Gedagte vir die dag: Die Woord onderrig ons in waarheid

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek” (2 Timoteus 3:16, 1953-vertaling).

Oordenking
Waarom tog my Bybel lees? Is ʼn los teksversie per WhatsApp of oordenking deur iemand in jou e-pos of met die sosiale media nie genoeg nie?

Die brief aan Timoteus gee ons een baie goeie rede: Die Bybel is die Skrif, deur God geïnspireer. Dit het groot waarde! Dit is nie sommer ʼn boek nie. Dit is kosbaar. Die gawe wat ons kan benut om koers te hou op ons aardse reis. Die eerste waardevolle bydrae uit die Skrif is dat dit ons in die waarheid onderrig (2 Timoteus 3:16).

Geïnspireer? Petrus skryf: “… want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die Woord wat van God kom, verkondig” (2 Petrus 1:21). Ons glo dat die Gees van God mense met gawes en insig toegerus het om die Woord van God te verkondig en ook neer te skryf. Menslike outeurs in diens van God as die eintlike Outeur.

Daarom dat die Bybel in waarheid onderrig. Jy kan vra: Maar wat is waarheid? Kan elkeen nie maar vir hom- of haarself besluit wat reg en verkeerd is nie? Nee, geensins nie. Die mens se verstand is deur die stukkende wêreld waarin ons woon en ons eie soekende gees verduister. Dink maar hoe jy jou tienerkind moet help keuses maak. Hulle verstaan nie eers waarom ouers “nee” sê nie. Vir hulle lyk dit of wat die groep doen goed en lekker is. Dit verander eintlik nooit nie, want die groep of die media, die mening van die algemene publiek lei ook volwassenes in hulle besluite.

Daarom dat God vir ons as sy kinders die pad wil aandui. Sy Gees het mense gelei om sy waarheid neer te skryf. Telkens lees ons: Wie ore het, moet luister! Ons kan ook sê: Wie oë het, moet lees! Wie verstand het, moet hom of haar laat lei deur die waarheid wat bo alle menslike soeke uitstaan.

In die geïnspireerde Skrif vind ons die volgende:

  • Die waarheid oor die Skepper.
  • Die waarheid oor die sondeval en verlossing deur Jesus Christus.
  • Die waarheid oor die pad van die lewe.
  • Die waarheid oor die ewige lewe.
  • Die waarheid oor die wederkoms van Jesus en die nuut maak van hemel en aarde.

Waarom dan die Bybel lees en oordink en toepas in ons lewe? Omdat dit my in die waarheid onderrig.

Gebed
Ons Vader, ons dank U vir die waarheid wat neergeskryf is. Ons wil daarvolgens lewe! Amen.

Pitkos
“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid” (Johannes 1:14).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Amen

Dankie Here vir U waarheid.
Die Woord is ‘n skatkamer vol kosbare juwele wat vryelik beskikbaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.