Gedagte vir die dag: Vir God is elkeen wat op Hom vertrou belangrik

Argieffoto (Foto: Am Tran/Unsplash)

“Jabes was meer geëerd as sy broers; en sy moeder het hom Jabes genoem en gesê: Ek het met smart gebaar. En Jabes het die God van Israel aangeroep en gesê: As U my ryklik seën en my grondgebied vermeerder en u hand met my sal wees en U die onheil afweer, sodat geen smart my tref nie. God het laat kom wat hy begeer het” (1 Kronieke 4:9-10).

Skrifgedeelte
1 Kronieke 4

Oordenking
Jabes se gebed in 1 Kronieke 4:10 is onlangs deur baie mense “ontdek” en ʼn groot ophef word deesdae daarvan gemaak. Hierdie gebed word selfs deur sommige mense soos ʼn tipe “toorformule” hanteer wat wondere in hulle lewens moet bewerk. Die Bybel leer ons egter nooit toorwoorde nie. God wil ons harte hê, nie ons woorde nie. Tog is die Kronis se aantekeninge oor Jabes wel belangrik, aangesien hiermee ʼn deurlopende tema van die boek aan die orde gestel word. Jabes, wat met smart in die wêreld gebring is, het ʼn geseënde lewe gehad omdat hy op God vertrou het. Israel as volk is as’t ware ook met smart in die wêreld gebring (dink maar aan Egipte, die woestynreis en die baie teenslae van die Rigtertyd). Dit was alleen aan God se genade te danke dat hulle as volk bestaan het. Die Kronis toon telkens aan dat dit slegs met Israel goedgegaan het wanneer hulle op God vertrou het. Die hele boek is daarop gemik om die Jode op te skerp dat hulle altyd op God alleen moet vertrou. Dit is egter nie slegs die volk in geheel wat seën ervaar wanneer hulle op God vertrou nie. Die geslagsregisters toon dat dit vir elke individu geld. Elkeen wat op Hom vertrou, is vir God belangrik. Hulle name staan in sy Boek opgeteken. Selfs mense wat net in sy diens gesing het, staan opgeteken (1 Kron. 6:31-47). Waar jy vandaan kom, is nie belangrik nie. Wat jy in jou lewe bereik het, is nie voor God belangrik nie. Wat belangrik is, is dat jy op God vertrou en alles wat jy in jou lewe doen, in afhanklikheid van Hom doen. Jabes is ons hierin tot voorbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Baie dankie soms moeilik om te vertrou,God is altyd daar en ek weet hy kyk na ons en will net die beste he soms besef ons net nie op die oomblik dat die beste is nie altyd wat ons will he nie. maar wat God vir ons will he, ons moet op hom bly vas staan en vertrou God is met ons en soos n kind glo hy sal daar wees op die regte tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.