Gedagte vir die dag: Die Here is goed! Loof Hom.

Argieffoto (Foto: Priscilla du Preez/Unsplash)

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie” (Psalm 118:1).

Skriflesing

Psalm 118:1

Oordenking
Begin elke nuwe dag met die woorde: Loof die Here. Daar is twee redes daarvoor: Die een rede lê in die Here se karakter, die ander in wat Hy doen. Dit is nie jou eie omstandighede wat bepaal of die Here geloof moet word of nie. Hy is altyd dieselfde en behoort altyd lof te ontvang.

Hy is goed – dit is sy karakter – en sy dade vertoon sy liefde wat geen einde ken nie.

Ken jy hierdie God, wat goed is en aan wie se liefde daar geen einde is nie? Hy hou Hom nie verborge nie, tree nie in die geheim op nie, help nie net die mense wat in die oë van die wêreld groot is nie. Jy sal van Hom leer ken wanneer jy na sy Woord luister, hoor hoe ander van sy goedheid en liefde getuig, persoonlik ervaar wat Hy vir jou doen.

In Psalm 118 maak God, wat goed is en oneindige liefde het, Homself deur die pen van die digter aan ons bekend. Hy is goed en sorg vir sy kinders. Almal word by die lofprysing betrek. Eers die hele volk, dan die priesters by die tempel, maar ook “hulle wat die Here dien”. Vandag sou ons kon sê dat die hele gemeente opgeroep word om uit te roep: “Aan sy liefde is daar geen einde nie”. Verder moet die persone, wat in die gemeente in besondere dienste staan, dieselfde lofprysing doen. Maar ook elke individu in die gemeente wat die Here dien, word opgeroep om Hom te loof. Niemand word uitgesluit nie, want God sluit niemand uit nie. Hy is goed teenoor al sy kinders en betoon sy liefde tot in ewigheid.

Op vier maniere maak die Here sy goedheid bekend en kan die enkeling bely dat die Here by hom is:

Hy verhoor gebede. Daarom is dit beter om by Hom te skuil as by mense.

Hy gee oorwinning oor vyande. Selfs al sou hulle soos bye om jou saampak, hulle sal verdwyn soos doringtakke wat verbrand word. In die Naam van die Here staan die oorwinning vas. Daar is geen ander Naam gegee waardeur verlossing moontlik is nie.

Net die Here kan help. Hy is vir sy kind ʼn bron van krag en beskerming. So ervaar een persoon dit dikwels, maar word ʼn hele gemeente daardeur versterk en kan saam daaroor juig.

Vierdens bely die digter dat hy in die tempel kon gaan getuig oor God wat goed is en oneindige liefde betoon. In daardie samekoms, waar jy op ʼn besondere manier van God se teenwoordigheid bewus is – die erediens saam met ander gelowiges – daar kan en moet Hy geloof word. Moenie swyg oor God se verlossing nie, maar bely dit saam met ander kinders van die Here. Sodoende versterk ons mekaar.

Die Here se goedheid is selfs ook teenoor die een wat verwerp was deur die gemeenskap ervaar. Hy was soos die onbruikbare klip op die bouperseel. Afgekeur deur die bouers, nikswerd in die oë van mense nie. Tog word juis daardie klip later vir ʼn baie belangrike taak gebruik. Dit word die hoeksteen, waarsonder die bouwerk nie voltooi kan word nie.

Die verlossing van mense, waarsonder ons nie kan bestaan nie, is in Jesus Christus waargemaak. Hy het mens geword, soos die onbruikbare klip geword, deur mense verwerp en Hy het Homself verneder. Tog het Hy die hoeksteen van die Kerk geword. Die belangrikste Persoon, waarsonder ons nie kan bestaan nie. Vir daardie liefdesdaad van die almagtige God kan ons almal saam, maar ook elkeen afsonderlik, die Here prys. Dit is die bewys van God se karakter: Hy is goed.

Loof en prys die Here God, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

Gebed
Ook vandag kan en wil ek U loof, o Here en God, want U is goed en aan u liefde is daar geen einde nie. Amen.

Pitkos
Koning Dawid het die instrumente laat maak om die Here te loof: “Aan sy liefde is daar geen einde nie” (2 Kronieke 7:6).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.