Gedagte vir die dag: Ek is nie teen alles en almal nie

Argieffoto (Foto: Azka Nurakli/Unsplash)

“Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles” (1 Korintiërs 13:7).

Skrifgedeelte
1 Korintiërs 13:7

Oordenking
Is dit die Bybelse manier om maar net teen dinge en gebruike te wees? Moet ons uitvind wat is verkeerd, en dan van vroeg tot laat daartéén wees? Is dit die somtotaal van ons geloofslewe? Ek dink nie so nie.

Ons word geroep om die lewe van Jesus agterna te leef, en om ons wêreld met sy teenwoordigheid vol te maak. Om maar net teen sekere mense, instellings, dinge en gebruike te wees, soos wat sommige mense maak, is glad nie om in die Here se wil te leef nie. Dit verander ons nie outomaties in navolgers van die Here nie. Wanneer ons so leef, verkondig ons eintlik maar net waarteen ons alles is. Verkeerd is verkeerd, maar reg is ook reg. En dit is reg wanneer ons stylvol en smaakvol die lewe van Christus hier in die wêreld uitleef. Dan hoef ons nie permanent bekommerd te wees oor almal wat droogmaak nie. Dan laat ons die Here se lig reg skyn.

Ons is die Here se getuies, nie sy arrestasiebeamptes en sy regters nie. Ons vang nie mense uit en vonnis hulle nie. Ons leef die lewe van Christus uit.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.