Gedagte vir die dag:  “Ek sal …”

landskap_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Genesis 12:1-7

“Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën … Ek sal seën wie jou seën …” (Genesis 12:2-3)

Aan die begin van die Ou Testament se verhale roep die Here vir Abram uit sy land uit, uit sy gemaksone, en gee hom ’n opdrag. En ’n driedubbele belofte.

Só begin ons Abram se verhaal lees. Met al die kinkels en kabels, die hoogtes, dieptes en draaie. Dit sou uiteindelik ’n mooi storie word, met ook vele minder mooi hoofstukke. Ons leer Abram ken in al sy krag en sy feilbaarheid, sy geloof én sy twyfel. Die triomf en die teleurstellings.

Wanneer Paulus later na hom as die vader van alle gelowiges verwys, sal ons wat hierdie Genesisverhaal van hom lees, net so liggies die kop skud en wonder: Is dit dan hoe ’n groot gelowige lyk? Is dit soos só ’n mens praat en optree?

Miskien is dit dan dat ons besef dat geloof se wortels nie in ’n mens se doen en late lê nie, maar in God se beloftewoord aan daardie mens. In Hom, die Gewer van geloof, wat aan die begin gesê het: “Ek sal …”

Hy sal, ja, want Abram kan nie. En ons wat hierdie storie lees, weet: Hy sou móés, ja, want Abram sou nooit kon nie.

Dit bly die genadewoord aan al God se kinders: God wat sê: “Ék sal.” Hier aan die begin van ’n jaar wat vol vreemdheid voor ons lê en waar vrees dreig om die meeste en die hardste woorde in ons lewe te spreek.

En as ons te versigtig is om koers te vat agter Hom aan, kan ons vir eers maar net prewel: “U moet, asseblief, Here. Ek kan nie.”

Help my orent, Here, hier aan die begin. En praat asseblief sonder ophou met my.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sean ·

U moet Here want ek kan nie Dis sulke mooi woorde en sommer nou my nuwe whatsapp status Baie dankie God seen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.