Gedagte vir die dag: Raak digterlik oor God

Argieffoto (Foto: Am Tran/Unsplash)

“’U is in beheer van die see met sy onstuimige golwe. U laat hulle bedaar. Alle vyande, groot en klein, het voor u mag geswig. U verslaan selfs die magtige seemonsters. U het as wenner uit die stryd getree. U het alles gemaak. Dit is U sʼn. Alles, van die noorde tot die suide, het U gemaak. Alles behoort aan U. Die hoogste berge het U gevorm, daar kan ʼn mens sien hoe groot U regtig is. U is ongelooflik sterk; u mag is onberekenbaar” (Psalm 89:10-14).

Skrifgedeelte
Psalm 89:10-14

Oordenking
Dit is baie interessant om klein kindertjies dop te hou en die verskillende fases waardeur hulle gaan. ʼn Baie goeie vriend van my het ʼn seuntjie wat al deur die ‘Spiderman-fase’ is en nou deur sy ‘army-fase’ gaan. Jy sien dit die hele tyd in sy kleredrag en die plakkers wat sy pa en ma moet koop.

Etan, die psalmdigter, skryf ʼn gedig. Hy raak liries oor die werklike Sterkste en werklike Beste. Hy sing liedere oor die Een wat nie ʼn gelyke het nie – die Een wat die Skepper-God is, maar ook jou op jou naam geroep het en jou met ʼn doel gemaak het. Hy sing en skryf oor die Een wat mens geword het om jou van jou sonde te bevry. Hy dig oor die God wat jou uniek en met ʼn spesifieke rede gemaak het. Hy weet God het die hoogste en elke ander berg gemaak. Hy besef God is in beheer van elke golf en die hele see. Hy is bewus dat die groot en wonderlike God hom gemaak het en hom beskerm en oppas.

Is dit nie tyd dat jy digterlik raak oor jou God nie? Is dit nie tyd dat jy ook lofliedere skryf en sing vir die almagtige God nie? Hy het jou lief – dis genoeg rede om digterlik te raak. Dis genoeg rede om te sing sonder ophou. Etan besef dat God my en jou wenners maak; daarom kan ons skryf en sing.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.