Psalm 30:3,6 – Here, my God, ek het gebid dat U my moet help. Toe het U my gesond gemaak. As Hy kwaad word, is dit net vir ʼn paar sekondes. Maar Hy is lewenslank goed vir ons. Kyk maar: ons het deur die nag gehuil. Maar vanmôre lag ons van vreugde. Dis net die Here wat so iets laat gebeur.
Daar is baie mense wat deur die lewe gaan met “rouklere” omdat baie slegte goed met mense gebeur. Oral is daar gebroke verhoudings: Huwelike wat uitmekaar val, ouers en kinders wat mekaar nie kan verdra nie en vriendskappe wat verbrokkel. Dan is daar nog die pyn en ellende wat siekte veroorsaak, mense na aan jou wat doodgaan en vele ander omstandighede wat lei tot meer vrae as antwoorde. Jesus sterf aan die kruis op die wreedste denkbare manier. Daardeur bewerk Hy vergifnis, verlossing, vrymaking en ook genesing. God weet hoeveel pyn en ellende daar in die wêreld is as gevolg van die sondeval en daarom het Hy ʼn plan gemaak. Dit is net die Here wat so kan ingryp in ʼn mens se lewe dat jy van ʼn rou na volle blydskap kan verander in ʼn kort tyd. Dis net God se wonderwerke wat maak dat jy jou rouklere kan vervang met feesklere. Dit is net ons Vader wat maak dat jy van betraand na dansend kan verander.
Gebed: Here, dankie dat daar deur die wonde van Jesus vir ons genesing gekom het. Dankie dat U self my rouklere uittrek en vervang met feesklere.
Jou trane leer dat God ʼn getroue God is: ʼn kind huil nie vergeefs voor Hom nie. – H de villiers
Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy
Die Here is my Herder. Hoeveel keer verdwaal ons nie, dan lei ons weer terug. Hy bied ons rusplek vir ‘n moee liggaam en gees.
Dankie Liewe Vader dat u so getrou is wanneer ek ontrou is.
amen