Gedagte vir die dag: Die Suiweraar

Argieffoto (Foto: Yannick Pulver/Unspalsh)

“Die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaardes of verskonings te volg. As hulle bereid is om My met hulle hele lewe te volg, moet julle hulle doop op gesag van die Vader, die Seun en die Heilige Gees” (Matteus 28:19).

Skrifgedeelte
Matteus 28:19

Oordenking
ʼn Mens is ʼn snaakse ding, want hy hou van uitdagings. Soos ek altyd sê, mense hou daarvan om uitgedaag te word. Ek sidder as ek sien wat party mense doen wanneer hulle uitgedaag word. Sommige sal van verskriklike hoë kranse in waterpoele afspring. Ander sal weer rekspronge doen omdat hulle uitgedaag is. Ek raak sommer yskoud en my maag maak sulke draaie as ek net daarna kyk. Nee dankie, dis beslis nie vir my nie.

Jesus daag sy volgelinge uit en dit sluit my en jou in. Hy noem die wêreld nou ons sendingveld. Dit gaan daaroor om geen verskonings te hê nie, maar die uitdaging te aanvaar en die wêreld in te gaan. Ons moet mense uitdaag om Jesus te volg. Vir rekspronge sê ek “nee dankie”, maar hierdie is die een uitdaging wat ʼn opdrag is. God vra dit van elkeen wat Hom volg. Jesus wil hê ons moet sy stem, hande en voete wees in ʼn stukkende wêreld.

Dink aan wat jy al gewaag het in jou lewe. Dink aan uitdagings wat jy al aanvaar het en mallerige goed wat jy gedoen het omdat jy uitgedaag is. Gedink Christenskap is vir sussies? Nou weet jy van beter. Daar is geen groter uitdaging nie. God self roep jou en daag jou uit om ʼn verskil in die wêreld te gaan maak. Wat ʼn voorreg! Wat is jou antwoord op die uitdaging?

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Hierdie opdrag word slegs deur die Krag van die Heilige Gees aanvaar en uitgevoer. Lewenslank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.