer uitroei. Die goeie nuus is egter dat Christus die oorwinnaar is oor alle magte. Reeds aan die kruis het Jesus se triomftog begin, soos wat Paulus in Kolossense 2:15 vertel. Soos gebruiklik in die Romeinse Ryk wanneer groot veldslae gewen is, het oorwinningsoptogte dikwels op vyandelike terrein plaasgevind. Wel, Jesus het sy vyand se terrein binnegeval en sy krygsgevangenes aan die kruis afgerokkel. Daarom is die Bose nie meer die superster wat hy gedink het hy is nie.

Die duiwel is steeds ’n gevaarlike opponent. Petrus noem hom ’n brullende leeu. Maar die Nuwe Testament weet dat Jesus sy ryk se mag geknak het. Jesus vertel in Matteus 12 dat Hyself “die sterk man” se wapens afgevat het. Hy het sy huis geplunder. Daarom moet ons die duiwel nie te veel krediet gee nie. Martin Luther het tereg gesê God het hom soos ’n aap aan ’n tou vasgemaak. Wanneer dit God behaag, ruk Hy net aan die tou, dan val die duiwel oor sy eie voete. Al storm die leër magte van die Bose dus van alle kante af op ons toe, is ons in die hande van die Een wat sterker is. Die Here is ons Rots. Hy is ons veilige en vreugdevolle Vesting.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nikita ·

Amen! Daar is krag in die bloed van Jesus. JESUS die naam bo alle name!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.