Gedagte vir die dag: Die bespotte koning is waarlik koning

Argieffoto (Foto: Yannick Pulver/Unspalsh)

“Toe trek hulle sy klere uit en werp ʼn rooi mantel om Hom; en hulle vleg ʼn kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en ʼn riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Ons groet u, Koning van die Jode!” (Matteus 27:28–29).

Oordenking
Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ʼn pers mantel om. Hulle vleg ʼn doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ʼn stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” (Matteus 27:28–29).

Die simbool van koninklike gesag en heerskappy is die staf of septer in die regterhand van die persoon wat op die troon sit. Jesus, Seun van God, was bereid om mens te word en Homself tot aan die kruis te laat verneder. Die almagtige God lyk daar weerloos.

Die soldate het Hom ʼn doringkroon gegee en ʼn stok in die regterhand. “Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” (Matteus 27:29). Hy het dit verdra, die pad van lyding en vernedering gekies. Alleenlik op dié manier kon Hy Verlosser van sondes wees. Hierdie roete moes Hy volg voordat Hy weer verhoog sou word tot die regterhand van die Vader.

Daarom is Hy nou Koning. Nie alleen van die Jode nie, maar van almal in sy koninkryk, uit elke volk, stam, taal en nasie. Die koninklike septer wat Hy nou in sy regterhand het, gee gesag oor alles en almal.  Daardie dag by Golgota het hulle Hom bespot. Die dag kom egter wanneer vervul sal word wat geskrywe is: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is” (Romeine 14:11).

Dien jy vandag die Koning Jesus Christus? Beleef jy dat Hy steeds bespot word, so ook jy wat in Hom glo? Maak die woelinge onder die nasies, die onsekerhede van elke dag jou onrustig en wankel jou geloof?Wees verseker dat Hy wat bespot is met ʼn stok in die regterhand, waarlik almagtige Koning is. Sy koninkryk sal in volmaaktheid deurbreek wanneer Hy terugkeer op die wolke. Nou is Hy egter reeds en ten volle die Almagtige wat oor alles heers en alles stuur na die eindpunt soos God bepaal het.

Gebed
Ons Vader in die hemel, ons bely dat ons glo in Jesus Christus, ons Koning en Verlosser. Versterk ons elke dag om staande te kan bly teen spotters en vyande van die Here. Amen.

Pitkos
Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom (Efesiërs 1:19-21).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.