Gedagte vir die dag: Geskenk van genade

breek-vry_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het, breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.” (Efesiërs 4:22 – AFR83)

Genade is aan ons geskenk, maar genade het gekom met ʼn prys en daarom mag ons dit nooit goedkoop maak nie. Die genade wat ons van ons Hemelse Vader ontvang het, het Hom die lewe van sy Seun, Jesus Christus, gekos.

Die konsep van genade is so simplisties, maar terselfdertyd so diepgaande. Simplisties, in die opsig dat dit onverdiend aan jou geskenk is. Diepgaande, in die opsig dat die prys daarvoor betaal, onoortrefbaar en sonder gelyke is. Die bonatuurlike krag van sy genade kan jou vanuit die diepste put van sonde en dood neem en op die verhewe voetstuk van vryspraak plaas. Daarom kan ons nie liggeraak deur sy genade deur die lewe voortdrentel nie, maar ons eerder met dankbaarheid daarop toespits om die meeste van dié nuwe lewe ín Hom te maak.

Genade skenk aan ons lewe en onverdiende guns, maar goddeloosheid bring oor ons vervloeking en die dood. Jy is geskep in die beeld van God en dit is die hart van die Vader dat jy heilig lewe, net soos Hy heilig is. Hy wil dat jy die meeste maak van die pragtige mens wat jy is, deur volkome in sy wil te leef en te bly.

Verandering begin in jou hart en jou verstand. In jou hart is die saad van sy liefde en sy waarheid gesaai; gee dit water deur sy liefde daagliks te oordink en tyd af te sonder in sy teenwoordigheid en sy Woord. Laat dit die lig wees op jou pad, na jou “beloofde land”, sodat jy nie struikel oor die klippe van onkunde en onvergenoegdheid nie.

Laat Jesus toe deur die werking van sy Heilige Gees, in en deur jou, om jou gees en jou gedagtes te vernuwe. Pak elke dag in liefde, vrede en selfbeheersing aan. Kies doelbewus om nie hardkoppig te wees nie, maar in alles jou vlees te belyn met die Heilige Gees. Verruil die mag van gewoonte vir die krag van gehoorsaamheid.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.