Gedagte vir die dag: Gelei deur die gees en nie gebind deur die wet

Argieffoto (Foto: Azka Nurakli/Unsplash)

“Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ʼn God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees ” (Jeremia 31:33).

Oordenking
In die tyd van die nuwe verbond, wat deur die offerbloed van Christus aan die kruis bevestig is, sal die wettiese voorskrifte van die ou verbond nie meer die verhouding tussen God en sy volk bepaal nie.

Hy beloof om sy wil in ons harte en gedagtes te plaas. “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” en is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ʼn God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees” (Jeremia 31:33).

Daarom is daar deur die apostels so ernstig gewaarsku (in Romeine, Galasiërs en Filippense) dat die Jode in die vroeë gemeentes nie weer na die wet sal terugval met die vereiste van die besnydenis, heilige dae en rein voedsel nie. Dit was die tyd van die vooraf skadu’s, wat in Christus hulle vervulling gekry het. In plaas van die ou wet wat op kliptafels geskryf was, in plaas van die godsdiens van uiterlike reëls en regulasies, kom hier iets heeltemal nuuts: God sal sy wil in die harte van mense skryf sodat elkeen afsonderlik die Here sal dien én sal wéét hoe die Here gedien behoort te word.

Vanuit die perspektief van die Christelike geloof bekyk, het hierdie era eers aangebreek met die uitstorting van die Heilige Gees in die harte van gelowige mense, die Gees wat die gelowiges in alle waarheid lei.

Ons moet altyd daarteen waak dat ons diens aan ons Here en sy kerk nie inhoudlose tradisie en wettiese dinge sal wees nie. Paulus skryf aan die Galasiërs: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Galasiërs 5:25).

Gebed
Ons Vader in die hemel, Seun en Gees, lei ons op die pad van vryheid in Christus, sodat ons (gelei deur U) sal weet hoe om ons lewenspad te loop. Amen. 

Pitkos
“En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag” (Efesiërs 4:30).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.