Gedagte vir die dag: Luister na God se fluisterstem

bid-kerk-ri-ya-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay/ri-ya.com

“Die Heilige Gees sê toe vir Filippus: “Gaan na daardie man toe. Klim by hom op sy wa” (Handelinge 8:29).

Skrifgedeelte
Handelinge 8:29

Oordenking
Ons leef in ʼn tyd van geraas en gejaagdheid. Ja, “hurry-sickness” is aan die orde van die dag en geraasbesoedeling is ʼn ernstige probleem. Daar is baie min tye wat jy absolute stilte sal beleef. Dink maar aan die TV wat in die huis aan is, die radio as julle in die motor ry, selfs terwyl julle oefen. Ja, en almal se dagboeke is vol en almal jaag van plek tot plek en van afspraak tot afspraak. Daar is min tyd om stil te word, stil te sit en net te luister na die stem van die Here.

Filippus was op ʼn plek waar daar baie mense was. Die volgende oomblik hoor hy die stem van die Here wat vir hom fluister om na die woestyn toe te gaan. Dit klink heel onlogies, of hoe? Filippus is egter gehoorsaam aan die Here en hy gaan. Daar ontmoet hy ʼn man van Etiopië wat niks verstaan van die geskrifte van Jesaja nie. Filippus verduidelik alles aan hom en die man gee sy lewe net daar en dan oor aan die Here Jesus en word gedoop. Filippus word deur die Here weggeneem en die man is terug na sy land. Filippus se klein daad van gehoorsaamheid dra daartoe by dat die evangelie na Afrika versprei.

Jy moet baie bewus wees daarvan dat daar nie iets soos toevallige gebeure en insidente is nie. Daar is net “divine appointments”. ʼn Ontmoeting met iemand in ʼn winkel of sportspan kan die Here se manier wees om iets baie groters te begin. Jy moet sensitief wees vir die stem van die Heilige Gees en gehoorsaam wees soos Filippus. God sal die res doen.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.