Die vrou in die gemeenskap – my mense en my rol

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

“Waar is my plek? Wat is my roeping? Wat moet ek doen met my lewe?” is vrae wat baie vroue vra. (Foto: pixabay.com)

Waar is my plek? Wat is my roeping? Wat moet ek doen met my lewe?

Baie van ons het al geworstel met sulke vrae. Ek onderneem glad nie om finale antwoorde aan te bied nie, maar om slegs die rol van die vrou in haar gemeenskap te bespreek, met behulp van Bybelse insigte.

Eerstens is dit belangrik om te onthou dat jou roeping nie noodwendig jou lewe lank dieselfde sal wees nie. Moet dus nie bang wees vir verandering nie, maar gryp dit aan en volg die pad wat vir jou uitgelê is.

Soos ons weet, kan ʼn vrou regtig baie hoede opsit. Haar rol is van so ʼn aard dat die skepping nie volmaak was sonder haar nie (daar is nie verniet soveel vrouemonumente opgerig in Suid-Afrika nie). As jy byvoorbeeld kyk na enige moeder: haar rol is nie net dié van moeder nie, maar van verpleegster, oppasser, storieverteller, kok, bediende, vertrooster, beskermer, regter en nog soveel meer. Is dit nie wonderlik nie? Jy het nooit net een rol nie, jy is nooit nietig nie. Jy is nooit nietig nie, want God het jou nie geskape om nietig te wees nie, maar om van hulp te wees.

Vroue Bid_AndPan614 _Pixabay

“Die Here het ons nie net as individue geskep nie, maar as gemeenskappe van mense.” (Foto: pixabay/AndPan614.com)

Dit is hier waar roeping ter sprake kom. Nie almal wil ʼn huisvrou wees nie en nie almal wil in die korporatiewe wêreld ingaan nie, en dit is reg so, God het ons elkeen uniek gemaak (dink hoe vervelig dit sou wees as almal dieselfde belangstellings gehad het!). Dit is egter belangrik dat daar altyd ondersoek ingestel word en dat sake met gebed benader word, om te bepaal wanneer iets slegs die begeertes van die mens is, of ʼn roeping van God. Onthou dat die ou mens doodgaan, en daarmee saam moet jou menslike begeertes ook doodgaan.

Jy word geroep na die plek waar God jou die beste kan benut op daardie tydstip, en dit sluit baie meer in as beroepskeuses. Dit omvou jou hele lewe: waar jy is, wat jy doen en saam met wie, in watter gemeenskappe jy jouself bevind en die geleenthede wat jy kry of nie kry nie. Selfs partykeer as jy agter ʼn sekere persoon in die ry staan of vir iemand glimlag. God gebruik jou regtig oral.

 vou-hulp-willian-2000-pixabay.jpg

“Jy word geroep na die plek waar God jou die beste kan benut op daardie tydstip.” (Foto: pixabay/willian_2000.com)

Die Here het ons nie net as individue geskep nie, maar as gemeenskappe van mense – dit wil sê, rondom jou naastes. Dit begin by die huis, by die gesin, en groei organies na buite: na die buurt, na die kerk en na die dorp of stad waar jy woon. Daar is baie riglyne in die Bybel oor hoe God wil hê ons teenoor ons naaste moet optree. By die huis is jou rol dié van ʼn tuisteskepper – dit sluit ook selfs in wanneer jy jou rol in ʼn gesin speel as dogter, of suster, of tannie. Dis ʼn gawe van ʼn vrou. By die kerk is daar so baie take om te verrig. Die kerk is ʼn liggaam en as elke lid nie sy of haar deel doen nie, funksioneer die liggaam nie soos hy moet nie. In die breër gemeenskap is die vrou wat die mense moet sien nie noodwendig van buite versier met al die nuutste en mooiste klere en juwele nie – want uiterlike skoonheid vergaan, en sjarme is bedrieglik –  maar eerder straal sy uit dat sy die Here vrees. Sy is fluks en wys, sy sit nie en wag vir iets om te gebeur nie.

Gaan lees gerus die hele Spreuke 31, dit beskryf baie beter as wat ek kan hoe dit lyk om ʼn vrou van die Here te wees. Leef jou lewe voluit in die glans van die Here en sy Woord. Moet nooit twyfel dat Hy jou, vrou, wonderbaarlik geskape het nie.

Die tema “Die vrou in die gemeenskap – my mense en my rol” is ʼn roerende en betekenisvolle een, veral in die konteks van die Solidariteit Helpende Hand-studietrust se Susanna Smit-studiefonds en die bydrae van Vroue in Beweging. Hierdie tema bring die gemeenskap nader aanmekaar en beklemtoon die waarde van die vrou in verskeie rolle binne die samelewing.

Geskryf deur Indica Strydom – Medeskrywer Begrond Instituut

 sonneblomme-veld-vrou-jill-wellington-pixabay.jpg

“Leef jou lewe voluit in die glans van die Here en sy Woord.” (Foto: pixabay.com/jill-wellington)

Meer oor Vroue in Beweging:

Daarom juis het die Vroue in Beweging gekies om in Desember te fokus op die Susanna Smit-studiefonds van die Solidariteit Helpende Hand-studietrust. Ons doel is eenvoudig: Ons wil jong vroue help studeer, vroue wat dit nie ander sou kon bekostig nie.

Dit is ʼn mooi storie en dit is ʼn volhoubare verskil, maar ons wil meer doen, ons wil nog studente help. Ons het jou hulp nodig. As jy vandag hierdie woorde lees en dit druk op jou hart om ʼn donateur te word van die Susanna Smit-studiefonds wat jong vroue bemagtig stuur vir ons ʼn e-pos na [email protected]. As jy ʼn skenking wil maak en so wil help klik hier: https://helpendehand.co.za/susanna-smit-studiefonds/

Om meer te lees oor die Vroue in Beweging besoek www.vroueinbeweging.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.