Gedagte vir die dag: Getrou tot die einde

reenboog_perde_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. (2 Timoteus 4:7)

Paulus het geweet sy einde is naby. ’n Vorige keer is hy wel uit ’n Romeinse tronk bevry, maar hierdie keer kon hy aanvoel dat dit nie weer gaan gebeur nie. Ons weet dit omdat hy self sy lewe beskryf as ’n offer wat gebring word: “Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as ’n offer aan God. Die tyd van my dood is op hande” (2 Tim. 4:6).

Paulus het werklik “die wedloop voltooi”. Hy het die grootste deel van die destyds bekende wêreld deurreis om die Goeie Nuus te versprei. Hy het briewe geskryf, vir kerke gebid, vals leraars bestry, die Christelike geloof verdedig, vervolging en lyding verduur, en sou nou uiteindelik met sy lewe boet vir sy geloof. Die wedloop is dus afgelê, die wenstreep was in sig, en deur dit alles het hy enduit gelowig volgehou.

Wat kan jý sê van jou eie geestelike lewe? Sê nou vandag is jou laaste dag. Kan jy sê dat jy die wedloop goed gehardloop het? Of dink jy dat jy iewers in die toekoms getrou sal wees – wanneer jy meer tyd en minder stres het? Sal jy die goeie stryd stry – wanneer mense nie so vyandig teenoor jou staan nie? Hoop jy maar net dat die einde van die wedloop nog baie ver lê?

Onthou dat jy nie die dag en tyd weet wanneer God jou huis toe gaan roep nie. Vandag is die dag om jou saak met God reg te maak sodat wanneer jou laaste dag aanbreek, daar ook van jou gesê sal kan word dat jy getrou gebly het tot die einde toe.

As jy vandag sou sterf, sal mense van jou kan getuig dat jy die goeie wedloop voltooi het, die wenstreep bereik en gelowig enduit volgehou het?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

GL ·

Dankie Here U is my Koning, Skepper van die heelal en alles daarin. Ek glo in U alleen. Amen.

Ben ·

Gee dat ek dieselfde gebed sal uiter aan die einde van my lewe. Amen

Hallelujah ·

Dankie Here vir nog ‘n dag wat U my gun. Dankie vir my mamsi, my familie en almal. En loof almal wat in U glo my Here en wat weet as daar iets gebeur hulle die ewige lewe saam met U sal he. Ek buig voor U neer en se net dankie.

Maria ·

2 TIMOTEUS 4:7 Laat my gebede verhoor word om my wedloop kan voltooi Amen

Attie. ·

Here, wees met almal wat vandag in aanhouding is, of hulle skuldig is of nie. Dra hulle tot by die eindstreep soos wat U die een skurk aan Die Kruis gedra het. Nie een van ons is in die misdadiger se skoene nie en nie een van ons kan die eerste klip optel en gooi nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.