Gedagte vir die dag: ‘Proe, groei, leef!

Argieffoto (Foto: Sixteen Miles Out/ Unsplash)

“Hiervoor moet julle genoeg geestelike melk inkry. Smag daarom na hierdie voeding soos pasgebore babatjies na hulle ma se melk sodat julle daardeur kan groei tot volwasse verlostes” (1 Petrus 2:2).

Skrifgedeelte
1 Petrus 2:2

Oordenking
Ek het nog nooit van iemand gehoor wat hulle kinders dreig dat daar moeilikheid gaan wees as hulle in die komende jaar nie ten minste drie of vier sentimeter groei nie. Goeie ouers weet baie goed wat kinders nodig het om te kan groei. Hulle weet kinders kort die regte kos en versorging.

Dit is ook wat ons nodig het as ons geestelik wil groei. Te veel gelowiges kla hulle groei nie geestelik nie. Of dat daar lang windstiltes in hulle geloofslewe is. Wel, dit is die ding: nie een van ons kan vanself groei nie. Gelukkig het Petrus die oplossing. Hy skryf in 1 Petrus 2:2 dat ons na geestelike kos moet smag soos was pasgebore babas na melk smag. Ons moet onsself voortdurend in posisies plaas waar ons in die Here kan groei. ʼn Studie van God se woord is presies die regte plek hiervoor. Psalm 119 jubel dit hardop uit dat elkeen wat die suiwer heuning van God se woord geproe het, nooit genoeg hiervan kan kry nie. Dit is suiwer lewe. Proe dit. Dan sal jy groei; dan sal jy regtig leef.

  • Hierdie oordenking verskyn in ʼn Veilige vesting deur Stephan Joubert. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.