Christenskap word aangeval – hoe moet ons reageer?

Foto: Geopende Deure

Soos baie van ons deeglik bewus is, is daar in Suid-Afrika en wêreldwyd verskeie kwessies rakende godsdiensvryheid en ons reg om sonder vrees of veroordeling jou godsdiens te beoefen. Hoe moet Christene reageer in ‘n wêreld wat al hoe meer vyandig is teenoor Christenskap? Hoe bewaar gelowiges hul waardes en oortuigings terwyl die wêreld se doel voortdurend is om dit uit te wis?

In Suid-Afrika

In ons eie land is die aanslag op godsdiensvryheid dalk nog subtiel, maar dit word al hoe duideliker. Iets soos die opvoeding van jou kinders, wat ʼn belangrike Bybelse beginsel vir ouers is, word ook nou voorskriftelik. Met die konstitusionele hof wat beslis het dat lyfstraf nou onwettig is in Suid-Afrikaanse huise, is dit dus nou onwettig vir ouers om hul kinders tuis te dissiplineer met ʼn pakslae.

Foto: Geopende Deure

Verder poog die departement van justisie om wette in te stel teen enige iemand wat iets preek of materiaal aanbied (uit die Bybel of Koran, godsdienstige boeke, CD’s, DVD’s) wat as haatspraak beskou kan word. Dit blyk of die departement met hierdie regulasies godsdienstige aktiwiteite wil reguleer. Dit sal beteken dat indien enige iemand kommunikasie of ‘n preek hoor wat volgens hulle diskriminerend is, kan die ‘oortreder’ hof toe geneem word en strafregtelik aangekla word van haatspraak.

Hierdie is slegs enkele van die talle nuwe wetgewings wat toegepas word wat die vrylike uitoefening van Christenskap en ander godsdienste bedreig en basiese menseregte op godsdiensvryheid in Suid-Afrika ondermyn. Maar wanneer mens egter na wêreldnuus kyk, is die aanval op Christenskap en die vervolging van Christene glad nie ʼn vreemde tendens nie en styg hierdie teenstand jaarliks op ‘n skokkende skaal.

Wêreldwyd

Foto: Geopende Deure

Op 29 Julie 2019 het Boko Haram, ‘n Islamitiese terreurgroep uit Nigerië, bekend vir die teiken van vroue en kinders, ‘n hoofsaaklike Christendorp in die verre noorde van Kameroen oorval en die ore van Christenvroue afgesny.

As ‘n bekende demokratiese land, word Indië deur die Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid beskou as ‘n ‘land van kommer’ weens die toenemend gewelddadige aanvalle op godsdienstige minderhede in die land. Die diskriminasie teenoor godsdienstige minderhede (soos Christene en Moslems) in Indië is besig om drasties te styg. Indië is ook tans nommer 10 op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van 2019, wat die top-50 lande lys waar dit die gevaarlikste is om ‘n Christen te wees.

Die Chinese regering probeer ook om die invloed van Christenskap en godsdiens in die land uit te roei. In die laaste paar jaar is Christen-huiskerke geteiken en kleinhandelaars word ontmoedig om Bybels te verkoop. In sommige streke is dit onwettig vir kinders onder 18 om kerk toe te gaan, en op ander plekke is ‘n beroep op Christene gedoen om plakkate van Jesus te vervang met foto’s van President Xi Jinping.

Wanneer mens dieper kyk, is dit duidelik dat die Liggaam van Christus wêreldwyd onder aanval is. In Suid-Afrika begin ons dit gedeeltelik ervaar met nuwe wetgewings en die sosiale intoleransie vir die Christelike geloof. In ander lande ervaar talle Christene vandag vervolging op wesenlike maniere, soos mishandeling, gevangenisstraf, ontvoering, omkoopgeld, vernietiging van eiendom, boetes, marteling en selfs moord – vir die eenvoudige rede dat hulle kies om Jesus te volg.

Hoe moet ons hierop reageer?

Foto: Geopende Deure

Timoteus 3:12-17 sê:

“Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger…

Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Die Woord leer ons dat enigeen wat ʼn Christelike lewe wil lei – vervolging sal ervaar. Ons reaksie moet daarom wees om, ten spyte van al die bedreiging, voort te gaan om getrou te bly aan die Woord en God se aangesig te soek… in ons geloofsgemeenskap, in die Woord en deur gebed. Ons moet bid vir ons medegelowiges en kerke in ons eie land, maar ook vir alle gelowiges reg oor die wêreld, ons familie in Christus, om sterk te staan ten spyte van die ontberinge, en dat die Evangelie sal voortgaan om die uithoeke van die aarde te bereik.

Neem aksie

Maak vandag die besluit om daadwerklik vir vervolgde Christene reg oor die wêreld te bid. Ons gebede kan gaan waar ons nie kan nie.

Klik hier om ‘n gebedsvennoot van Geopende Deure te word. Ontvang gebedsversoeke en bly op hoogte van nuus uit die vervolgde kerk wêreldwyd. Jou gebede en ondersteuning sal help om ons familie in Christus te versterk wat in die spervuur staan vir ons geloof, en hul herinner dat alhoewel hulle vervolg word, is hulle nooit alleen nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.