Gedagte vir die dag: Wat God besluit, doen Hy

Argieffoto (Foto: Akira Hojo/Unsplash)

“Die Here van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand” (Jesaja 14:24).

Oordenking
Ons bely soms makliker as wat ons bereid is om te aanvaar, wie God is en wat Hy doen. Soos die belydenis in die Twaalf Artikels: “Ek glo in God, die Vader, die almagtige. Erken ons werklik sy almag en sy reg as Almagtige om sy besluite uit te voer? Vertrou ons Hom in tye van nood om te doen wat vir die mens onmoontlik lyk?

Vergelyk hierdie belydenis oor God se almag, met die profeet Jesaja se uitspraak: “Hy het besluit, wie kan dit verydel?” Dit is mos om ALMAGTIG te wees. Niks kan God se besluit keer nie. Wat Hy besluit, doen Hy.

Ons noem dit ook sy soewereiniteit. Hy staan onder geen ander gesag nie. Toestemming hoef Hy nie te vra nie.

Die profeet Jesaja stel die almag van God teenoor die magtige heersers van sy tyd. Die Assiriërs was so magtig destyds dat die volk van God nie gedink het dat hulle ooit onder hulle mag sal uitkom nie. Maar God kondig sy oordeel oor Assirië aan met die uitspraak: “Wat ek besluit het, kan niemand verydel nie!”

Ons beleef vandag ook die magtiges, die goddeloses, die vervolgers van die kerk, die onderdrukkers van die armes en die ontkenners van jou regte as volk en van jou geloof. Ook in hierdie tyd kan ons vashou aan ons belydenis op grond van God se uitsprake: Hy is almagtig. Hy sal regverdiglik oordeel. Hy sal verlossing gee, soos wat Hy beloof.

  • Sy almag troos ons, want sy wil is goed.
  • Sy almag maak ons nederig, want ons besef sy grootheid.
  • Sy almag gee hoop, want sy besluit lei tot die finale verlossingsdag, wanneer alles nuut gemaak sal word.

Laat ons dus nie opstandig wees teenoor sy almag nie, maar Hom daarvoor eer en vertrou.

Laat ons ook nie kleingelowig wees nie, want Hy doen wat Hy beloof.

Gebed
In ons kleinheid bely ons u almag, o God. Ons vertrou U vir vandag en tot in ewigheid. Versterk ons geloof in tye van twyfel en swakheid. Amen.

Pitkos
Die Here die Almagtige het ʼn eed afgelê: Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur (Jesaja 14:24).

  • Hierdie kort oordenking is saamgestel deur dr. Callie Opperman (Emeritus, Gereformeerde Kerk Windhoek-Suid). Dit vorm deel van Opperman se Manna en Kwartels vir die Gees wat in die Deo Gloria Kuberbrief Die oordenking word met toestemming van die skrywer op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.