Gedagte vir die dag:  Die diepte van ware vrede

kers-hand-stiltetyd.jpg

Foto: geralt/pixabay.com

As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. (Romeine 5:1)

Ons sukkel om met, deur en in vrede te leef. Dis mos asof dit ons ontwyk. Miskien omdat die wêreld so vol onrus, geweld, onsuiwerheid en onsekerheid is. Ons word immers elke dag blootgestel aan nog slegte nuus. Maar dalk ook omdat ons diep in onsself nog nie besef het wat ons as kinders van ons Heiland regtig reeds hét nie.

Kom ons onthou: Toe die Kripkind gebore is en later aan die kruis gesterf het, het alles verander. Toe het veroordeling plek gemaak vir vergifnis. ’n Stukkende lewe met ’n onbekende einde is verander in ’n heelwees-rykdom en ’n ewige lewe. Ons is – ondanks die nuusvoorblaaie – veilig, gered, geliefd, verewig in Hom. Drink ons hierdie waarheid in, besef ons ons kan maar minder bekommerd, ontsteld, onrustig en onvergenoegd wees. Ons ís geredde Koningskinders. Nóú reeds.

Jesus het vrede tussen ons en Hom gebring. Steek nou opnuut ’n kers van vrede in jou hart aan. Laat toe dat die Lig van die Kripkind jou sus.

Dankie dat U gekom het om vrede op aarde – vrede in my hart – te bring.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.