Gedagte vir die dag: Is al ons harde werk nutteloos?

Argieffoto (Foto: Patrick Tomasso/Unsplash)

“Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?” (Prediker 2:22).

Oordenking
Baie mense voel dalk net soos die Prediker: “Alles tevergeefs, net ʼn gejaag na wind!” Wat het hom so moedeloos gemaak? Hy het sin in die wêreld gesoek.

Hy was ʼn vermoënde persoon wat wou sê: “Ek was suksesvol, ek is tevrede met die dinge wat ek bereik het.” En tog het dit hom ontwyk. Hy sê: “Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde” (1:4). Alles kom tot niks nie, was sy gevolgtrekking.

Hy het met wysheid probeer om antwoorde te kry. Hy het verder groot bouprojekte aangepak, mooi tuine aangelê – maar ook dit was vir hom later nutteloos. Toe het hy hom by die dwase geskaar en sy tyd met partytjies en baie vrouens deurgebring, maar ook dit bring toe geen vervulling nie.

Hy het gevra: “Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?” (2:22). Jy werk hard en beplan met wysheid, maar jou erfgenaam kry alles sonder om ʼn vinger te verroer. Hy is bitter wanneer hy sê: Ek haat alles waarmee ek my afsloof.

Daar is geen vreugde daarin nie. Dit maak net nie sin nie.

Dalk voel jy ook so aan die begin van hierdie jaar? Jy sloof jou af, maar ander mense kom neem dit oor – en vernietig dit wat met groot moeite beplan en gedoen is. Jou lewe is pyn en ergernis, jou gesondheid is later tot niet, nagte deur bekommer jy jou oor jou sakeonderneming of plaas. Dan kom die teenspoed, of jy sterf en kan niks saamvat nie. Die nageslag of iemand anders kan geniet waarvoor jy jou lewe gegee het.

Daar gaan egter tog ʼn liggie aan. “Ek het ingesien dat dit ʼn gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?” (2:24-25). God gee wel aan sommige die genot om die vrug van hulle arbeid te geniet. Jesus Christus het die lig nog helderder laat skyn. Alles is nie so tevergeefs nie.

Ja, wel as jy sin in materiële dinge, jou winste of jou projekte soek. Jy moet erken dat jy nie daaroor beheer het nie.

Slegs daardie persone wat in Christus die God van die heelal leer ken het, kry insig in die sin van die lewe.

Arbeid is God se opdrag. Hy moet daarin sentraal staan. Nie eerstens vir eie gewin of om ʼn lekker lewe nie. Dien Hom en sy koninkryk in jou harde werk.

Bou jou norme in jou werksomgewing op sy bekende wil. Die norme van die goddelose wêreld bied geen blywende vreugde nie.

Die heel belangrikste: ontvang in geloof die gawe van die ewigheid by God.

Hierdie aardse bestaan is tydelik. Jesus Christus maak die deur na die ewige lewe oop. Dan sien jy meer as net die Prediker se “in hierdie wêreld-prentjie”. Jy besef dat die onvolmaakte en tevergeefse ons huidige werklikheid is. Jy, jou kennis, jou beplanning of harde werk gaan dit nie verander nie.

Vir elkeen wat sy taak tot eer van God en in liefde vir sy naaste verrig, is daar egter tog vreugde in sy werk. Jesus Christus gee hoop op die beter werklikheid wat net Hy op grond van sy versoeningswerk sal bring. Dit is die belofte van die ewige heerlikheid – nie deur mense vervaardig nie, maar deur die Vader en Seun en Heilige Gees nuut geskape.

Werk dus getrou. Werk in geloof wat op Jesus Christus gerig is. Werk tot eer van God. Werk met hoop. Ja, werklik, alles is nie tevergeefs nie.

Gebed
Ons Vader, laat u koninkryk kom en maak my dankbaar vir my daaglikse brood. Amen.

Pitkos
“As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs” (Psalms 127:1).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.