Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! (1 Tim 1:17)
Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stem me in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” (Op 11:15)
Jesus se hemelvaart is sy troonsbestyging. Natuurlik praat ons nou ’n ander taal as voor Jesus se kruisiging. Toe het ons met die profeet van Nasaret, die seun van Josef en Maria te doen gehad. Maar nou het ons met die opgestane, lewende Here te make. En ons verstaan hiervan maar min. Hoe kan ons wat in ons menslike manier van dink ingeperk is, ’n verheerlikte liggaam beskryf? Ons praat nou in geestelike terme.
Dit is opvallend dat die heerskappy van Jesus en God die Vader ná die hemelvaart inmekaarvloei. Want ons het met die drie-enige God te doen. God die Vader heers deur sy Seun. Die drie-enige God is Koning (vgl Op 11:15).
Maar ons is nog steeds hier op aarde, die sondebesmette aarde. En ons getuig dat Jesus nou Koning is, dat Hy nou reeds heers. Wat bedoel ons? Heel eerste bedoel ons dat Jesus reeds die Satan verslaan het. Dis nie waar dat die duiwel los is nie. Verder glo ons dat Jesus deur sy kerk hier op aarde heerskappy voer oor die bose magte. Die kerk, ek en jy, is die instrumente deur wie die lewende Here sy mag op aarde uitoefen. Hoe? Deur die uitdra van die evangelie van verlossing en deur die bediening van liefde. Liefde is ons Here se manier om die magte van die bose te stuit.
Is jy in die wenspan, die span van die Hemelkoning?
Dankie vir elke oggend se gedagte van die dag. Vanoggend se laaste sin is vir my besonders treffend. Ons Here gebruik liefde om magte van die bose te stuit. Ons opdrag is ook om in liefde met mekaar saam te lewe. Miskien is my glimlag vandag, die eerste keer dat iemand Jesus sien, en so sy/haar hart vir Hom gee.
Baie dankie vir elke dag se pitkos. Elke boodskap wat ek lees voel of dit net vir my alleen, sondaar, nietige , hulpelose mens geskryf is. Maar dan besef ek die Here het my reeds vergewe , ek moet net leef dit wat HY vra en ophou sondig. Here help my asseblief !!!