Gedagte vir die dag: Sing tot eer van God

Argieffoto (Foto: Jon Tyson/Unsplash)

“Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God. O koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela” (Psalm 68:32-33).

Skrifgedeelte
Psalm 68:32-33

Oordenking

Die 1936-beryming van Psalm 68 eindig met “U loof ons, Heer, der here”, en aan die einde van die 2001-beryming sing ons “Kom, loof Hom alle volke”.

Albei hierdie pogings vat iets raak van waaroor dit in hierdie Psalm gaan: As die digter nadink oor hoe die Here deur die loop van die geskiedenis sy volk gelei het, en hulle ʼn plek tussen al die volke gegee het, sing hy ʼn lofsang tot eer van die enige, ware God, en roep hy alle volke op om sy almag te erken en Hom te loof. Dit is waarom dit so goed is om die magtige werke van God uit sy Woord te ken, en om ook in ons eie tyd en lewe raak te sien hoe Hy red, troos en sorg. Elkeen wat Hom so ken uit wat Hy gedoen het, kan nie anders as om Hom te loof en te prys nie.

Hy is die God van die Verbond wat vir Hom ʼn volk gekies het, die vyand verslaan het, en ons toe in Jesus Christus sy eiendom gemaak het. Ons kennis van wat Hy al gedoen het, gee ons juis ook die vrymoedigheid om soos die digter van Psalm 68 te bid dat Hy sy mag sal wys sodat alle volke sy heerlikheid sal sien en Hom sal erken en prys. As Hy optree, eer selfs Egipte en die Kussiete Hom.

Kinders van die Here voel nie magteloos teenoor die bedreiging van ongelowiges en die aanslae van die duiwel nie, want ons ken God as die Beskermer van sy volk. Ons kla nie net oor al die sedeloosheid en kerkloosheid nie, ons bid dat Hy sal wys dat Hy magtig is. Ons sien daarna uit dat almal Jesus Christus as Here en Oorwinnaar sal leer ken, en saam met ons ʼn lied tot sy eer sal sing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.