Gedagte vir die dag: Jy kry nie tien gratis sondes per dag nie

Argieffoto (Foto: Am Tran/Unsplash)

“As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ʼn lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak” (Romeine 12:1).

Skrifgedeelte
Romeine 12:1

Oordenking
Ek lees in die koerant van ʼn Rooms-Katolieke kardinaal in Australië wat tronk toe gestuur is omdat hy kinders gemolesteer het. Ook sien ek iewers ʼn nuwe boek van ʼn Franse joernalis oor al die sondes en toesmeerdery van die Vatikaan. Dit is goor. Godsdienstiges se droogmakery is niks lekker nie, of reg nie. Allesbehalwe.

Ja, ek weet elke gelowige het ʼn verlede, en elke sondaar het ʼn toekoms. Ons almal word egter vanjaar opgeroep tot ʼn hoër standaard deur die Here self. Ons het geen permit vir iets soos tien gratis sondes per dag nie. Glad nie. Ons woorde en dade moet sinchroniseer met God se Woord. Hy roep ons vanjaar op om vlagdraers te wees van sy Goeie Nuus. Dit is ʼn voltydse roeping. Daar bestaan nie iets soos tye wanneer ons tydelik uit God se diens is nie. Of na-ure se me time waar ons kan doen net wat ons wil nie. Nie een van ons het ʼn geldige verskoning om die standaard van die evangelie te verlaag nie.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.