Gedagte vir die dag: Vertel van God se goedheid

Argieffoto (Foto: Helena Lopes/Unsplash)

“Hy is daar weg en het vir die mense in daardie streek (wat die mense Tien Stede genoem het) gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Die mense se monde het oopgehang van verbasing oor sy verhaal” (Markus 5:20).

Skrifgedeelte
Markus 5:20

Oordenking
Talk is cheap. Dit is veral waar as jou woorde en dade nie ooreenstem nie. Baie mense praat maklik en baie. Dit is asof hulle soos ʼn sneltrein is met woorde, en gewoonlik is dit sommer onsamehangend en ʼn spul twak. Woorde gaan oor hulle lippe soos ʼn masjiengeweer in hoogste versnelling. Daar is egter niks lekkerder as om na iemand te luister wat sin praat nie. Daar is niks wonderliker as om na iemand te luister wat met gesag oor ʼn saak praat nie. Dit is dan wanneer jy baie leer en baie vrae kan vra.

ʼn Man was van die duiwel besete. Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eers in kettings vasbind nie. Hy het met tye bloedstollend gegil en homself ernstig beseer. Jesus se pad het met dié van die man gekruis. Jesus het rustig en beslis die demone aangespreek en hulle beveel om in die varke daar naby in te gaan. Die varke het mal geword en in die see verdrink. Die man was daarna rustig en het met Jesus gesels. Jesus gee die man die opdrag om na sy huis en sy familie te gaan en hulle alles te gaan vertel. Hy moes gaan getuig oor die goedheid van die Here.

Die man het gedoen wat Jesus gesê het: Hy het gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Dit het die mense se monde laat oophang van verbasing. Ja, ook in jou lewe het die Here al so baie gedoen. Jy het baie verhale van God se goedheid om te vertel. Hoekom langer stilbly? Hoekom langer skaam wees? Vertel ander van God se grootheid en goedheid vir jou.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.